Diverse

Eat, Pray. Love. Ditto: Dag 16 Parys

Desnieteenstaande groet en glimlag ek beleefd en die Parysenaars help my geduldig met Metro-kaartjies. Om die waarheid te sê, ek is skoon verras deur die vriendelike, hulpvaardige Franse. Ek bereik my hotel moeiteloos – dit is slegs een blok vanaf die Metro-halte geleë. Die hotelbestuur kan nie ‘n enkele woord Engels sprak of sprook nie. Ek besef mettertyd dat ek elders tyd moet gaan verwyl, voordat ek my intrek kan neem. My lyf roep na ‘n stort; ek bibber van die koue plus my Venesië-skoen stink seker al erg teen dié tyd…

‘n Bistro om die hoek lyk belowend; ek neem plaas – al die stoele kyk in gelid straat toe. Ek kyk en bestel wat ‘n Parysenaar eet: ‘n croissant, ‘n glas lemoensap en ‘n kleine koffie. Tussendeur skribbel ek in my groen reisjoernaal – ‘n geskenk van Michéle, my werksvriendin. Ná my inlywing in die Parys-ontbytkultuur, drentel ek terug hotel toe. 

Ek is uiters dankbaar vir my en suite-badkamer! Ek stroop my klere af en skrop en was met mening terwyl ek my nat tekkie by die venster laat uitvars. Die handdoeke is enórm in vergelyking met dié in Venesië. Die kamer het rooi volvloermatte, en is knus en warm. Ek is weer eens dankbaar dat ek soveel tyd bestee het om hotelle na te vors op Trip Advisor.

Vars en verfris sien ek kans om Parys aan te vat. My hotel is geleë in die tweede arrondissement (voorstad) en alhoewel dit naby verskeie besienswaardighede is, besef ek mettertyd dat ek nie Parys binne drie dae te voet sal kan verken nie. Maar ek wend tog ‘n heldhaftige poging aan, ten spyte van ‘n mistroostige bui reën wat uitsak. Ek stap al langs die banke van die Seine langs – met die welbekende goue beelde wat strak toekyk deur die misvlae reën.

Musee d’Orsay verwelkom my met ‘n elle lange tou wagtendes in die reën. Ek sit my beste voetjie voor en oefen my basiese Franse sêgoed. Uiteindelik is ek binne die historiese stasiegebou en word ek omring met kunswerke van Monet, Manet, Rodin, ensovoorts. Hemels!

Daarna stap ek tot by die Eiffel-toring, smul aan ‘n sjokolade-crepe en stryk dan terug hotel toe via die Arc de Triomph en Champs des Elysees. Die wye boulevard bekoor; die versierde winkelvensters wink vanuit ‘n sprokieswêreld. Die Italiaanse weergawes van McDonalds-restaurante was toegerus met gelato-toonbanke en panini-broodjies. Hiér in Parys is crepes en ‘n keur van koffie aan die orde van die dag. Maar ek verkies eerder ‘n straatstalletjie se Croque Monsieur vir aandete. Daarna stap ek via die Hotel de Ville terug na my hotel toe. My snoesige bed met die Franse rolkussing omarm my en ek slaap ongehinderd tot 09h00 die volgende oggend.


Deel 16 Kaapstad

Ek dank die Hemelse Vader dat Hy my geseën het met ‘n kreatiewe streep om verskeie items, meubels of kledingstukke saam te voeg en ‘n smaakvolle geheelbeeld te skep. Geseënde Holisme? Ten spyte van die feit dat ek gereeld vriendinne se tweedehandse klere en juwele dra, gratis roommonsters my lyf bevog en ek vernuftig met my geldsake moet toor, waardeer ek steeds die goeie dinge in die lewe. Ja, ‘n groot gebrek aan luukshede, maar dan ook ‘n groot aptyt vir die genotvolle.

 

04 September 2006

Franse Sondagmiddagmaal 

Johan en Cathy het ons reeds vanuit Provencelaat weet dat daar geen geskenke of sjokolade oorhandig gaan word met hul terugkeer nie… Maar ons groepie vrinne is wel verseker van ‘n salige middagmaal in Provence-styl! 

Etenstyd het ons vergader by hul tuiste tussen die bome. Bakkies olywe en skywe souterige wors, wat soos salami proe en amper soos Grieks klink, is gasvry saam met klein glasies pastis versprei onder ons tiental. Kleurvolle staaltjies is vertel – met pragfotos as bewys. Johan het ‘vriende van vriende’ se bouprojek in Provence waargeneem; dié werkvakansie het gematerialiseer nádat vriende Marita van der Vyver se boek,”Hart van die Huis”, gelees het.

Ons gasheer-en-vrou het die inleiding tot die etenstafel met geur en kleur verwoord: die Franse skink ‘n klein skeut wyn per glas, en proe-proe daaraan terwyl daar ongehaas aan ‘n menigmaal disse gesmul word – alles vars en gesaai en geoes volgens die huidige seisoen. Ons is verlei met brinjals gebraai oor die kole; pasta met ‘n tamatie-, olyf-en-ansjovis-sous; zucchini-gebak met brokkies vark; groen slaai; gebakte aartappels; tuisgemaakte pesto en natuurlik baquette – wat toe eintlik as ‘n flute bestempel behoort te word. Met eg Franse Blanc de Noir en Merlot in ons wynglase, is ons weggevoer na die terroir van wingerde op die Franse platteland. Heel gepaste Franse kamermusiek het die prentjie voltooi.

Ná die feesmaal het ons mekaar vergas met luisterryke stories terwyl Cathy ‘n kaasbord uitgepak het. Ons het gretig geproe aan olyf-kaas asook kersie-nougat vanaf die nougatfabriek naby hul ‘tuisdorp’ van die afgelope maand. Franse koffie is geskink in kleurvolle espresso-koppies en is geniet saam met Johan se swaar, klam sjokoladekoek. Wat ‘n mondvol!

Party van ons tafelgenote het ‘n middag-uiltjie gaan knip, terwyl ons smulpape voort geëet het aan Franse fyngebak – pragtig individueel verpak en bedien met Ceylon tee. Die aandskemer het ons later, sjerrieglase in die hand, kom omhul. Cathy se Delft-teekoppies en die ander glasware is gewas en weer weggepak in haar antieke houtkas; die mans buite doenig met masjinerie en man-dinge. Ons het eers donkeraand tuisgekom – die gees en vlees behaaglik verkwik met spys en drank….

Merci Johan & Cathy…

 

19 Junie 2006

Maandag

‘n Panoramiese blik op Tafelberg vanaf Bloubergstrand; ‘n houer plante vir vriende – uitgespit uit ons klam tuingrond; die betowering van Kerri Hulme se boek, The Bone People. Oranje lemoene, biltong en sjokolade as pasmaats vir ons DVD aand. Elize se terugvoer oor haar somer in Indië tydens ons stap in die bos; portrette ophang tuis en dan ook tossels vir die deure.

Laas naweek was ons Bollywood-styl onthaal by Felicity se verjaarsdag – kompleet met ‘n rooi tapyt-aankoms, ‘belly’-dansers, Bollywood-flieks, Breyani en Marokkaanse hoender en al die gaste opgedollie in malse kleure.

Sondag het Maish en Pam ons genooi vir ‘n rustige agtermiddag by hul stylvolle huis in Houtbaai. Alhoewel Pam pas vanaf ‘n vyf-uurlange staptog teruggekeer het, was die ete oombliklik gereed: vis oor die kole, waatlemoenslaai, vars gebakte brood, gevolg deur Pam se tuisgemaakte aarbei-en-bessieroomys. Salig! En Vrydagaand was ons by Maish se uitstalling van sy “Steinworks”-klokhorlosies. Sy kunswerke is sowaar tydloos…

Ai, my naweke klink soos ‘n ou advertensie vir vergete drome…

 

 

  • Liezl

    Ah Paris! Ons was einde verlede jaar in Parys en jou foto’s roep die mees wonderlike herinneringe weer op! Wat ‘n fees vir die oog, hart en siel. J’aime Paris!

  • Hester Opperman

    So beskrywend dat ek heeltemal meeleef.

  • Magriet Mocke

    Ek luv dit om myself in te leef in jou pragtige stories in girlfriend. Baie dankie dat jy dit met ons almal deel. Mwah xxx

  • Anree Conarroe

    Carla,jou storie is fantasties en kleurryk – jou vertel-styl brijant! Ek geniet elke oomblik en kannie wag vir die volgende hoofstuk nie! Dankie dat jy jou verhaal met ons deel – ons is inderdaad bevoorreg!