ons_almal
Diverse

Eat, Pray, Love. Ditto: Dag 21 – Kaapstad

Sy kuier vir ‘n wyle en ek kan my oorvol reispalet se kleure helder vir haar blerts. Sy is skaars weer vort, toe stop Kiara se geel, slap tjor voor die deur en word ek weggevoer vir kopstukke gesels oor voedsame slaai. Beide Elize en Kiara kan die Italiaanse taal goed gooi en is wel bekend met Italië.

Die volgende week of wat weef ek stuk-stuk aan die ‘nuwe’ Carla. Die kleur swart word van my klerekas verban en ek spandeer my laaste Woolies-geskenkbewyse op sagte rompe en bloese in roomyskleure – karamel, room, pienk en sand. Ou klere word opgekikker as pasmaats vir nuwe items. En natuurlik skaf ek ‘n paar gladiator-sandale aan – pure Roma styl.

‘n Lys eienskappe van die ‘nuwe’ Carla word neergepen – onder andere om onwrikbaar in God én in myself te glo; om myself te koester en te bederf; om tyd te maak vir my talente; lekker Italiaanse etes vir myself te berei; ensomeer. My sielkundige sê dit sal tyd neem – natuurlik kan mens nie oornag van ‘n wurm tot in ‘n skoenlapper transformeer nie. Ek val gereeld terug in my ou patrone, maar ek stuwe voort, verbete om nie swart te dra nie, meer beheersd onder druk te wees en myself waardig te ag om tyd en geld op myself te spandeer.

Ek ontvang enkele vriende tuis en oefen my nuutverworwe Toskaanse kookkuns. My koskas word aangevul met bestanddele vir tiramisu, crostone en Toskaanse varkfilet. Die ‘nuwe’ Carla, post-Italia, ontwaak saggies en vou stadig oop.

Op Vrydag 17 Desember 2010 hou ek ‘n Pasta-Party in die kleine by Brian en Kiara se huis in Kampsbaai. Janine stuur spesiaal haar nuwe pasta-masjien af Kaap toe vir dié ete. Die handvol gaste word feestelik verwelkom deur Mnr. L wat regte, egte Italiaanse grappa skink; Elize neem foto’s waar ons poseer voor Kiara se kunswerke.  Maish en Pam daag op met Italiaanse Lambrusco-bruiswyn en ‘n fraaie Venezia-kookboek. Janalyn en Estelle val vrolik in saam die res en eet saam antipasti. Later stap ons buitentoe, die sonsondergang in – Italiaanse musiek in die agtergrond. Ons word omhels deur die skemerkoepel en word gebaai in sagte aandlig …

Die crostone met sampioene en parmigiano-reggiano-kaas word verslind; ons klink glasies prosecco en besluit oplaas dat ons nie regtig lus is vir die sloer van pasta-maak nie. Ons duik sommer direk in die tamaaie bak tiramisu in en smul ook aan koue waatlemoen en soet aarbeie. En natuurlik nog grappa. Wat ‘n gemoedelike aand! Donkernag help Mnr. L my om alles op te ruim en weg te pak.
‘n Lieflike Pasta-Party inderdaad, selfs minus die pasta…

 
Deel 21 Kaapstad

Ek verwonder my aan die natuurtonele in die Kaap. Miskien begin ek dit nou eers waarlik raaksien? Aan die begin van 2010 sluit ek aan by ‘n Christelike stapnetwerk en saam met die klim en klouter van ravyne, klowe en bergpieke, ontdek ek my Skepper opnuut ‘op berge en in dale’.

14 Januarie 2010
Sowaar gewaar

Vanoggend het twee walvisse ‘n kotteljons gedans in Kampsbaai. Sterte wat swiep teen die deinings; strome lug-water wat toring teen die lug.

‘n Rapsodie in blou!

01 April 2010
Leeukop tydens volmaan  

Leeukop is weekliks my en Elize se speelpark. Dit is waar ons uitasem raak en opgewonde is en vanwaar ons die slapende Moederstad sien ontwaak. (Slaapstad?)

Baie onwillig het ek laasweek ingestem om my speelpark te verruil vir ‘n sosiale uitstappie – die klim van Leeukop tydens volmaan. Wel, ek was aangenaam verras deur die geselsende klimmers, die spontane lirieke en die wyndrinkende piekniekgangers wat op elke rots en lysie hulself tuis gemaak het.

En heel bó op die piek, was dit ‘n droomwêreld met die son wat sak oor die Atlantiese oseaan en die maan wat opkom in die Ooste.
Inderdaad skouspelagtig! Wie kan nié in God glo as jy die skoonheid aanstaar nie?

Paasfees-wense,

Carla 

 

21 Desember 2010


Mnr. L

Middel-Desember het ek my op my eerste, behoorlike toe-oog-afspraak sedert my egskeiding begeef – georkestreer deur Larissa-vriendin. Met ‘n maag vol vlinders het ek opgedaag met min vooroordele en baie moed. Mnr. L het my galant welkom geheet en my dadelik op my gemak gestel. Hy was vleiend en beman met ‘n stewige dosis outydse maniere – hoe verfrissend! Soos ‘n tienermeisiekind het ek gebloos en gestamel en nie geweet wat om wél te bestel en wat om nié te sê nie.

Hy is afkomstig vanaf die Goudstad en was vir ‘n familie-kuier in die Kaap. Dit blyk dat hy oor ‘n formidable koskennis beskik én ‘n kok van formaat is. Ook handig en prakties met ‘n ingenieurs-agtergrond. Sterk, bekwame hande, en ‘n seker stem. En ‘n oop, innemende gesig wat gou glimlag. Oor skywe pizza (ek is steeds verlief op Italia) en koue bier, het ons die vensters van ons onderskeie lewens effens vir mekaar oop gemaak. Ná ‘n genotvolle aand saam, het ek Mnr. L sonder teenstribbeling teruggesoen – die eerste keer in 12 jaar dat ‘n ander man se lippe oor myne sluit!

En met Mnr. L se Kaapvakansie, was dit die aanvang van die Love–hoofstuk van my eie Eat Pray Love-ervaring. Die begin van ‘n romantiese wedergeboorte… as metgesel, as vriendin, maar bowenal as vrou. Dit was hemels dat iemand my motor bestuur, besluite help neem, gaste by my Pasta-Party verwelkom, met inkopies help, brandstof aanvul, kruideniersware dra, water skink, die deur oophou. Die lys is eindeloos.

Onteenseglik is Mnr. L se mees opmerklike karaktertrek die feit dat hy ‘n man van sy woord is; ek kan op hom vertrou. En kort op die hakke van sy integriteit, volg respek – Mnr. L hanteer my met hoë kwota’s van dié onontbeerlike eienskap.

Met sy warm woorde en sy skalkse glimlag het hy my betower en tergelykertyd verower. Teer het hy my soos ‘n ysprinses laat ontwaak vanuit my sluimerslaap van die afgelope dekade. Sewe dae van suiwer ekstase en koestering en kuier. Ons groet ná ‘n week van opwinding in ons borrel-vakuum. Die toekoms is ligpienk, alhoewel ek effe onseker is oor ‘n langafstandverhouding.

Maar logistiek is nie nou belangrik nie. Wat wél saak maak, is die feit dat daar ‘n flonkering van hoop in my hart is. Dat ek myself vergewe het vir my mislukte huwelik. Dat ek weer aan die liefde glo – soos God dit bedoel het toe Hy ons as man en as vrou geskape het. En dat ek waarlik myself is. Carla Swanson. En vir eers is dit genoeg.

  • Mareli

    Ai Carla, so bly vir jou oor L, hoop dit is die begin van baie Geseende dinge vir jul! Ek’t die saamlees so geniet – sien nie uit na die slot…Liefdegroete, Mareli.

  • Carla Swanson

    En hier is ‘n briefie van Larissa se ma se beste vriendin, aan wie Larissa my blog-skakel gestuur het:

    My dear Larissa,

    Thank you so much for sending me Carla’s blog revelations. I thoroughly enjoyed them, but not only because they are very romantic and beautifully written. I enjoyed the one about Mr L especially. Reading it and living myself into her (their) situation was like watching a good rugby or cricket match that OUR TEAM IS WINNING, more than just an entertaining match. Like many folk, I derive much pleasure from others’ happiness, especially when the others are dear to me. I am sure for you who knew both parties before they met, it must be gratifying that they have become good friends (or more). Your warm bubbly personality and caring for your friends must generate more good things than you realise. Of course MY beloved friend must take a bit of the credit for your being who you are, so as usual, I must revere her the more!

    I think Cape Town is an easier corner of this country than Gauteng in which to focus on the wonder of our beloved South Africa and as Carla points out, the wonder of Creation. The Cape seems less blasted and bare of beauty and kindness than GP (or Jhb anyway). I do realise that my perspective may be badly distorted by the fact that I have lived in the Jhb-Pta area for more decades than I care to reveal and have never lived in the fairytale Cape of my Vlok family’s origins. I probably romanticise it and see the tattiness of my old slippers, Jhb and Pta.

    So Larissa, dearest fairy queen, I wish Carla, Mr L, you and the handsome king and your little princesses (and their cats) much love,
    Irene

  • Elize

    Wow, wat ‘n einde…. Lyk my ons almal hou van ‘n sprokiesverhaal en ‘n fantastiese einde. Brava Carla! Welgedaan!

  • Tia

    Pragtig vriendin, n mooi reis vol geloof, hoop en liefde!