Diverse

Eat, Pray, Love. Ditto: Dag 10 – Bologna

Op pad stasie toe, rammel ek vir oulaas ’n gelato-rympie af toe ek moes kies tussen: bacio (sjokelade-hazelneut); pistachio (pistasie); cocco (klapper); fior di latte (flower of milk); fragola (aarbei); mela (appel) en fico (vy).

Bologna – die slimmes en die vettes

Ek reis per sneltrein vanaf Firenze na Bologna. Blêrrie duur ook. Maar die rit duur darem minder as 40 minute, en ek begin solank te kwyl by die vooruitsig van wat ek gaan eet. Bologna word bestempel as die stad van die vettes (la grassa) én geleerdes (la dotta) – die gastronomie is wyd bekend plus die oudste universiteit in Europa is hier gesetel. Bologna is die hoofstad van die Emilia-Romagna-streek wat bekend is vir balsemasyn vanaf Modena; parmigiano-reggiano-kaas asook parma-ham vanaf Parma; gerookte vleise soos prosciutto en mortadella; vars pasta; Lambrusco-bruiswyn; ensomeer. 

Maar die historiese hartjie van dié stad het ook ’n derde bynaam – la rossa. Anders as in Rome en Firenze, is die vensters hier nie verskuil agter groen houthortjies nie. Nee, dit het plek gemaak vir bruin-rooi blindings; die oker mure is verruil vir skakerings van baksteenbruin. Die sypaadjies, getooi met marmerbrokkies op die loopvlakke, is breë stoepe met rooi dakke wat die wandelende inwoners teen die seisoene beskerm. Bologna se sjiek palet is pure karamel, rooibostee en pekanneut.

Die stad is soos die speke van ’n wiel uitgelê; ’n magdom van torings versier die horison. Minder as twee dosyn van die oorspronklike 200 torings het oorleef, en my hotel Garisenda is digby die bekende Twee Torings, waarvan die een leunende torre Garisenda heet.

My oë was groter as my maag…

Honger vat ek die pad na die naaste aanbevole trattoria en neem sitting in. Ek bestel water en vino en dan mortadella met Toskaanse brood. Ook vars pasta met sampioensous. Die kelner bevraagteken my bestelling; wat weet hy in elk geval van my eetlus af? ’n Enorme houtbord met die brood, vleis en kaas daag op – dit kan maklik ’n gesin voed! Plus natuurlik die pasta. Ek eet ’n barshou, maar moet later hênsop – dit is net té veel! Ek wens Janine was hier om te help eet. Die kelner glimlag met genoegdoening in sy mou.

Verken Bologna…

Omdat dit ’n studentedorp is, is daar orals jong mense op fietse te sien; rye en rye fietse staan te huur. Die res van die gemeenskap is sjiek uitgevat in die mooiste snyerspakke en stylvolle snitte. Ek gewaar perfek-gemanikuurde vroue stap, staan en selfs kordaat ry op fietse met ’n skyf pizza of gelato in die hand! Ook mans wat aan die trap is, met selfone styf teen die oor. En dít te midde van die swerms alomteenwoordige vespas, bromponies en motors!

Ek besoek ’n supermark om ’n ligte aandete aan te skaf: bier, neute, jogurt en sjokolade. Dan is dit tyd vir poeding en op aanbeveling van ’n vriendin in Kaapstad, betree ek ’n chroom-en-glas gelateria. Bologna het baie minder roomyswinkels as die ander stede wat ek en Janine tot dusver besoek het. 

Die stad word saans omgeskep in ’n feetjieparadys met verligte geboue, vensters, pleine en torings. Na my omswerwinge gaan ontspan ek in my hotelkamer. Dit is skandalig om TV te kyk, maar ná my Italiaanse fliek in Firenze wil ek meer sien. Mama Mia vertoon op TV en gelukkig verstaan ek dit ten dele. Tussendeur blaai ek deur ’n stapel Italiaanse tydskrifte. Ek slaap rustig, versadig en vol van die stad van die vettes.

 

Deel 10 Kaapstad

’n Fiets, én die gebrek daaraan, het ’n kortstondige impak op my psigiese welsyn gehad. Die gevolge van eksman se beroerte was meer langdurig van aard.

Dit was nie asof niemand omgegee het nie. Inteendeel, soveel mense het uitgereik en ook gebid vir ons. My moeder was en is ’n bankvas rots wat my geestelik, emosioneel, finansieel, en fisiek ondersteun. Tia en Isabel het pakkies vol verrassings gestuur; Joe en Janine het geld en geskenke gegee en Chris het ’n dek by ons huis kom bou.

Jacques en Irma het vlugmyle en Hermanus-kuiers gereël. Bliksem en Christel het opbeurende pos en geskenke gestuur. Marlene het fisioterapie toegepas en my gebedsgenoot geword; Sakkie en Rona het gereeld by ons kom woon en ons voorsien met broodnodige middele asook geestelike pitkos.

Die Van Zyl- en Walters-gesin het ons tuis onthaal én naweke weg saam spandeer. Die Greeff-familie het kom kuier. Elize het my aan bergfietsry en Leeukop bekend gestel. Yvonne het my bederf met koesterende kosse. Denzil en sy gesin het saam gaan kamp en Denzil het gehelp met verbouings by ons huis. Die Stevens het my eksman na Angus Buchan se Mighty Men-konferensie geneem.

Ek kon by Brad en Anree gaan skuil in tye van emosionele nood. Mia het my aanbeveel vir ’n werksposisie; Annamari het saam gaan spin en Birgit-buurvrou het saam gebraai. Lindy het my aangemoedig om ’n blog te begin. Eers het Gerald en toe later Estelle, my eksman gehelp met ’n werk. Die boekklub was ’n maandelikse wegkomkans; Chris en sy kinders het vir vyf jaar elke Desembervakansie saam met ons êrens gaan afpak en ons tirades verduur.

Talle het wetend of onwetend die juk verlig. Die selgroep het saam gebid, alhoewel hulle onbewus was van die omvang van my lewenswroeging. Ek het met tye oopgemaak in dié binnekring, maar meestal het ek my gevoel uitgedruk in my blog en nuusbrief. Hieronder teem ek in my nuusbrief oor my fiets.

 

22 Mei 2008
It is not about the bike…

…but without it I cannot cycle! I have learnt on Sunday, following Dirtopia, that my bike, Chris’s old bike that he kindly gave to us, is history (op die koffie, oor die muur, kapoet, koebaai Meraai). The crank, derailleur, jockey, front and back cogs and who knows what else, are all worn out, beyond repair. The shock is completely worn. I cannot afford to replace all these parts at the cost of R2 000, neither can I afford a new bike of R3 000. I just had to wipe my tears, fetch the bloody bike again from the bike shop, and make do. Craig from our cell group, a keen and able mountain biker, has investigated and advised that I should focus on replacing the essential parts first, and that he will help me with some parts from his old bike. But for now all races, and my prime sense of sanity, are a disillusion.

Janine stuur in die winter van 2008 my onderstaande skrywe wéér na almal op my nuusbrief-adreslys:

06 Julie 2007

Kommodityd

Ons is, ons wees, ons leef. Ons beur bymekaar verby op die sypaadjie van die lewe. Ons asems jaag, ons slurp vinnig ons koffie, ons gooi haastig munte in die bergie se hand. Dit stil die skuldgevoel in ons, die vae gevoel van onrus dat ons mekaar afskeep, onsself afskeep, God afskeep… Heen is die dae van tuisgebak, geselsbriewe op lekkerruikpapier, vroetel in die tuin, blare-tee en opdaag by vriende sonder ‘n afspraak. Kom ons neem die pen op, stuur ’n uitnodiging, tel die telefoon op, en maak tyd.    

Met bogenoemde e-pos orkestreer Janine die volgende verrassing vanaf my ouers en vriende:

Carla, thank you for your continued reminder of the importance of friendship and that you always have time for everyone of us. Each one of your friends knows through your actions, enthusiasm and commitment that they are special in your life. We have jointly decided to help you back on your bike. Our combined monetary donation of R4 000 is a sign of our appreciation of your friendship.

May your days be blessed with stiff legs, short breath, blisters on your hands and a sore bum! All our love!

Ek is SO geseënd dat God ongelooflike dierbares oor my lewenspad gebring het. Jacques help my om ’n bielie van ’n fiets te bekom. Wat ’n geskenk! Buiten geld, gee ander wenke en tweedehandse fietsryklere, Denzil kom help met die opstel van my fietsrekenaar, Janine koop vir my brille, Joe stuur ’n vloerpomp, Elize neem my saam na wedrenne toe, my eksman koop ’n valhelm en fietsrak en Jacques rus my vir my eerste Argus-resies toe met klere, raad, pille en poeiers.

 

19 Augustus 2009

Weskus

Twee weke gelede besef ek dat ek drasties my bergfietsvaardighede sal moet opskerp as ek nog ’n wedren of twee in die huidige bergfietsseisoen wil inpas. So vat ons toe die pad Melkbosstrand toe en stop op pad by Derde Steen, waar ’n skip onlangs gestrand het.

En alle magtig, dit lyk soos ’n Woolies-uitverkoping! Elke Jan Rap en sy maat is teenwoordig, van ‘bikers’ met hul kolonie maanhaar-en-leer-manne, tot pikswart ‘Goths’ in hul makabere monderings op die wit strand. Ek eien ’n bloedrooi Ferrari, ’n dame in ’n rystoel, fotograwe met lang kameralense, baldadige kinders, honde aan leirieme, ensomeer.

Ons verkas weer, en bevind onsself spoedig in die Koeberg-natuurreservaat. Manlief gaan solank rugby kyk by Denzil terwyl ek ongestoord die 31 kilometers neffens die koue Atlantiese kus verken tussen die menigte zebras, elande en springbokke.

Genadiglik het die fietsry my die teleurstellende rugbywedstryd laat vryspring. Ons hou maar styf duim vas vir die komende Saterdag se wedstryd.

Viva Bokke!

En Koeberg-bokke…

  • Talana

    Ai Carla, dit is so ‘n stryd om jou gedagtes te lees – aan die een kant kan ek nie wag om saam met jou verder deur jou reis in Italië te abba nie, maar aan die ander kant is dit soms so moeilik om van jou swaar tye in Kaapstad te lees.

    Wat ek egter wel weet is dat dit jou in ‘n pragtige mense geskoei het.

    Baie dankie vir die deel!!!

  • Gebeure van 2011 en 2012: Saul Mofaz in die lente van 2011 Israelse Eerste Minister is – sy regering 14-15 maande as wat dit neem – en soldate Moslem bevelvoerder van Imam Mahdi – Israel se vernietiging – die koning van Jordanië Sirië Irak vasgelê om die somer en herfs 2011 – hy veg met Turkye – die einde van die somer 2011 – en sy soldate in die woestyn tussen Mekka en Medina is plat op die aarde – aan die einde van 2011

    Jordanië en die Westerse troepe – is betrokke in Egipte – Saoedi-koning sterf in die mag stryd begin – -45P/Honda-Mrkos komeet meteore in 14-20 Augustus 2011 te gaan met die land – die grootste in in Oos-Asië kom neer26 Augustus 2011 ‘n groot ster in die lug-Ooste om te ontplof drie of sewe dae tekens van brand te wys en dit is die Imam Mahdi – In die lente van 2011 aardbewing in die noorde van Israel kan gebeur – Jesus tussen die maande van Mei tot Augustus 2012 word getoon – en Imam Mahdi sal help om geregtigheid te vestig in die wêreld

    http://emam-mahdi-1390.blogfa.com/

  • Chris Stevenson

    Carla, your writing is wonderful.You always put on such a brave face during some very tough times and carried a huge burden that you can now unpack and make sense of.You are so strong.Well done.Lots of love.