Diverse

Eat, Pray, Love. Ditto: Dag 20 Istanboel

Te kus en te keur is daar omtrent: brood en fyngebak, warm soppe, wit kase en vars slaaie, joghurt, tamaties in verskeie gedaantes, groentes en gedoentes, konfyte, eiers en vleise, olywe en selfs blokkies halva. Die romerige joghurt en roosblaarkonfyt steel my hart. Ná ontbyt vaar ek die strate van Istanboel in, gepantser met ‘n karige woordeskat en ‘n groot aptyt vir avontuur!

Ek reis met die trem oor die Goue Horing en stap na die Galata-toring. Die toegangsgeld is te duur vir my sak; ek het vooraf besluit om my geld en beperkte tyd in Istanboel op ervaringe te spandeer en nie noodwendig op gedenkwaardighede nie. Dan stop ek by ‘n tafel met ‘n hoop granate en lemoene langs die straat en kyk hoe donkerpienk granaatsap en oranje lemoensap gepars word. Ek koop ‘n glas vol lekkerte en sit saam met die plaaslike Turke wat gesels – oggendtee in die hand. My neus lei my dan na die volgende bestemming: die Spesery-Bazaar.

As jy nog nooit ‘n sensoriese oorbelading beleef het nie, is dié mark dié plek om te besoek! Met die intrapslag word ‘n gedroogde vy vir my oopgeskulp en gestop met ‘n bros amandel; Turkse smouse verlei my met blokkies pistasie-neut lakan (Turkish Delight); soet stawe eetgoed en nougat in verskillende kleure en geure is gestapel in torings; stroperige lekkers drup van die dak af; klein heuwels van speserye wink aromaties; vate olywe en neute staan soutig rond; vars gemaalde koffie bedwelm my; hompe wit kaas en halva is te koop. Ek swik voor die hazelneute wat herinner aan die Turkse lugredery, asook sterk koffie, pastelkleurige lakan en ander soetgoed. My tas gaan tot boordens toe vol wees! 

Dan is dit tyd vir ‘n regte, egte Turkse bad by ‘n hamam. By die Cağaloğlu-hamam voel ek sommer een met die ry bekende sterre wie se foto’s teen die ingangsportaalmuur pryk. ‘n Lywige mama kies ‘n paar houtsandale vir my, en dan betree ek die vrouesaal – kompleet met ‘n kollosale koepeldak waardeur sonlig in goue stippellyne straal. Die enorme marmerblad in die middel van die saal is verhit. Maar eers moet ek myself gaan afspoel vanuit ‘n Romeinse marmer waskom; daarna gaan lê ek pens en pootjies in die lug en rus in ‘n kleiner, stoomwarm koepelkamer. Dan stap ek wankelrig op my houtplatforms terug na die groot saal toe en lê en wag op die warm blad vir my mama – geruite lap (pestemal) om die lyf.

Ek word soos ‘n perd geroskam met ‘n skuurding; geseep en gesmeer met die welriekende wit Turkse olyfseep; afgewas beurtelings met warm en koue water, en dan gemasseer deur die mama se sterk hande. Heel laaste word my kopvel gevryf en my hare gekam met opknapper. Ek voel sommer pure perd en gaan rus met genoedoening in my privaatkamer. Wat ‘n belewenis – so outentiek en defnitief die hoogtepunt van Turkeye. En evet (ja), ek is glad nie spyt dat ek nié die Topkapi-museum óf die Blou Moskee besoek het nie. Ek is só ontspanne, en skoon en ruik nes die Turkse lugredery se welriekende komberse…

Verfris besoek ek die Grand Bazaar en skaf ‘n pestemal aan en dan kies ek weer koers na die Spesery-Bazaar toe, waar Pandeli’s geleë is. Dié restaurant is al deur menige bekendes en beroemdes besoek. Ek bestel ‘n bord met geurige lamsvleis en groente – en die ete is veel lekkerder as die vorige aand se ‘toeriste-ete’. En dít teen die helfte van die prys…

Traag neem ek vir oulaas die koepon-trem terug hotel toe. Istanboel was çok güzel (wonderlik). Ek knip ‘n uiltjie, en pak dan my tasse – ek moet nou mooi meet en pas om die ekstra kosware in te pas… By die lughawe is al die stuur Turkse personeel skielik die ene vriendelikheid sodra ek groet met merhaba en hul bedank met teşekkür ederim. Ek spandeer my laaste Euro’s by ‘n Turkse winkel, proe baklava en koop dan ‘n Turkse roomys – my sente is nou finaal op. Hoşça kal Turkeye! Ek kom sowaar weer terug, dit is vir seker.

Deel 20 Kaapstad


In die winter van 2009 begin ek my nuwe lewe vasvat met ‘n bergfietskursus te danke aan Chris en Maria; ‘n kookkursus by Olivello; ‘n kreatiewe skryfkursus en ‘n besoek ek die wildtuin saam met my ma en sus. Ek blog oor die wildtuin, maar dit is veral die lááste paragraaf wat my nou opval:

 

29 Junie 2009


Dit is belangrik vir ons menslike spesie om tyd te maak vir dít waarvan ons hou en wat ons siel voed. Ek het myself té lank afgeskeep en te veel dinge ontsê. Ek en my ma en sus het lyste gemaak van waarvan ons hou en ons doelwitte op papier gestel. Ons moet ons eie moontlikhede vir groei skep. Daadwerklik!

 

5 Junie 2009  

Skuldenaar 

Ek ken myself nie meer nie; die spontane, opgewekte self is so diep in myself weggebêre, toegegooi onder ‘n kors van wanhoop, dat ek werklik baie diep sal moet myn om myself weer te ontdek. Ek is so moeg daarvan om beheersd te wees; om alles, van finansies, en die lys van herstelwerk tuis, tot ons inkopies en ons skedule so noukeurig te beplan en ons bestaan uit te meet en te pas en te noteer.

Intussen leer ek weer om myself te verken, my eie kontoere te voel en my siel bloot te lê.

Aan myself.

Vir myself.

Dag vir dag meet ek my nuwe bestaan uit en voel-voel my nuwe ritme aan. Ek begin droom van ‘n vakansie in Italië in 2010. Ook begin ek wonderwerke in die kleine opmerk:

22 September 2009

Ses stukkies soetgoed


1.      Ses sagte Egiptiese-gansies word opgeraap vanaf die harde teer deur die padwerkers van Haw & Inglis op die M3 gedurende spitsverkeer. Die bekommerde ‘ouers’ sirkel in die lug bó die toue motors opgehou deur die reddingspoging.

2.      Ek ‘hou vakansie’ vir twee agtereenvolgende Vrydae in Vishoek in Yvonne se kothuis. Ek word gepamperlang met Yvonne se manjifieke disse, ‘n emaljebad verlig met kerse, die gedruis van die branders saans en die see geraam in my venster. ‘n Soete verposing…

3.      Voetjie vir voetjie, met God se genade, loop ek my nuwe, ligter lewenspad en ontdek ek fasette van myself wat lank verlore was in ‘n moeras vol modder.

4.      ‘n Swart babagesiggie in ‘n krip word sagkens omraam deur pienk roosblare by die Kersaand van SARDA (SA Riding for the Disabled Association)

5.      Tulbagh bekoor my Elize en Janalyn vir ‘n wegbreek: ons geniet eers vonkelwyn op die stoep, later braaivleis en diep gesels, en dan weer vars aarbeie en plaatkoekies vir ontbyt.

6.      Die klim van Tafelberg saam met Annamari en George in ‘n spookasem wit wolk – pure sprokieswêreld vermeng met triomf!

Ek spandeer my eerste Kersfees in 12 jaar saam met my gesin – dis nou nadat ek myself onbeskroomd reeds in die winter genooi het na my niggie Anriëtte-hulle se Kersdagvieringe op Delmas. En dit is omtrént hartsverblydend om omring te wees met familie ten tyde van dié Christusfees.

 

27 Januarie 2010


Na Kersfees saam met my familie, wyk ek weswaarts. Ek smul by Sakkie en Rona aan rooiwang Alberta-perskes wat ons in die tuin pluk; later slurp ons grenadellas uit die doppe op die stoep met die Hoëveld-lug blou rondom ons. Tydens aandete word soet beet en murgpampoentjies vanuit die groentetuin opgedis. Tussendeur word die gees ook mildelik gevoed met boeke en musiek en ek gesels land en sand met Rona oor God.

Ek slaap in my eie klein koningkryk, naby die hemel, op die hoek van die werf. Na ‘n ontbyt van plaasvars vrugte, vat Sakkie my (met Rona se seën) vir ‘n ‘spin’ op sy Harley Davidson-motorfiets, minirok of te nie. Die adrenalien pomp vervaard as ons met groot bromkrag deur die buurt ry – wat ‘n sensasie!

Ek het dan ook die voorreg om by Robert en Isabel te kuier asook by Vic, Tia en klein Simon – dáár pak ek sommer af vir ‘n paar nagte en vang op met groot kuier. Ons sien saam die Oujaar uit en begin 2010 op ‘n ligte noot.  

  • Hester

    So beskrywend, heerlik saam gereis.

  • Gwenni Field

    Dear Carla, reading this has been a wonderful experience yet again! I can’t stand the thought of not being a part of these amazing chapters in your life.

    Gwenni

  • Liezl

    Ja, ek het ook al begin uitkyk vir jou epos met die volgende aflewering. Dankie vir jdie eerlike en diep kyk in jou siel, reis en "journey" wat ons almal bekoor en geinspireer het.

    Mag die nuwe lewensfase soveel genade en genesing bring. Jy verdien dit!

  • Sulette Minnaar

    Moenie vir my sê dis nou die einde nie?! Asseblief skryf aan oor jou lewe nou. Dis heerlik en so inspirerend om elke week te lees en jy skryf so pragtig. Ek hou duim vas vir nog klomp ‘episodes’.

  • Carla Swanson

    Ai, dankie vir die mooie wense en woorde…

  • Rashel

    Dis stunning, die manier waarop jy dinge beskryf voer my mee na ‘n ander wereld, as ek my oe toemaak ervaar ek omtrent die reuke en smake en ek is seker as ek ooit eendag by al die plekke kom sal dit voel soos déjà vu!

  • Marjana

    Well Done Carla!! The way you described I could even smell the spice bazar. You better go on another trip as I’d like to read more 🙂

  • Tia Smook

    Wonderlike reis saam met jou!