Diverse

Dit laat my wéér kyk. Die eenvoudige laventel-foto.

Daar’s hawedorpies met rykmanseiljagte wat soos sardyntjies ingeryg lê, palmbome en manjifieke ou geboue, gesellige eetplekke, rooi dakke, silwer visse, en dan die mandjie laventel. Handjies vol, saamgevat in bloupers kantnet en vasgebind met ’n purper satynstrik. Elke bondeltjie afgerond met ’n kaartjie waarop netjies met die hand geskryf is. ’n Verleidelik mooi prentjie.

Jy rúik eintlik die laventel.

Niemand hoef my veel meer te vertel van die mens agter dié mandjie nie. Want sulke kreatiwiteit dra die boodskap duidelik oor: Hier is passie, iemand wat omgee. En die foto, wat die laventel se diep perse vasvang en jou oog lei na die glimmende satynstrikke, verklap die persoon agter die lens. Dis iemand wat stilstaan om te kyk, en te sién. Iemand wat nog verwonderd is oor die klein dingetjies in die lewe. Aandag aan detail. Dít is juis die verskil tussen goed en briljant; gewoon en buitengewoon.

Net onlangs het SARIE in Pretoria, Bloemfontein en Kaapstad glansgeleenthede gehou waar lesers ons rubriekskrywers – Nataniël, André le Roux, Marita van der Vyver en Izak de Villiers – van nader leer ken het. Izak het van sy ryk gedigte voorgelees, ons het gelag vir André se stuitighede oor die verhouding tussen man en vrou, en saam met Marita onthou van Griet se emosionele reis in haar wenboek Griet skryf ’n sprokie. Vir Nataniël se unieke stories en sê-goed het ons gelag én gehuil.

Dit was duidelik: Hier is woordmeesters op hul beste. Hulle kies elke woord, een vir een (byna soos ons sjokolade uit ’n duur boks uitsoek) en plaas dit waar dit pas. Perfek soos in ’n legkaart. En dís die verskil tussen skryf, en goed skryf. Daardie eindelose, noukeurige aandag aan detail. Geen woord is te klein en geen sin te kort om nie die beste aandag te kry nie.

’n Brief van ’n SARIE-leser, Hettie van Rhyn van Wapadrand, wat een van ons lesersdae bygewoon het, het gewys net hoe fyn baie mense kyk. Sy beskryf die inspirasie van elke blom op die tafel, die geur van koffie wat haar vroegoggend begroet het, die energieke atmosfeer in die saal en die silhoeët van Nataniël se kaal kop teen die lig toe sy ná sy vertoning besluit het om soos ’n atleet agter hom aan te storm om sy skaars handtekening vir haar dogter te probeer kry.

Ware verleiding lê in klein goedjies soos dié. ’n Keurig gedekte tafel, die besondere lirieke van ’n liedjie, die afgerondheid van mooi verpakking. Dis soms net ’n toevallige gedagte, wat met omsigtigheid uitgebrei word, wat uiteindelik ’n blink idee word. Dis ’n sekonde van inspirasie wat vertroetel word, en dan stap vir stap omskep word om oomblikke en ure se plesier te verskaf.

Suksesvolle mense is ook dié wat nie soseer meer as ander doen nie, maar wel élke taak, élke keer met passie en presiesheid aanpak. Wat aandag gee aan die fynste besonderheid van ’n projek, klein en groot. Hierin lê die lekkerte vir ons almal. Want wat’s beter as om te weet dat jy iets werklik goed kan doen – keer op keer.

Jy begin net by die begin: By die inspirasie van elke plan en die sekondes en minute van jou lewe.

Michélle van Breda

SARIE  Januarie 2008