Diverse

KKNK – Dis ‘n fees!

Vandag het ek net weer besef, afgesien van ’n groep jong kunstenaars wat jaar ná jaar vir Theuns, Nicholis en kie. probeer na-aap, het ons werklik baie talent in hierdie land. Soos Emo Adams – g’n van Kampsbaai nie, maar van Mitchells Plain, soos hy self sê.

Wat daai man als met sy lyf (iets tussen Elvis en die Kaapse Klopse) en stem op die verhoog doen, is ongelooflik. Jy sien sommer dat hy as jong seun op die verhoog saam met David Kramer en Taliep Petersen grootgeword het.

Hy sê die eerste keer toe hy by die KKNK was, het hy nie ’n enkele fan gehad nie. Wel, dít het nou verander, want nou wil die fans hom net nie laat gaan nie. “Julle maak my skoon skaam,” was sy reaksie op ons gille van Nog! Nog!

“Oom” Ollie Viljoen, Anna Davel en SARIE se saxofoon-speler, Lou-Ann Stone, se Blues en Susters was toe fantasties. Ollie sê hulle lotjie was maar gespanne voor die tyd, want Dinsdagaand was hul eerste konsert en hulle het nog vroeër die middag so ’n bietjie geoefen! Skoon verbaas was hulle toe daar ’n staande ovasie en ’n encore was, want “jazz op ’n fees is maar ’n moeilike ding”, sê Anna. Hulle sluit toe af met die mooiste verwerking van dieselfde liedjie as waarmee hulle begin het: “My Sarie Marais”!

As ek weer ’n Oscar kon uitdeel, sou ek vir Ollie een gegee het. Om daardie man agter die klavier en sy trekklavier te sien is ’n belewenis. Op sy ouderdom (ek glo hy’s al in sy 70’s) hou hy meer as by by die jong kunstenaars saam met wie hy speel. Hy “mag maar” soos ons hier op die fees sê! Valiant Swart, saam met wie Ollie ook optree en al ’n CD gemaak het, het laas vir my gesê “Oom Ollie” het soveel energie, hy maak hulle jongetjies moeg! As daar gekuier word, is “Oom Ollie” voor in die ry.

Maar dis die jong Ray Dylan wat vanjaar die meisie-harte hier op Oudtshoorn laat warm klop. Elke jaar lewer sy “ster” op. Ek onthou toe Nicholis Louw met sy trekker-skoene (waarin hy juis een jaar op die verhoog geval het) hot stuff was, toe was dit die mooie Bobby van Jaarsveld. Dié jaar is dit Ray met sy blonde haredos en treffers “Jessica” en “Hokaai Stoppie Lorrie”. Elke keer as hy die mikrofoon à la Elvis bespring, lig die dak so ’n entjie.

Minder mense is daar vir seker vanjaar op die fees, maar dit lyk asof almal wat hier is met ’n doel hier is: om shows te sien, ons kunstenaars te ondersteun en so ’n bietjie van resessie en depressie te vergeet.

Groete,
Michélle

NS: Warm nuus is dat daar vir later vanjaar ’n Klassieke Fees op Oudtshoorn beplan word. Een waar kos, kuns, wyn en musiek bymekaar sal kom. Ek proe al sjokolade, kaas en likeur. Almal hier praat juis oor moooi, die kunsgalery, koffiewinkel en plaasstal so 4 km buite Oudtshoorn. Dis juis waar die stuk Ararat in die veld opgevoer word!

Net ’n laaste ding: Steve se show was gisteraand en mense het letterlik om die blok tougestaan om in te kom. Al wat ek tot dusver gehoor het, is dat die media maar weer deurgeloop het!