naamgenoot_
Diverse

Eat Pray Love: Ditto – Dag 11 Bologna

Oornag het Bologna my hart gesteel.

Dié sjiek stad is besaai met mans in snyerspakke en vroue wat ruik na duur parfuum, en die blinkste ontwerperswinkels verfraai die strate. Ek neem meer foto’s van vertoonvensters as enige ander besienswaardigheid! En anders as in Firenze, is die honde wat hul eienaars hier aan hul neuse rondlei, almal regte brakke en nie opreggeteelde snobs nie.

Interessant genoeg rook die meeste mense. Tien teen een omdat hier minder toeriste en gevolglik meer plaaslike inwoners is. Bologna is ook rolstoelvriendelik en dit is glo een van die top tien stede in Italia wat lewensgehalte betref. Die stad is ryk aan geskiedenis, kuns, musiek en kultuur. En dis wat ek in Italië wou meeleef – ervaar hoe die plááslikes leef.

Nie dat mens in een vakansie die kultuur van ‘n ander land werklik kan opslurp en verteer en verstaan nie. Maar ek probeer. So soek ek dan ook na gladiator-sandale wat al die vroue in Italia dra. Maar oral word ek met spyt meegedeel dat my voete te groot is. En het dit nou vir jou lank gevat om in Italiaans te verduidelik wat my skoengrootte is! Staan sterk vrou, jy is darem ‘n outydse ses voet lank, troos ek myself.

Bologna – kleurryk, divers en fantasties!

In Bologna merk ek vir die eerste keer groot gesinmotors, asook luukse sportmotors op. Die fabrieke van Maserati, Ferrari, Lamborghini, Ducati en ander kom hier voor. En Nutella-sjokeladesmeer word ook hier vervaardig – wat ‘n jammerte dat my besoek so kort is! Ai, en dan koswinkels, koekwinkels, lekkerwinkels, kaaswinkels en deli’s wat hier by die dosyne voorkom. Geen wonder die lewensgehalte is so hoog nie. Hully blý so lekker, want hulle éét so lekker!

Die stad met die wielspeek-uitleg word plat gestap. Ek geniet middagete al fresco buite ‘n restaurant op die sypaadjie: ‘n slaai met frikadelle, of iets dervoegeliks, en ‘n glas vino. Ek oefen weer my beperkte toeriste-Italiaans met die kelner. Hiér weet min mense van Suid Afrika, totdat jy die Sokker Wêreldbeker noem, dan snap hulle gou en sê-skree opgewonde: Shakira!

Na die laaste stadsgedeelte kaf gedraf is, neem ek ‘n verposing by die albergo. Ek nooi Laura om later ‘n aperitivo te gaan drink. Ons besoek ‘n plaaslike bar en geniet ‘n glasie prosecco saam. Laura vertel my van die kosmarkte en museums wat ek more moet gaan besoek, voordat ek verder reis. Tuis kyk ek weer TV in Italiaans en raak later aan die slaap met beelde van rakke en rakke vol lekkernye.


Deel 11 Kaapstad

Bologna se sjarme herinner my aan die dae toe ek by ’n sjiek TV-program werksaam was. Sonder om werklik oor God se wil vir my beroep te besin, begin ek net ná Paasfees in 2006 as Produksiebestuurder te werk by die TV-program Top Billing. Verby is die dae van besadigde TV-produksies soos Madame & Eve en Stokvel. Min het ek geweet dat dit ook koebaai is aan gemoedsrus en soete slaap. Ten minste het ek nou verlof, siekverlof asook ‘n meer permanente kontrak. Maar stadig slurp die meul my in, en alhoewel ek steeds poog om my huwelik te red met berading en my eksman te begeester met oefening, is 2006 die jaar waarin soveel verkeerd loop.

01 Junie 2006

Ritme van my Bestaan

Dit voel kompleet asof ek van naweek tot naweek leef… Die weeksdae self word tjok-en-blok vol gepak met werkstake, werkstres, werksdinge, werk, werk, werk. Maar, stadig maar seker, is die treurmare van my werk besig om te ontvou in ‘n sagte, pienk boslelie met ‘n welriekende geur. Soet is die reuk van klein persoonlike oorwinninge en sterk steun ek op die beloning van ‘n effektiewe werkstelsel. Postiewe terugvoer is bloot heuning op die tong – ‘n liplekker bonus!

‘Body-for-Life’ beginsels struktureer steeds my weeklikse eet- en oefenpatrone, maar naweke is dit los-hande-weghardloop in die bos en smaaklik drink uit die kruik van die lewe. Eerskomende naweek het Christelle my genooi na ‘n fondsinsameling by Meerendal wynplaas. Wat wou, ons skop glo sommer al 11h00 af met warm-in-jou-maag sjerrie! Ek sien uit na die keurig bereide drie- gang maaltyd, wynproe, Mia se ryk stem… wat meer kan ek vra van die lewe?

Sedert ek die besluit geneem het om DRASTIES af te skaal met sosiale aktiwiteite, vind ek dat ek meer tyd bestee aan aktiwiteite wat MY siel voed. En daar is niks so aangenaam as om op ‘n naweek iets impulsiefs aan te vang nie – bloot net omdat jou eie tyd wyd en oop voor jou lê! Die lewe is ‘n lied, ja… Jy moet net die wysie ken. En natuurlik jou eie ritme aanvoel…

15 Junie 2006

Bakgat?

Choas dikteer my bestaan bedags – ek swerm

deur die kakofonie van versoeke en opdragte.

My kop word gevul deur ‘n magdom detail,

my maag honger vir ‘n gourmet-ete.

Ek hoop my bydrae is goed genoeg…

Wie weet van waar die volgende Westewind gaan waai?

Werksekerheid is ‘n mite; rooibolus ‘n bakmiddel.

Kolwyntjies vir jou siel, sjokelade sus jou gemoed.

Ek is, ek eet, ek drink my werkskontrak.

20 Julie 2006

Maalkolk

Vanoggend, terwyl ek ‘n sny roosterbrood in die werk se kombuis staan en eet het, het die woord “QUIT” by my opgekom. Uit die bloute uit. Nie dat ek van nature ‘n “quitter” is nie. Maar liewe ouers, ek dink my werk mergel my uit en verstrengel my siel. Gisteraand het ek eers 23h40 by die huis gekom. My ma kry ‘n oorval as sy dit hoor.

Joga, ons katte, die huishouding, die selgroep, my man – alles ly daaronder, wat nog te sê van myself. En vandag voel ek dit aan my lyf. As ek moeg is, raak ek emosioneel. En ek wil net die hele tyd huil.

Wat beteken werksekuriteit dan as jy jou siel vir ‘n bord lensiesop verruil?

22 Augustus 2006

Byenes

Miernes, bynes, gewriemel en gekriewel, deurmekaar, oor-en-weer. My baas se humeur woed woes waar westewinde waai en ons miere werk verbete aan die daaglikse stryd om brood (en dalk die dood). Die koningingby is vet van kennis van goed en kwaad; die leermag marsjeer volgens die ritme van die koninglike paleis. Dit is werk-toe, huis-toe, pay-tjek en broke; werk-toe, huis-toe, pay-tjek en broke; werk-toe, huis-toe, pay-tjek en broke; werk-toe, huis-toe, pay-tjek en broke.

Liewe goeiste, ek kry die dekselse ritme, maar die liedjie is plein vals. Die lewe is ‘n klug, die maat is te vinnig, die lirieke is verkeerd getoonset. Stop die poppespel, hanteer jou medemens as gelyke en leer die blerrie wysie!

 

  • Pieter Prinsloo

    Sjoe Carla, weereens ‘n kolhou!!
    Dankie dat jy deel en inspireer.

  • Carla Swanson

    Dankie vir die gawe woorde Pieter!

  • Mia Breet

    Haai en daar "feature" ek toe ook in hierdie week se skrywe! Ek onthou nog daai show – dit was lekker!
    Ai Carla, en kan ek nie begryp en assosieer met daardie vals wysie by die koninginby se miernes-paleis nie! Jy beskryf dit so goed met die slimste en raakste bewoording!

  • Tia Smook

    Jy skryf pragtig en ek dink ons almal kan by jou leer oor die waarhede van werk toe huis toe paycheck en broke….tyd vir stocktake!

  • Tia Smook

    Jy skryf pragtig en ek dink ons almal kan by jou leer oor die waarhede van werk toe huis toe paycheck en broke….tyd vir stocktake!

  • Kleber

    Also ffcr mich ist Anno mit dem Zukunft Szenario erst wirklich iaeretssnnt geworden. Ich kann den Mittelalter (oder Renaissance) Kram nicht ab. Ausser es is mit Steampunk oder Fantasy verbunden. c4he4m.Bei Starcraft hingegen bin ich froh, dass es nur ein Aufguss des alten Starcraft mit Neuerungen ist.