dsc09719
Diverse

Eat, Pray, Love Ditto. Dag 17: Parys

Ek wikkel my rooi ‘bloedskenk’-sambreel oop, en stap die twee blokke na Patteserie Paul toe vir warm sjokolade met brioche vir ontbyt. Cathy, wat al etlike male in Parys was, het dié bakkery aanbeveel. Met die honger gestil, sien ek kans vir die tou by die Louvre-gallery; dit kruip darem teen ‘n taamlike tempo rondom die glas piramide.

Bínne die Louvre verloor ek myself in skatkamers vol van impressioniste, beeldhouwerk, fotografie en ander kunste – insluitende die beelde van Villa Borghese wat destyds aan Napoleon verkwansel is. Ek en Janine het op “Dag 2″ in Rome van dié kuns-transaksie te wete gekom. En anders as in Italië se bekendste kunsgalerye en -museums, mág mens hier maar foto’s neem. Ek kliek dat dit klap en besluit om met my volgende besoek aan die Louvre ‘n metgesel in ‘n rolstoel saam te bring – dan kan mens tot reg voor die Mona Lisa se neus laat wiel en haar van nader bekyk. Of liewers toelaat dat sy jóú bekyk met die bekende starende blik …

My gids het Angelina in Rue Rivoli aangeraai – Coco Chanel en talle ander bekendes tel onder die (historiese) kliënte van Angelina’s; en ná vandag kan hulle mý ook op hul lysie plaas… Ek glimlag breed en groet die concierge by dié eksklusiewe salon uiters vriendelik met my bes moontlike Bonjour. Later sit ek netjies en kyk onderlangs na die span kelners wat ligvoets tussen die weelderige meublement deur wals en welriekende disse op hul vingerpunte balanseer. My joga-asemhaling kom handig te pas terwyl ek myself voorberei om in Frans koek en koffie te bestel – die Italiaans laat my elke keer si (ja) in plaas van oui (“wee” of “ja” in Frans). ‘n Wyle later word my versoek van vanielje mille feule foutloos bedien – kompleet met ‘n vergulde mes-en-vurkstel. Ek sny fyntjies en sluk stadig aan die soet lekkerte wat sommer ook dien as middagete.

Ná die verposing, neem ek moeiteloos die Metro, so asof ek ‘n pure Parysenaar is. Ek klim af naby die Eiffeltoring en koop ‘n toegangskaartjie – en siende dat ek ‘n Kapenaar is en weekliks Leeukop klim, bespaar ek ‘n volle 10 Euro deur die trappe te klim. En klim, dié klim ek! Die joga-asemhalingstegnieke kom weer eens goed te pas terwyl ek hoog op wentel alom die bruin yster-struktuur. Bó gekom, blink die son onverwags deur die donker wolke en baai die strale die mansard-dakke van Parys in ‘n sagte lig. Asemrowend! Nadat ek talle bekende geboue vanuit die hoogte bewonder het, klim ek af na benede en neem die Metro na die Latynse buurt. Ek val agter in ‘n lang tou by ‘n besige straatstalletjie en bestel ‘n warm Nutella crepe (pannekoek). Dit is omtrent ‘n fees om drie keer per dag koek te eet!

Op pad hotel toe gewaar ek ‘n supermark en ek koop ‘n bak rou wortelsaai, asook ‘n glasie joghurt. Sjokolade ten spyt, my maag roep na vars groente en vrugte! Ek verslind die slaai net daar en dan en steek ‘n Franse koerant in my sak as geskenk vir Janalyn – sy het vroeër hier gewoon. Tam klim ek digby middernag in die bed en beplan my volgende, laaste dag in Parys – ek gaan myself omring met die grafstene in die Pere Lachaise-begraafplaas en dan het ek die heel lekkerste buurt vir laaste gelos – Montmarte! Mmmm…

Deel 17 Kaapstad

Ons lewens draal voort, steeds besaai met eindelose aktiwiteite om die broeiende seer te probeer verskans. Geen buitestander of selfs Fransman sou kon raai dat daar soveel huismoles by ons is nie…

15 Julie 2007
Franse Flair

Die Bastille Fees in Franschhoek het ons laat optrek na die vallei van die Franse, uitgedos in ons beste vere in die kleure van die Franse regalia: blou, wit en rooi. Wel, letterlik in my beste vere; my getroue rooi vereboa om my hals…

Elize vriendin het ons vergesel, en gesamentlik het ons, te midde van die La Fromagerie Jazz Band se welluidende melodieë, ons eerste bottel Graham Beck Brut se kurk laat pop. Bjorn en Cobie het al te gaaf hul stoele aan ons afgestaan en ons kon onsself verkyk aan die feesgangers, die gourmet happies, die egte Franse vonkelwyn en die Franse berets. Michael, Nikki en hul getroue dier, die Mexican, het saam met ons gesmul aan Reuben’s se dik snye pienk biefstuk wat skuins-lê bo-op ‘n sny vars baquette. Nog later het ons aan glase Moreson-vonkelwyn geteug en feestelik maat gehou met die musiek. Ek en my vereboa het selfs ‘n kortstondige verskyning op die verhoog gemaak!

Nou ja, ons het ongelukkig die wynvatrol-kompetisie, die straatsokker, die boules en die eier-en-lepel-resies gemis, maar volgende jaar sal ons weer onsself gaan verheug in die Franse en ‘n glasie klink op die Bastille-oorwinning!

21 Augustus 2007

Dinsdag.

My lessenaar kyk direk uit op die straat, en ek gewaar kleurvolle spatsels sambrele en somber, donker baadjies tussen die reëndruppels deur. My agenda word beplan, terwyl ek behaaglik teug aan my beker rooibostee. ‘n Onverwagse oproep van my vriendin, Irma, bring verleen ekstra kleur aan die oggend.

Vars, bros Belgiese wafels en organiese koffie by die Friendly Neigbourgoods Market in Woodstock, was op die ontbytspyskaart Saterdagoggend saam’t Isabel. Sy’t kom kuier vir die naweek, en ons het die middag verwyl deur ‘n reeks wynproeë deur te werk. Rustenberg,Tokara en Thelema se argitektuur, kaggels, gasvryheid, uitstekende diens en natuurlik wyn, het ons bekoor. En Sondagoggend het ons die Daily Deli se nuwe spyskaart en kelnerinne beproef. Kampsbaai se strand was daarna die ideale speelplek. Vriendskap is inderdaad kosbaar.

Ek het wel vergewe en vergeet. Sewentig maal sewe keer vergewe? Dalk meer, dalk minder… Eksélf was ook nie heeltemal sonder skuld nie; ek het oorbeskerm, oorbeplan, oorfunksioneer, het oorgeneem,… of dalk net probeer oorleef? Die woord egskeiding was nie in my woordeboek nie. Ek het verbete die huwelik probeer red, ten alle koste bly vasbyt aan hoop. En in die proses, het ek tien jare in die fleur van my lewe opgeoffer.

  • Tia Smook

    Carla, dis pragtig, die fotos is ongelooflik, wens ek was saam jou!

  • Talita

    Ek hang verbete aan jou ippe soos jy vertel, dis is pragtig. Kan nei wag om elke week te lees nie!!