Diverse

Eat, Pray, Love. Ditto: Dag 18 – Parys

Maar vanoggend is ek lus vir ‘n eier-en-kaas-crepe. Gister het ek besigtig hoe ‘n paartjie dié sout pannekoeke koop by ‘n straatstalletjie, en toe crepes in die hand op ‘n bromponie klim en die donker stad in ry. Net soos in ‘n kunsfliek…

Die Notre Dame is nie buitengewoon nie; die onverstoorbare stilte word verbreek deur die opsigter wat ‘n bedelaarvrou by die deur uitboender. Die Hermanus-paartjie het in Venesië genoem dat die katedrale in Italië se stutbalke alles binnekant die kerke is; die Gotiese kerke hiér se balke is weer buite. En dit ís duidelik opmerkbaar. Ek is my kollega Michelle Roos ewig dankbaar dat sy haar kamera vir my geleen het. Sonder haar sou ek geen konkrete bewys van dié vakansie gehad het nie!

Terug by die hotel, bel vriendin Annamari vanuit die Kaap. Ek het tien dae gelede laas Afrikaans gepraat voordat Janine vertrek het! Dis so lekker om die ‘erre’ van my lippe te laat afrol en nuus vanuit die Kaap te hoor. Daarna is dit weer toeris-speel en ek sak af na die Metro-aar wat Parys se hart laat pomp.

Die Pere Lachaise-begraafplaas is ‘n doolhof-tuin vol grafstene en oplaas besoek ek met goeie speurvernuf ‘n handvol bekendes se grafte: Modigiliani, Edith Piaff, Chopin en natuurlik Jim Morrison. Laasgenoemde se graf is nou omhein om Jan Publiek uit te hou. En seker om Jim se groot gees binne te hou…

Ek het in Parys die gewoonte aangeleer om in elke museum, winkel, bistro, restaurant of selfs kleedkamer, eers die personeel te groet en dan rond te kyk. En met my vertrek groet ek weer bedees en saggies – om my swak aksent te verdoesel. En ek het nie een enkele keer die fenomeen van die ongeskikte Parysenaar teëgekom nie! Inteendeel, ek is oral met respek behandel en mense het letterlik uit hul pad gegaan om my te help. Ek neem myself voor om tuis ook in winkels te groet met die kom-en-gaan-slag.

Ek is nou gesout met die Metro en besoek Mont Marte in die uithoeke van Parys – keisteenstrate, pikante huisies, straatmusiek… Ek voel sommer onmiddellik tuis in dié karaktervolle buurt; die wolke trek oop en die son skyn skaam-skaam.  Buite die Sacre de Couer word ek voorgekeer deur straatkunstenaars wat potrette probeer teken en verkwansel, ek besigtig ook pasgetroude Sjinese-bruide met hul gevolg.

Dan is ek op soek na ‘n outentieke Paryse ete. Ek is kieskeurig en wil nie in die hoofstroom geroesemoes van restaurante verkul word nie. Na baie rondstap, rondvra en rondkyk, ontdek ek ‘n manjifieke bistro met rooi stoele, ‘n midi-spyskaart en ‘n uitsig. Ek sit aan en geniet ‘n glas robynrooi Bordeaux en ‘n twee-gang maaltyd. Die aartappel Dauphinoise vergelyk goed met dié wat ek leer maak het by Olivello in die Kaap! Die tafel langsaan bestel koffie wat bedien word op ‘n piepklein silwer skinkbordjie saam met ‘n fraaie blokkie suiker verpak in papier. Ek na-aap hulle sonder skroom.

En dan neem ek ‘n impusliewe besluit om eers die Printemps-winkel te besoek aleer ek terugkeer hotel toe. Nege glansryke vloere verwelkom my puntenerig en bekyk my reis-uitrusting krities. ‘n Sjarmante verkoopsman kyk verby my voos uiterlike en verkwansel parfuum aan my – dis tans nog nêrens anders in die wêreld te koop nie… Ek voel omtrent soos Paco Rabanne se ‘Lady Million’…

Ek beloer die uitsig oor Parys vanaf die dakkamer en dan is dit tyd vir die kleedkamer – met ‘n volle 1 Euro toegangsgeld! Die oranje toilet is ‘n kunswerk op sigself!

Naby my hotel eet ek vir oulaas ‘n sjokelade crepe, pik my tas op en neem die RER na die lughawe toe. Trein-en-busrit later, is ek ingeboek en geniet ek twee glase rooiwyn by die hotel. Dan is dit stort en sorteer en ligte uit na 24h00. More tel die bus my reeds 05h45 op!

Deel 18 Kaapstad

En so is dit dan ook Koebaai aan Top Billing en Hallo aan die korporatiewe wêreld. Op aandrang van ons vriend Chris, stof ek my CV af, en doen aansoek vir ‘n droom-posisie met veelvuldige fasette en verantwoordelikhede in Nuweland.

Dié keer vra ek ernstig na God se wil en laat dit algeheel in Sy hande. Op 08 Januarie 2007 stap ek in by my nuwe werk, professioneel en mooi. My rooi hare is nou donker en mooi gekap, en ek het ‘n verbod met myself gesluit: van vandag af gaan ek elke liewe dag grimering dra, ja onderlaag ook, en my uiterlike mooi versorg.

Na amper ‘n dekade in die Kaap in beide die hotel- en televisiebedryf, het ek, te danke aan die Vader, ‘n werk met byvoordele, normale kantoorure, ‘n bonus, ‘n lessenaar, ‘n pensioenfonds en ‘n mediese skema. Halleluja!

28 Januarie 2007

January, February March…

Sowaar as vet, die Nuwe Jaar stu vinniger voort as wat ek die ou geliefde Kaapse klopse liedjie met die maande se name kan sing. Voor ons ons oë uitvee is dit alweer Kersfees. Ek sukkel om my ou skryfritme te vind, maar nietemin, hiermee dan bietjie nuus:

Laasweek het ons na komeet McNaught gaan kyk hoog bo Llandudno se strand. Negeuur in die donkernag het ons die komeet-stert getooi met sterre bekyk oor ‘n skyf koue waatlemoen. Ek het omtrent 200 motors getel met insittendes wat al kouend en drinkend die hemelkoepel bestudeer – omtrent ‘n sametrek van formaat!

Dit het my sterk herinner aan aande as kind by die plaaslike inryteater, waar ons as kleuters in pajamas kerrie-en-rys in Tupperware-bakkies geniet het en smouse met flitse tjoklits en springmielies verkwansel het…

Die nuwe jaar neem sy loop en alhoewel ons sterk rem aandraai, is ons sosiale skedule steeds druk. Die naweek het ons verjaarsdae bygewoon van vriende wat gewissel het van 2 jaar tot 71 jaar! Vier partytjies in een naweek was net té dik vir ‘n daalder, maar ons het vandag daarvoor vergoed deur tuis te bly en te rus. Sondag = rusdag. Letterlik!

Moreaand is dit die eerste boekklubaand vir die jaar; die selgroep het reeds vergader en ‘n bestekopname van alle persoonlike doelwitte vir die jaar genoteer en die eerste naweek uitstappies vir die jaar is reeds neergepen. Ek en manlief het ook verwoed begin oefen – ons arme lywe is steeds in ‘n stadia van skok nadat ons die afgelope week elke dag, en sommige dae selfs twee keer per dag, die longe laat smag het na lug. Manlief het selfs die hardloop-aksie begin bemeester met sy (meestal) onwillige en trae spiere!

Dit was moorwarm in die Kaap laasweek – 38°! My nuwe werk se gebou is gelukkig toegerus met lugverkoeling. Die werk self is bevredigend en dit is ‘n fees om vroeg tuis te wees! Vir eers probeer ek my beste om aan die stadiger tempo gewoond te raak – kompleet met teebreke!    

Kaapse groete,

Carla

Alhoewel ek nou werksekuriteit het, is al my probleme nog nie opgelos nie.Op aanbeveling van my nuwe baas, begin ek in Augustus 2007 om weekliks ‘n sielkundige te gaan spreek.


02 Oktober 2007

E-pos aan vriendin Tia:

Ek is nie regtig depressief nie, maar ek gaan deur ‘n fase van erge persoonlike groei:

  • Ek het lank met Sakkie en Rona gepraat oor geloof- en verhoudingsake. Ek het ook op hul aanbeveling alle onheilige voorwerpe verbrand en die huis se deurkosyne geseën.
  • Ek werk weekliks aan diep kwessies met my terapeut: my verhouding met manlief, my kinderdae, hoekom ek so sukkel om komplimente te aanvaar, hoekom ek wil huil as iemand iets moois vir my sê of my ondersteun, hoekom ek so sukkel om hulp te aanvaar, hoekom ek so sukkel om vir hulp te VRA. Ook kyk sy na my drome (as ek dit onthou), maar hoofsaaklik het ek nou ‘n uitlaatklep om net ontslae te raak van al die opgehoopte hartseer in my – strome en strome trane.
  • Laas Woensdag by die selgroep was dit my beurt om aan te bied. Ek het ‘n hartroerende DVD gewys: ‘n pa wat sy gestremde seun deur ‘n Ysterman-driekamp-resies [4km swem, 180km fietsry en 42 km hardloop] trek/ stoot/ sleep.  Ek het ook oopgemaak en aan die selgroeplede genoem dat ons huwelik dringend hul gebede nodig het.

Nou ja, elke huis het sy kruis, en ons almal het onvervulde drome. Maar tans is my lading vir my baie swaar.

 

  • Tia Smook

    Vriendin, dis n fees om die wereld deur jou oe te beleef, die fotos is besonder mooi, jy het vele talente!….

  • Carla Swanson

    Ai Tia, dankie vir die saamlees en saamwees deur dik en dun!