arno_rivier
Diverse

Eat Pray Love. Ditto: Dag 8 ‘Firenze’

By die Certaldo-stasie lug ek my mooiste Italiaanse frases by die glas venster van die klein besprekingskantoor, net om in foutlose Engels gehelp te word met treinkaartjies na Firenze (Florence). Wel… ten minste is ek effe verstaanbaar in my geradbraakte Italiaans!

‘n Hartseer afskeid…

Siende dat dit Saterdag is, is die treine stampvol met plaaslike Italianers – seker op pad stad toe vir inkopies of om sosiaal te verkeer. Ek neem traag afskeid van Janine op die bedrywige stasie in Firenze, en begin met die tweede, solo hoofstuk van my reis in Italia. ’n Traan of twee word weggepik sodra haar trein begin voortsnel na Roma toe. Ek sou baie graag vir oulaas saam met haar in Trastevere wou gaan aandete geniet het… Ai, dit was so ‘n voorreg om vir ‘n tiental dae saam met my vriendin te reis. Ciao Janine!

Nou vlieg ek solo

Dis nou tyd om in alle erns die Italiaans te laat vloei en Afrikaans-praat is nou uit – soos die spreekwoordelike koekies in die weeshuis. Luide sentimente oor ander toeriste is ook taboe. Dankie tog vir Annamari se frase-boek en my eksman se Italiaanse woordeboek. Ek bekom ’n stadskaart by die toerismekantoor neffens die stasie en oriënteer myself met die stad se uitleg. Daar is ’n magdom van mooi mense met wat maal op al die sypaadjies, vroue stylvol gestewel in gladiator-sandale; almal op pad êrens heen. Dis snikwarm en die keistene is erg ongelyk. Ek moet noodgedwonge my tas dra in plaas van sleep en terselfdertyd probeer ek inskakeer by die byderwetses.

Ek spoor my hotel op – in ’n outentieke straat, ’n klipgooi van die Duomo af. My kamer is ’n welkome oase met ’n uitsig oor ’n lowerryke tuin in ’n binnehof. Nadat ek my tas ter ruste gelaat het, vaar ek weer die strate in met twee Firenze-doelwitte voor oë: 1) Om gelato (roomys) te eet en 2) Om ’n kaartjie vir die Ufizzi-museum te bekom. Beide doelwitte word binne ’n rekord tyd van tien minute behaal – te danke aan die puik wenke in my reisgids. Die wysneusige Amerikaners in Vernazza het glo al weke gelede aanlyn-kaartjies vir die Ufizzi  bespreek om die lang toue te vermy. Wys jou net, ’n n boer maak ’n plan!

Firenze is my speelgrond

Oopmond vergaap ek my aan al die veelkleurige kunswerke van die Ufizzi. Ek het nooit besef dat soveel kuns oor die eeue heen uitsluitlik vir die kerk geskep is nie. Ontelbare skilderye met moeder Maria en Christus as onderwerp, beslaan met goud op houtpanele, dateer vanuit die twaalfde, dertiende, veertiende eeu. Ek verloor my hart op die malse, reuse Boticceli-skilderye. Later doop ek staande ’n brokstuk biscotti in my caffé in die kantien, voordat ek my kunstog vervat. Potlode, poskaarte, boekmerke en sketsboekies – ek bekom ’n aantal mooie kleinodes van die Ufizzi vir geskenkies.

Dan verken ek die oue stad: ek merk ’n ry elektriese motors by ’n kragpaal op; stap oor die befaamde Ponte Vecchio wat brug oor die Arno-rivier; vergaap my aan die standbeelde in die Loggia dei Lanzi opelug-museum op die Piazza delle Signoria; drink die gebruiklike spritz op die Piazza Repubblica en waardeer die besonderse lig wat die geboue en beelde belyn. Opreggeteelde honde is volop, veral Beagle-honde wandel hier by die dosyne, eienaar op tou. Dan sak ’n reënbui onverwags uit en ek soek skuiling by ’n restaurant om die hoek van my hotel; my sambreel vergete in my tas. Ek bestel ’n grande bira (groot bier) teen die dors saam met bruschetta, gevolg deur sagte, vars pasta met ’n romerige sampioensous en ’n strooisel parmesaanse kaas. Ek plas donkernag huis toe en vind aanklank met die ritmiese reën teen die groen hortjies. Ek is besig om my spreekwoordelike Italia-wysie se te leer ken.

Deel 8 Kaapstad

Die rondomtalie van daaglikse spanning raak heel ongesiens deel van mens se wentel-bestaan. Wat ek wél begin opmerk het, is die Rosacea , ‘n ongeneeslike veluitslag, op my gesig; heftige tandartsrekeninge te wyte aan jare van snags tande kners; my frons plooie en grys hare; die kanker-roes op ons stokou motors en die alewige tien keer omdraai van ons sente. Al my ekstra spaargeldjies en SARS-terugbetalings word ingesluk deur my eksman se voortdurende mediese uitgawes vir terapie en medikasie. 

Maar, ten spyte van al die spanningsimptome, verryk God my lewe met dierbare, sielvoedende vriendskappe. Ek het gaan delf op my blog en dié skrywe opgediep en blink gepoets:

22 Maart 2006

Vriendskap vier hooggety!

Die somer se dae is getel. Die son drink saans al vroeër water en soggens kruip die oggendlig al hoe later in die vierkant van ons kamervenster. Ons het gister die warm namiddag verwyl saam met ’n groep vriende op Clifton se tweede strand. Ou gesels is uitgepak saam met ’n Italiaanse maal van tamatie, skywe salami en dan ook vars basiliekruid afkomstig vanaf my vensterbank. Met ons tone gekrul in die sand, het ons onsself verdiep in geliefdes se stories en welstand. Glase verkilde wit wyn en warm sake van die hart was pasmaats, die herfsgloed van die son blink op ons gesigte. Later is koffieflesse en warm baadjies nader getrek en klapperkoekies uitgedeel. Die 50 of wat trappe is uitgeklim net voor pikdonker en behaaglik het ons tuis die mandjies en komberse weer weggepak, vol en ryk met die vreugde van vriendskap.

Ek en manlief het besluit om Maandagaand tuis te ontspan, toe ontvang ons ’n oproep van ons geliefde vriende Nazeem en Felicity – hulle kom kuier. Ek is dol oor die opgewondenheid van vriende wat onverwags besoek aflê! Breekware is onseremoniëel uitgepak en skinkborde uitgedra. Ons liewe vriende het beman met hemelse gebak en ’n groot lus vir gesels opgedaag. Later het ons met warm harte gaan slaap. Dank die Vader vir dié dierbares wat so naby soos familie is.

Beide Sondag en gister het ek en manlief Nuweland se bos aangedurf. Hardloop en klim en stap vir ’n uur op ‘n slag. Ons het waterstroompies, yl en wagtend vir die winterreën, oorgesteek, ruïnes van die houtwagter se huis besoek, na voëlgesang geluister en talle vriendelike honde gegroet. Omtrent voedsaam vir die siel…

Ons aalwyne, het sowaar as vet(plant) vermeerder met 26 klein aalwyntjies! Ek het summier na ons terugkeer vanaf die drafsessie, begin aalwyntjies uitplant vir ‘n vale. Nou is ons die eienaars van ’n hele kroos potplante! Ons gaan dit eerskomende Sondag aan al my verjaarsdaggaste as geskenke uitdeel. Ons beplan ’n warm kuieraand met Chili con carne en rooiwyn. Dit is nou ná die naweek wat ons beplan om saam met Vic en Tia op die Weskus te spandeer. Ek sien uit na die kuiers met vriende wat voorlê…

  • Almari

    Halloo nig Carla dankie vir jou pragtige beskrywings dit voel of mens alles saam met jou ervaar! Kan nie wag vir die volgende een! So terloops ek is besig om my eie boekie te maak met jou verhaal.

  • RV

    Baie goed, klink na ‘n lekker vakansie! Jou woordeskat en sinskonstruksie verleen my om te se dat jy dalk ‘n skrywer in vermomming is

  • CH

    I just read your SARIE blog.. it has really moved me.

    Your writing is incredible!!! I read it in Afrikaans first and then translated it to make sure I got everything ;)

    I am most excited for the rest of your story.. keep me updated please!!
    May 2011 be your year!!!

  • Talana

    Hallo daar, baie dankie met die deel hiervan!

    Wow dit is regtig so ‘n pragtige stuk skryfwerk, so ‘n eerlike kykie in jou siel, wat baie oop en broos gewys word aan die wêreld.

    Mooi dag verder daar!

  • Carla Swanson

    Dankie Almari!

  • Karen Winter

    Carla …! Ek hou van prentjies maak, maar die prentjies wat jy in my kop skep met jou skrywe is ‘n fantastiese talent! Ek sien uit na die volgendes!
    ps ek moet eintlik werk, maar nou lees ek eers; jy inspireer my!

  • I Roos

    Hierdie Sarie-skrywe van jou is tops en ek kan sommer sien dit gaan vorentoe in boekvorm verskyn!

    Carla, dis werklik baie goed en jy het ‘n talent om dinge op so ‘n interessante wyse te stel. Ek is so bly dat jy dit aan my ge-epos het en ek sien uit na die volgende aflewering.

    Eks so bly dat jy en jou vriendin hierdie toer so saam kon doen. Ek is seker dit het baie vir haar ook beteken. Hoop dit gaan goed met haar.

    Ek het Eat Pray Love seker 3x gelees lank voor die fliek gemaak is. Ek het veral die 2de deel boeiend gevind,nie soseer dat dit in ‘n Hindoe ashram was nie, maar dat sy gesoek het vir die dissipline van stilword en verenig met die Godheid…of dis hoe ek verkies om daaraan te dink.
    Ek moet se dat die fliek my effens teleurgestel het.

    Ek is nogal spyt dat ek nie ,toe ek in Febr 2010 saam in Bali was, vir Katoet gaan opsoek het nie. Net daarna was daar ook ‘n klein artikel van hom in die TIME.

    Ek het nou net jou nuutste skrywe gesit en lees.
    Wat het ek jou gese : dis puik!

  • http://www.campsbayapartments.com Elize

    Wow Carla, Kan nie wag vir jou boek om uit te kom nie! Welgedaan!

  • Erna

    Weereens dankie Carla! Lana gaan einde Maart haar passie vir Italië uitleef. Ek hoop sy het genesende ervarings om haar pas gebroke hart te genees!