certaldo_365
Diverse

Eat Pray Love. Ditto: – Dag 7 Certaldo

Daar is wel gesnyde winkelbrood, ’n viertal vervelige konfytflesse, ontbytgraan, melk en sap op die tafel. Die Australiese herbergier kan gerus elders gaan kers opsteek!

Vandag is die laaste dag wat ek en Janine saam in Italië vertoef; sy vertrek more terug huis toe. Maar eers vier ons Janine se veertigste verjaardag gepas met ’n Toskaanse kookkursus! En op daardie noot, vat ons die pad na die ou dorp toe.

Ouskool Italiaanse kookskool

Giuseppina Cuccina (Giuseppina se kombuis) is geleë in die ou dorpsgedeelte op die heuwel wat bo Certaldo uittroon. Ons word omsluit in ’n vergete wêreld: nou kronkelstraatjies, baksteenmure met helder malvas, swaar deure groen geraam in klimop; vanaf die stewige dorpsmuur is daar ’n panoramiese uitsig oor die platteland. Certaldo is dié ideale Toskaanse dorp om te besoek; genadiglik ontbreek die gebruiklike toeriste-geroesemoes hier. Dit is nou behálwe onsself, natuurlik. Maar ons kwalifiseer nie as toeriste nie; ons is Italianers in wording! Veral ná vandag se kookklas…

Giuseppina en haar twee seuns ontvang ons gulhartig in haar duisend-jaar oue winkel-kombuis. Luca, wat wynboukunde in Firenze studeer, skink sjarmant van die familie se bianco Toscana vino. ’n Reeks lekkernye staan paraat om ons te verwelkom: skywe parmagiano reggiano; verskrompelde, sout swart olywe; trosse soet druiwe; Toskaanse brood mildelik bedruip met geparste olyfolie en ligroos prosciutto crudo. Opeens is ek verheug dat ek nie ’n groter ontbyt genuttig het nie!

Ek en Janine word saam met ’n ouerige paartjie van Boston opgedolla in rooi voorskote; goue blaaie Toskaanse skryfpapier word uitgedeel vir notas. Ons spring weg met die poeding en klop en giet dan die romerige beslag oor die Italiaanse beskuitjies; die tiramisu moet stol in die yskas teen middagete. Die resepte is só maklik; ek kan nie wag om die truuks tuis te gaan beproef nie.

Beide die olyfolie én wyn vloei met mening en binne ’n japtrap smul ons aan die crostone: sampioene, gebraai met knoffel en ’n tiksel tiemie, en begrawe onder skywe sagte pecorino op Toskaanse brood. En uiteraard word dit bedien saam met nóg glase familiewyn. Belissimo!

Dan is dit klits en knie en ons voer die honger pastamasjien vir ’n vale met repe goudgeel deeg. Ons lag vir ons eie pasta-petaljes en roer tussendeur die pruttende sous – grof gekapte pomodori (tamaties) en groen spatsels basiliekruid vanuit Giuseppina se tuin. Dan sit ons aan en word betower deur die eenvoud en vars bestanddele van Toskaanse kookvernuf.

Die varkfilette is volgende en word bedrewe in gekapte roosmaryn en knoffel gerol, dan in dik skywe gesny en pangebraai. Sodra die filetto di maiale verbruin, word ruim skeute Chianti bo-oor gegiet. Die fluweelsagte Chianti classico word ook in ons wagtende glase geskink. Magnifico! Tuisonthaal is so pas vervolmaak met dié japtrap-resepte.

Ons rond die middag af met die romerige tiramisu en kelkies soetwyn. Salute op vriendskap, die verleidelike Toskaanse manier van ‘kook en geniet’ en Janine se 40ste! Vandag was ongetwyfeld die hoogtepunt van ons vakansie…

Van vroue na Kosdivas

Op pad huis toe ontmoet ons ’n bejaarde Italiaanse omie wat in gebaretaal verskeie bewonderenswaardige geboue uitwys. Ons geniet ons ‘toergids’ se geselskap tot onder in die dorp waar ons weer by Coop aandoen om muskietweerder en proviand te koop. Ons klink later glasies prosecco op die agterstoep, brandende spirale wat rook om ons enkels en ons borde vol met ons al fresco aandete.

Heelwat later klim ons in ons antieke beddens, die hele kamer gehul in ’n rookwaas teen die lastige muskiete. Getransformeer van vroue na kosdivas; van museum na stroois…

Deel 7 Kaapstad

’n Feesmaal om ’n tafel is vir my grotendeels sinoniem met ’n familiebyeenkoms: fatsoenlike Sondagmiddagetes, prettige verjaarsdae, Kersfees en ander feestelike okkasies. Ek het altyd gehoop dat die draal om die tafel veel langer sal uitrek nes ’n reep deeg waarin jy dan die gemoedelike stemming kan toevou en bak tot brosbruin. Later kan jy dit dan stilweg oopvou en koester. Ek kyk terug na my familie se lief en leed en besef dat, sedert ek in die Kaap woon, ek meestal saam met my familie kuier oor bordjies begrafnisbroodjies en koppies sustersvereniging-tee. Eers op my ma se jongste broer se begrafnis in 2006, toe met my ma se suster se afsterwe in 2008 en nou weer in 2011 met die verlies van my ma se oudste broer. Tog is begrafnisse nie nét ’n byeenkoms waar herinneringe herdenk word nie, maar ook waar familie saam kan skaar en bande opnuut kan versterk.

 

Vrydag 27 Januarie 2006

Goeie Voornemens 

Ek het vanoggend weer die gebruiklike jogaklas langs die see gaan bywoon – met die rook van die smeulende Tafelberg nog swart in die agtergrond. Nietemin was die ondervinding ’n salige kombinasie van kalmte langs die blou water, spiere wat oefen en heilsaamheid vir die gees.

Maar eers meer oor gisteraand: ons het baie laat tuisgekom vanaf ’n ete in Noordhoek. En met die intrapslag skakel my liewe moeder my met slegte nuus: haar broer en my peetpa, het verongeluk. Dít en die ontstellende gebeurtenis van Tafelberg wat afgebrand het, het my weer eens laat besef: die lewe is kort en uiters kosbaar.

So besluit ek toe ná joga vanoggend op pad huis toe, dat ek van vandag af myself nie meer so ernstig gaan opneem nie. Ek wil ’n meer aangename, spontane persoon wees om mee saam te leef, soos in die ou dae voordat verantwoordelikheid my begin doodwurg het. Manlief sê gereeld vir my you must lighten up a bit. En dit is waar – ek is gatvol om so ’n prim en proper te wees. Ek wil ’n beter verhouding met God én my medemens hê.

En ek voel fantasties vandag, en dít omdat ek ’n besluit geneem het dat dit so moet wees. Ek is hartseer oor my oom en ek is vies dat ek hom nie soos gewoonlik op Kersdag gebel het nie, maar dis nou te laat. Al wat ek kan doen is om seker te maak dat ek wél werk aan my verhouding met my Skepper en my naastes.

03 Februarie 2006
Groen Gauteng en Groot Vetkoeke

Die Kaap is tans dor en droog. ’n Dowwe rookkombers hang oor die stad en die reuk van veldbrand steur jou neus.

My blitsvinnige besoek aan die verre Ooste, dis nou die Oosrand vir die oningeligtes, was kort en emosioneel uitputtend. Gauteng is groen, John Deer-groen. Die lug ruik na reën, die gras groei welig en my ma se meenthuis-tuin is ’n oerwoud in die kleine.

My familie het baie noue bande: my ma-hulle is vier kinders waarvan drie kinders met hul gesinne vir jare in dieselfde straat gewoon het. Asook my Oupa en Ouma. Dit was plotwêreld – Benoni Landbouhoewes, of die ou Sesfontein. Ons het ten minste een keer per week saam met ons familie gekuier. My Ouma se ou koolstoof was pal gestook, die boks met kuikentjies langsaan, en die reuk van boerekos, varsgebakte brood, anysbeskuit of soetkoekies in die lug.

Ons het juis ná die begrafnis lekker gelag oor my Ouma se vetkoek-aande. Kyk, haar suurdeegvetkoeke was bielies van vetkoeke – stewige menere. Ons kleinkinders het telkemale ’n kompetisie gehou om te sien wie kon die meeste vetkoeke eet. Eers begin jy met geurige maalvleis as vulsel – dié prut al van laatmiddag af op die stoof. Later slaan jy oor na stroop en kaas en dan volg tuisgemaakte appelkooskonfyt. My persoonlike rekord was tien vetkoeke! Maagpyn en al…

My ma se broer se afsterwe was traumaties – hy was maar in sy vyftigerjare. Die begrafnis was emosie belaai en dit was ontstellend om my ma en tantes so hartseer te sien. My niggie, Anriëtte, het twee dae voor haar pa se begrafnis haar dertigste verjaarsdag gevier. Wat ’n hartseer sage…

Ek was vanoggend weer by ‘joga by die see’. Dit was kalmerend en help om my gedagtes te sentreer, veral na die tragiese familiebyeenkoms. Omtrent ’n tonikum vir die gemoed. Nou ja, die naweek is hier met haar rooi rok voor my deur. Laat ek haar tegemoet stap!

 

  • larissa Matthews

    Fantasties Carla, dankie vir jou ondervindinge deel, dis ‘n fees!

  • Erna

    Carla ek glo ‘n mens kan nie anders om jou hart te verloor op so ‘n mooi en lekker plek nie! Die foto’s is pragtig! Weer ‘n keer dankie dat jy dit met ons deel!

  • Tia Smook

    Ooooeee, wat n heerlike reis saam met jou Carla en Janine! Ek smul hier aan die reuk en sensasies van alles wat jul beleef!

  • Pieter Prinsloo

    Hierdie gebeure en jou gedagtes gee meer en groter as hoendervleis, dit is en gee beesvleis!!

  • Sannetjie van Rensburg

    Baie dankie vir die vertellings – ons beleef dit saam met julle! Puik ! Uitstekende beskrywings en pragtige foto’s!

  • GR

    Ek het jou blog nou-net gelees en baie geniet … jou woodeskat is seker baie groter as myne maar ek kon alles verstaan sonder om Google te gebruik! In die begin het ek die woorde ‘aloud’ uitgespreek maar na ‘n paar sekondes het ek in Afrikaans min or meer gedink.

    Mooi skoot.

  • www.sarie.com

    Www sarie.. Reposted it :)

  • www.sarie.com

    Www sarie.. Bang-up :)

  • pgid sex videos 7vnw

    Www sarie.. May I repost it? :)