Diverse

Eat Pray Love Ditto: Dag 12 – ‘Venezia’

Die kosmarkte is ’n belewenis; sensories amper oorweldigend. Die kleure en geure van die blomme, vars vis, vrugte, groente, vleise, pasta, lekkers, koffie en gebak is omtrent ‘n lushof vir die smulpaap…

Laaste soet herinneringe aan Bologna

Dan is dit tyd om die museums te besoek; die historiese museumsale word beman deur ’n skarer pensioenarisse. Dalk dié dat die toegang oral gratis is? Die argeologiese museum is kompleet met artefakte wat dateer uit die negende eeu voor Christus. Die moderne, skoon lyne van Giorgio Morandi se stillewes beïndruk – later sou ek sy reuseskilderye by die Bologna-stasie opmerk. Hoe meer ek my geliefde Bologna leer ken, hoe meer hou ek van dié stad. Natuurlik moet ek vir oulaas gelato eet en ek besoek Cremeria Cavour gelateria op Laura se aanbeveling. Die mascarpone-geur is verruklik – die roomyshorinkie se onderste punt is gevul met sagte sjokolade. Die romerigste gelato nog! Belissimo! En op daardie soet noot groet ek die herbergier Laura en terselfdertyd my geliefde stad.

Die treinrit na Venesië is ‘n lekker blaaskans. Ek lees en dut op die trein en geniet die snelveranderende landskap. Ệrens het iemand genoem dat die aankoms per trein in Venesië die mees dramatiese is, baie meer indrukwekkend as aankomste per lug of boot. En kolskoot – Venezia, wat opdoem vanuit die water, is baie imponerend. Ek is só opgewonde; ek het vreeslik uitgesien om dié stad te besoek. Buonasera Venezia! Die vaporetto (water-taxi) vleg oor-en-weer oor die waterkanale; ek verkyk my aan die waterstad en ek raak meegesleur. Bologna is bitter gou vergete…

Tipies van Venesië, sukkel ek om my hotel op te spoor in die doolhof van kronkelstraatjies. Ofskoon ‘n skamele paar blokke van St. Markus se plein af, loop ek in sirkels. Ek is genoop om hulp by ‘n geskenkwinkel te vra en bereik dan uiteindelik, en baie verlig, my albergo. My kamer is op die derde vloer en kyk uit oor ‘n kanaal waar gondolas verbyroei. Die vaporetto se watervaart oortuig my daarvan dat die derde vloer oorhel na die grag toe. Ek laat spat en besoek ‘n trattoria vir ‘n laat middagete, en siende dat dié stad bekend is vir vis en ander seekos, bestel ek vislasagne. Vreemd op die tong, maar smaaklik en die span kelners dra my op hul hande. Ek lag as die kelner die kredietkaartmasjien teen sy oor hou en maak asof hy Kaapstad toe bel!

Dan bestyg ek ’n boot na Burano; my vaporetto-kaartjie van R160 is geldig vir 12 ure – van more af is ek weer ‘n toeris te voet. Ek vermy met opset Murano, wat glo baie gekommersialiseerd is. Die bootrit neem veel langer as wat ek verwag het. Die son sak stadig en liggies verhelder oral oor die water.

Burano is ’n sprokieswêreld in die kleine. Stel jouself die Bo-Kaap in ’n oortreffende trap voor: malse, helder huisies sy-aan-sy soos sardientjies in ’n blikkie; enige verfvervaardiger se droom-advertensie. En al die veelkleurige huisies se voordeure is voorsien van helder streeplekker-gordyne! En soos die huise tot ruste kom, word die gordyne toegetrek – seker as teken dat dit nou slapenstyd is. Ek ontmoet verskeie katte en gesels lekker. Ek het laas in Vernazza saam met Janine katte gewaar.

Later keer ek terug oor die water heen en klim aan die ander kant van die eiland af by Fondamente Nove. Nadat ek die netwerk straatjies tot naby St Markus se plein verower het, koop ek ‘n gelato en stap hotel toe. Ek klim skuins voor middernag in die bed; skoon ondanks die feit dat die hotel se handdoekies beslis gemaak is vir dwergies. Ek beplan om more douvoordag, aloverens die toeriste die stad annekseer, Venezia te begin verken.

Deel 12 Kaapstad

Die katte op Burano laat my verlang na my eie kat, Spokie, wat spoorloos verdwyn het. Nina en Marmite sorg darem vir n stewige kwota manewales.

29 Maart 2006

VERMIS

Ek verdrink myself in die organiseer van toneeloudisies en akteurs se biografieë. My vingers tik verwoed en my oor klop dof – die telefoon my konstante metgesel. Ek kuier saans en was wasgoed soggens. Die blaas van die tuingrafie brand op my wysvinger; my duim se vel is verskroei in die oond. ’n Kosblikkie vir werk en ’n baksel aandete vir die gesin met ’n kankerpasiënt.

Nog ’n stapel pamflette vind hul tuiste op lamppale en in koue posbusse. Ek weier om myself oor te gee aan weemoed; ek byt vas aan hoop. Ek roep hom en fynkam die strate. Ek sien hom soggens op vensterbanke en saans in die ligte van my motor. ’n Sout druppel op my dagboek, sy foto helder op my rekenaar.

Die slotsom – Spokie is nog steeds weg …

My vertellinge speel af in n konteks wat wyer strek as kanale, katastrofes en kosstories, dus skets ek kortweg die agtergrond oor my gesin. Beide my pa en ouer suster is skiso-affektief. Dit is moeilik om dit bondig te verduidelik; dus het ek my moeder gevra vir ‘n definisie:

Dit is ‘n geestesiekte wat gewoonlik in die laat adolessentejare ‘n aanvang neem. Die simptome is dié van skisofrenie en bipolêre affektiewe versteuring.  In +/- 1991 is daar bevind dat 1% van die bevolking dit onder lede het. Die prognose is swak alhoewel medikasie die pasiënte help om bietjie beter te funksioneer.

Die persoon het gewoonlik waandenkbeelde, delusies en hallusineer soms. Die persoon is baie agterdogtig teenoor ander persone, is gewoonlik ‘n introvert en gevolglik asosiaal. Die meeste pasiënte is woonagtig in ‘n tehuis of inrigting omdat hulle nie in die samelewing kan aanpas nie en moeilik funksioneer in die alledaagse lewe. Hulle voel geborge in ‘n inrigting waar hulle geen verantwoordelikhede het nie.  

Dis baie moeilik om met so ‘n persoon ‘n vertrouensverhouding op te bou aangesien hy/sy gewoonlik met agterdog gevul is en die meeste mense met wantroue bejeën. So ‘n persoon is ook gewoonlik baie intelligent, kan oor hoë akademiese kwalifikasies beskik, maar pas moeilik aan in ‘n groep.

Wat ék wel kan meedeel, is ’n klein blik op die impak op my lewe:

Tara, Weskoppies, Threshold, Huis YANA, Denmar, Witpoort. Dié klinieke, tehuise en hospitale het van vroeg af deel van ons bestaan geword. Vroeër was my pa, alhoewel bedrewe, slim en goed opgelei as n tegniese tekenaar, vir jare verkeerdelik gediagnoseer en was gevolglik negatief geaffekteer in terme van werk. My ma se administratiewe pos by die plaaslike hoërskool het die dak oor ons koppe gehou; haar kreatiwiteit het gesorg vir ons uitrustings; die plottuin het voorsien in groente; ons beeste het vleis, melk en room gelewer.

My pa se hande het vir niks verkeerd gestaan nie en hy het al die loodgieter-, elektriese, hout-, staal- en meganiese werk tuis verrig, maar ons moes ook help. Naweke het ek en my suster die motors gewas, my ma gehelp met huistake en ek moes die gras sny. Nou kyk, op ‘n plot is daar meters en meters gras om te sny – hek toe alleen was 100 meter. Later het ons ‘n tuinhulp in diens geneem en my grassnyberoep het genadiglik n stille dood gesterf, nes die grassnyer se stilswye nadat ek ‘n paar keer die koord afgesny het. Met God se genade het my pa ‘n bestendige werk bekom toe ek op hoërskool was; my ouma het by ons kom bly en my suster en ek kon gaan ‘swot’ na skool. Alhoewel my suster uiters bekwaam en talentvol is, het sy ongelukkig tydens haar eerste jaar ‘n senuwee-ineenstorting gehad, is gediagnoseer as skiso-affektief en van daar af was dit in-en-uit by hospitale. Vandag is sy gestabiliseer, woon sy by my ma en is sy werksaam (beskutte arbeid).

My pa het vir ongeveer 12 jaar in ‘n goewerment-tehuis gewoon. As jy oombliklik soos ‘n superster wil voel, gaan kuier net by só ‘n instansie. n Menigte sak op jou toe: jou handtekening word nie gevra nie, wel sigarette, eetgoed en geld. Jy koes, sit jou sonbril op en sak terug in die motorsitplek voordat jou pa uitkom en dalk skel op die hele spul. Vandag is my pa in ‘n ouetehuis en goed versorg.

My moeder verdien ‘n hele ry medaljes. My pa se siekte het begin manifesteer toe sy hul eerste baba, my suster, verwag het. En van daar af was haar lewe, volgens my, een groot swaar kruis wat sy moes saamsleep. Ten spyte van die uitdagings tuis, was ons huis gevul met liefde en respek en het ons saans saam huisgodsdiens gehou. Daar was altyd blomme vanuit die tuin en etes is bedien by ‘n mooi gedekte tafel. Ons het geleer van ovulasie en kalwers en vlooie en waterbesparing. Ook van geduld, maniere en regverdige straf.

My ma dien as inspirasie vir talle, haar geloof in God is n baken, haar vele talente en blymoedige persoonlikheid ‘n vreugdetuin vol kleur en geur. Sonder my ma, sou ek nooit die afgelope dekade oorleef het nie. Sy bemoedig en ondersteun my steeds en haar gebede dra my daagliks.

Hoe ironies is dit tog dat ek juis ‘n man sou kies wat nes my eie pa afhanklik sou word van sy vrou?

 

  • Irma Swart

    Te wonderlik vir woorde. Ek het nog altyd soveel deernis en respek vir jou ma – sy is so ‘n amazing vrou!

  • Tia Smook

    Ja Vriendin, jou ma is n vrou in n miljoen, sy sal vir haar liefde en trou beloon word!!! Ek bewonder haar!

  • Mareli Prinsloo

    Het die stukkie oor jou ma geniet. Sy was altyd so vrolik en opgeruimd! As kind was ek nie eens bewus van haar stryd nie…

  • Erna

    In my oë is jou ma ‘n wondervrou wat ander inspireer, altyd lag en haar eie hartseer daaronder verberg en nooit kla nie! Sy verdien ‘n goue kroon!

  • Carla Swanson

    Ai, my moeder is sowaar ‘n inspirasie. Dankie vir jul saamlees en pragtige kommentaar oor haar.