carla_krone
Diverse

Nuwe blog: “Eat Pray Love. Ditto” – Dag 1 – 3

Die ontstaan van dié storie …

‘n Paar weke gelede lê ek en lees die Oktober-uitgawe van SARIE met slapenstyd. Ek vind aanklank by die artikel oor drie vroue se belewing van die lewe ná egskeiding. Ek lees ywerig mee aan die Julia Roberts-onderhoud oor haar rol in Eat Pray Love. Vervaard skrik ek om drie-uur in die vroeë oggendure wakker en sit penorent in die bed. En loop skakel onmiddellik my rekenaar aan en begin tik. Dis tyd dat ek my eie verhaal begin noteer: die storie oor my onlangse reis na Italië, parallel verweef met my eie lewensreis van die afgelope dekade.

Vooraf

In April 2008 skaf ons Smart Tarts-boekklub die Eat Pray Love-boek aan. ‘n Paar weke later gee my man vir my dieselfde boek present.

Ek lees Liz Gilbert se verhaal en herken dele van my eie lewe daarin – sonder om dit wel te érken. ‘n Paar jater later skryf ek my ontkenning toe aan my sielkundige se loopgraafteorie: “Terwyl jy gewortel is in die oorlog, durf jy nie jou kop oplig nie. Nee, jy veg verbete en koes vir die koeëls. Dit is eers later, as die oorlewingstryd verby is, wanneer jy kan asemhaal en kan opkyk, dat jy die verwoesting om jou raaksien – en erken. Dit is dán dat jy die swartverbrande slagveld van verlore drome opmerk, die jare tel wat jy jou eie versugtinge onder die mat ingevee het, die puinhoop van finansiële verknorsinge bereken en die talente mis wat jy begrawe het…”

Maandag 7 November 2009 staan ek voor die magistraat en rammel my redes vir my egskeiding af. My eie mislukte huwelik oop en bloot vir myself én ander om te sien, te hoor, te stamel… swart op wit.

In Septembermaand 2010 bewaarheid ek my droom en besoek ek uiteindelik Italië saam met ‘n vriendin. Die fliek Eat Pray Love open op 16 September in Rome en drie dae later sit ek in ‘n fliekteater in Florence en kyk Mangia Prega Ama (Eat Pray Love) – nogal in Italiaans, waarvan ek omtrent geen woord verstaan nie!

Na drie weke oorsee, keer ek terug vanaf my reis – onherroeplik vernuwe.

Met my terugkoms vind ek ‘n enorme kookboek onder my kopkussing, La Cucina, van die Accademia Italiana della Cucina, met 2 000 Italiaanse streeksresepte daarin. Voorin het my eks-man geskryf: “Omdat ek lief is vir jou.” Dit is nou nadat hy as huisoppasser tydens my Italiaanse reis, saam met sy nuwe minnares in ‘ons’ ou dubbelbed geslaap het.

Ek gaan kyk weer die fliek Eat Pray Love by die Labiateater in Kaapstad op 12 Okotober – dié keer darem in verstaanbare Engels; ek vang al die fyn nuanses in die draaiboek op wat ek in Italië gemis het. ‘n Paar dae later e-pos my eks-man my met die woorde: “Dié fliek se tema is jou lewensverhaal.”

Ek kyk terug, en ek sien dat dit inderdaad waar is.

Dag 1 – ROMA

 

Sedert my universiteitsdae, was dit my droom om Italië te besoek. Dié taal se “erre” lok en nooi my tong nog altyd om daaroor te rol en bollemakiesie te slaan. Selfs my naam is Italiaans: Carla. En danksy La Gondola-restaurant in Kempton Park, is my gunsteling-disse al van toentertyd af Italiaans. Met genoegdoening het ek en my sus destyds die opgepofte focaccia platgeslaan en gesmul aan die brokstukke brood saam met ons slaai. Vino rosso oftewel rooiwyn, het ek eers waarlik begin waardeer in my matriekjaar; en ook maar goed, anders was my tandarts nou éérs ontsteld oor die verkleuring van my tande…

Uiteindelik op 11 September in die jaar 2010 van Onse Here, word my droom bewaarheid en vlieg ek en vriendin Janine Rome toe. Dit is nou nadat ons amper nié gekom het nie – Janine is vroeër vanjaar onverwags met borskanker gediagnoseer en ‘n dubbelle mastektomie het gevolg.

Carla: "Daar gaan my tas!"

Kompakte tasse-op-wiele in gelid, stap ons voldaan by die Fiumicino-lughawe na die busstop – erg beïndruk dat ons die openbare vervoerstelsel in die vreemde so vinnig kon interpreteer.

Rome ruik stowwerig. Ook na soet brooddeeg en dan effens na water – seker die vloei van die Tevere-rivier teen die stadsmure. Die ougoud-patina van die geboue is verbleik en die hortjies is ‘n verweerde weergawe van ‘n vriendin se Windsor-groen stoep in ons tuisland. Ons wentel en woel tussen die stylvolle Italianers deur en sleep ons tasse raserig oor die keistene van dié historiese stad. Durf mens waag om die omvangryke, eeue oue Roomse Ryk te probeer konseptualiseer? Dit blyk gans onmoontlik te wees. In sterk kontras daarteen is die moderne bromponies wat verbyzoem met sjiek Italianers met groot sonbrille op.

Janine se chemo-energievlakke hou goed tred en ons stap ‘n goot gedeelte van Rome plat in die oorblywende paar uur van ons eerste dag: die Colloseo; Vittario Emmanuele II met die kenmerkende goue engele; Fontana di Trevi (waar ons ons geld verwed dat ons sal terugkeer) en ander besienswaardighede. Al die geskiedkundige prag word op film vasgelê én natuurlik word daar saam geproe! Met die lek van my eerste pistacchio-geur gelato (roomys) neem ek myself voor om die res van die vakansie elke liewe dag ‘n roomys te eet.

Vir my gaan dié vakansie grotendeels oor eet en drink. Ek het hoeka vooraf, met die hulp van Yvonne Romano-kookkunsdiva, ywerig Italiaanse streeksdisse nagevors. En op daardie noot stop ons summier vir regte, egte Romeinse pizza – die bestelling op sigself ‘n goeie toets vir my fraseboek-Italiaans. Ek verwonder my aan die eenvoud van Italiaanse disse – die pizzabasis getuig van ‘n verposing in die vuurherd; die ansjovis swaar met sout op my tong. Ons verslind sowaar elk ‘n tamaaie pizza tesame met yskoue Italiaanse bier – nogal medio-grootte, want picollo is darem net té klein. Op pad terug na ons hotel loop ons sowaar ‘n Spar-supermark raak en ons koop proviand vir ons kamer. Nou ja, Buonanotte! Goeie nag ná ons eerste dag in Italië.

Dag 1 – KAAPSTAD

In die argiewe van my blog, herleef ek weer die begin van ons huwelik. Was die afskop van die wittebrood dalk ‘n stille aanduiding van die treurmare wat sou volg?

Carla in die Kaap

23 Januarie 2006

Ja, ek weet die Kaap is een van die gewildste vakansiebestemmings in die land, maar my hart trek met ‘n punt na die Krugerwildtuin. Vandag, terwyl ek in die gang afstap, toe kry ek ‘n effense snuf in die neus van daardie salige rondawelreuk: Grasdak en wildtuin-seep vermeng met ‘n tiksel toestaan-vertrek.

Ons is destyds in Januarie 2001 by Marloth Park neffens die Wildtuin getroud. ‘n Bosbruilof, kompleet met die bruid wat op die dak van ‘n seswiel-viertrekvoertuig arriveer (is dit dan ‘n 6×6?), ‘n vuurdanser in die nag en waatlemoen en troukoek bedien die volgende oggend saam met ontbyt. Ons wittebroodsnag was maar van korte duur en met geen lyflike plesier nie, want ons was net eenvoudig te moeg.

Die dag ná ons troue arriveer ons toe laatmiddag, ná die lekker ontbyt en saamkuier met al die gaste, by Pretoriuskop-kamp vir ons tweede nag van wittebrood – reg vir aksie, en nou praat ek beslis nie van braai nie! En wat begroet ons saam met die grasdakreuk by die instap by die rondawel? Enkelbeddens! En dié wat bekend is met die wildtuin, sal weet die meeste enkelbeddens in die ruskampe het ‘n prominente houtraam. So, selfs al skuif jy die beddens teen mekaar, sal jy baie dikvellig moet wees om gemaklik bo-oor die houtrif in die middel te slaap. ‘n Rustige nag, weer eens…

Vandaar is ons na Tambotie-tentekamp, naby Orpen-hek. Dié kamp is ‘n absolute juweel met dik, groen seiltente wat op ‘n rivierbedding uitkyk. Daar is geen winkel, ontvangs of restaurant nie, asook geen gemanikuurde tuine nie. Slegs die natuurlike bos, ‘n trop bobbejane wat snags in die boomtoppe slaap en stilte word hier aangetref. Dié keer het ons die enkelbeddens dwars gedraai en oorlangs oor die beddens langs mekaar geslaap. Die derde nag het sommer baie beter verloop… Uiteindelik!

Troue

Dag 2 – ROMA

In Rome maak mens soos die Romeine, aldus eet ons koek en sjokolade vir ontbyt. Ek smeer Nutella lekker dik op my cornetto (croissant) terwyl ek en Janine haar stamina bespreek. Sy is tans te midde van ‘n reeks chemoterapie en wonderbaarlik hou sy goed pas met ons vinnige tempo. Boonop het sy nog net ‘n handvol paar dae vanjaar enige vorm van oefening aangepak – én agterna met ‘n week in die bed geboet.

Ons stap deur die stil Sondagoggend-strate noord van die stasie, na Villa Borghesetoe. Dit is glo dié kunsgallery om te besoek in Italië en ons het weke vooruit bespreek. Kardinaal Borghese was ‘n meedoënlose kunsversamelaar, en die sewentiende-eeus villa is gevul met Romeinse kunsskatte; dit is nou minus dié beelde wat die Borghese-familie later aan die aangetroude Napoleon Boneparte verkoop het – ek sal die geskenkte kuns maar in Louvre-museum moet loop opsoek.

Die villa-vol-kuns is geset in wydgestrekte tuine wat wemel van fietsryers, drawwers, honde en kinders. ‘n Teater, koffiewinkel, biblioteek en selfs ‘n dieretuin word gehuisves op die terrein – kompleet met bont balonne en granita (vrugte-ys) te koop vir die kleinspan.

Nádat ons die siel met kuns verkwik het, wandel ons deur die tuine na die caffé (koffiewinkel) vir ietsie vir die vlees. Dáár beloer ek die plaaslike koffiemaniere; ek wil graag Italiaanse koffie bestel én dit met oortuiging drink. Beman (of dalk bevrou?) met my Italiaanse frase-boek en met mooie intonasie, vra ek vir “Uno caffé, per favore”. Die bedrywige kelnerin kyk my skeef aan en bevestig in Engels dat ek wel ‘n espresso-koffie wil drink. En jislaaik, my kleine koppie koffie het omtrént skop; geen wonder die kelnerin was skepties nie! Janine verdra gelate my grille en giere en bestel vir ons panini met sagte mozzarella-kaas en pienk parma-ham.

Dan stap ons verder om oor die dakke van Rome te tuur vanaf die Pincio-terras. Sigeuners probeer rose aan ons verkwansel op die Piazza del Popolo; ons baan ons weg met Via del Babuino verby die Spaanse trappe en besigtig die ontwerperwinkels van Dior, Gucci, Bulgari, Dolce & Gabbana, ensomeer. Ons soek lafenis teen die hitte met melkskommels op die Piazza della Republicca, waarna Janine terugkeer hotel toe, terwyl ek koers kies na die Pantheon toe. Ek kiek die vernuftige, simmetriese koepeldak – die ingenieurswerk is verstommend, en dan wals ek verby menige piazze en campi met musiekmakers alomteenwoordig.

Afrikaners is later omtrent plesierig toe ons die ou stadsbuurt Trastevere besoek vir aandete. Ons vlei onsself neer in die campo Santa Maria oorkant die gelyknamige kerk, een van die oudstes in Rome. En op aanbeveling van ‘n kollega tuis, bestel ons spritz – wat nogal sterk heninner aan oranje Fanta! ‘n Skeut helder oranje drank, genaamd Aperol, word geskink saam met prosecco (vonkelwyn) en sodawater en word getooi met vars lemoen. Salute!

Saltimbocca (kalfsvleis met salie en parma-ham), tiperend van Rome, doen die dis se naam gestand, en wil omtrént in my mond spring. Janine se osso buco (kalfsvleis-skenkels), die stroperige limoncello (suurlemoenlikeur) en selfs die broodmandjie is uitsonderlik – laasgenoemde met grissini (broodstokkies), snye vars ciabatta en papierdun melba in sellofaankoevertjies.

Ons knoop geselsies aan met die kelners en ek probeer my reis-woordeskat uitbrei; later koop ons buskaartjies in Italiaans by die auto biglietteria (“buskaartjie-outomaat”). In die stampvol bus skuur ‘n Italianer baie suggestief teen my agterstewe; ek beskryf in Afrikaans vir Janine, oor die koppe van die busryers heen, van die man se knoets teen my boud. Ons lag onsself ‘n papie toe ons veel later afklim – ‘n vrugtevolle én vreugdevolle dag agter die blad.

Mmmm, gelato!

Deel 2 – KAAPSTAD

Ek neem al vir etlike jare glad nie foto’s nie – in nabetragting ‘n klinkklare bewys dat ek nie aan my sukkel-sukkel bestaan wou herinner word nie. Ek kyk terug en ek kan skaars onthou dat ek destyds hoegenaamd gelukkig was nie. Tog staan dit hier, swart op wit, in my nuusbrief aan my vriende en familie in Gauteng…

13 Januarie 2002

Ja, sowaar, 2002 is hier! En Saterdae is die Kaap sinoniem met die Kaapse Klopse, kompleet met sambreeltjies en satynbaadjies. Groenpuntstadium is Saterdae vol van malse kleurkombinasies – blou met geel, bruin en skok-pienk, rooi en grasgroen.

Soos ek nou hier sit en skryf, sak die son lomerig oor die see.  Dit is reeds kwart voor agt, en dit sal nog vir ten minste ‘n uur lank lig wees. Ek teug aan yskoue sauvignon blanc terwyl manlief roosterbrood besprinkel met gerasperde kaas, gekapte uie en geel kersietamaties. Dan het ons het nog Maleise-hoenderkerrie met salomies wat wag vir later. 

Die vakansieluim huiwer nog in ons are; ons koppe is steeds in Plettenbergbaai.Ons smul en gesels en dut smiddae. Ons eet bottergeel mielies met ons hande; ons sit plat op ons boude op die rotse. Ons eet vars vis vanuit die see – eers met mozzarella, tamatie en vars basiliekruid uit die tuin; dan weer met kappertjiesaad en ansjovis. Thai-hoender word versier met ons eie uiegras. Stef Bos speel oor die radio en ons ry langs die berg en geniet kaas en olywe in Simondium. Ons stop by ‘n vriendin vir tee en ‘n berg geraam in haar sitkamervenster. En ons lewe, met oorgawe! 

Aan oefening dink ons glad nie; ons drink darem lang glase water met skeutjies suurlemoen. Ons praat oor die dae wanneer ons weer fiks sal wees en vyf kilogram minder gaan weeg; oor die vooruitsig van vriende wat gaan kom kuier en oor al die toeriste in ons agterplaas. Clifton en Kampsbaai se strande is tjokvol sambrele en uitlanders wat hul ponde hier kom spandeer. Ons verdra hulle, net soos ons die vele filmspanne en diesmeer verdra. Dit is immers Kaapstad se lewensaar én my brood-en-botter.

My enkel is ses weke na die verstuiting nog steeds seer en geswel. Die fisioterapeut by die “Mind & Body Balancing Clinic” is omtrent ‘n vonds! Die jonge rooikop, sproete en al, wikkel en woel met my lyf op ‘n matjie: strek, buig en ampertjies bars. My enkel is glad nie die fokuspunt nie, eerder hóé ek my gewig op my voete plaas. 

En dan kom die kop-gedeelte by: hy bevind met die soepelheidstoets dat ek hopelik te maklik “ja” sê vir alles en almal! Die stywe ham strings kan weer dui op angs en vrees. Ek skrik en vra waarvoor. Die jongeling glimlag vertroostend en verseker my dat die gees en vlees baie nou verbind is.  Nou oefen ek tuis om te ontspan en ek hou dagboek van my kleurvolle drome. 

My jaar begin rond – vol van die mooiste mense wat my omring met hul ryk persoonlikhede en diep gesels. My hart is dankbaar vir my dierbare man wat al my groei op 30-jaar aanvaar en verdra. Die somer is tasbaar in ons woonstel en in die skoon lug en in die helder blou see. My lyf mag dalk onfiks wees, maar ek oefen my menswees en ek leer om minder dinge stádiger te doen.  My siel proe-proe aan die nuwe jaar; my binneste groei en word ‘n boom. Mag ons bome groei en vrugte dra dié jaar! Op ‘n vrugtevolle 2002!

Ons besoek aan die Vatikaanstad was erg teleurstellend. Ek en Janine het vroegdag geroer en met die Roomse-metro na die Vaticana toe gery. Daar gekom, het die elle-lange tou na die museum al reeds rondom die stadsmuur gekrul.

Volgens my gidsboek is die Vatikaanstad se poskantoor baie meer doeltreffend as die Italiaanse posstelsel. Dus koop ons dadelik Vatikaan-seëls en stuur ons ons nuus terug huis toe. Janine se eet-vir-energie-beleid noop ons om ‘n blaaskans te neem – waaroor ek bly is, want as ek honger is, raak ek erg grommerig. Ons betree die vaal, verbeeldinglose Vaticana caffé (koffiewinkel) vir panini en ‘n skyf pizza – laasgenoemde eetgoed beslis nié iets om oor huis toe te skryf nie.

Ons is oortuig daarvan dat die Vatikaan-personeel geheime militêre opleiding ontvang. Dalk selfs ondergronds… en définitief seksisties van aard: ons het nie ‘n enkele vrou in diens bespeur nie. Al die parate personeel is deftig in pakke klere uitgevat en spog met sierlike dasse en duur donkerbrille. Maar o wee, van glimlag en gasvry is daar absoluut géén sprake nie.

Inteendeel, ons en die massa ander toeriste, word kompleet soos ‘n trop beeste deur ‘n gifbad aangejaag… En moenie dink mens kan eers behoorlik die befaamde, beskilderde dak van die Sistynse-kapel bekyk nie. Nee, ons word deur die drukgang gemars en aangemaan en gepor; ‘n vrou wat stilweg ‘n foto probeer neem word bruusk aan die elmboog weggelei – wie weet waarheen… Dít alles nieteenstaande die enorme toegangsfooi…

Selfs die Basilica di San Pietro is ‘n geldmaakfoefie met toue toeriste wat betaal om na die bekende koepel te klim. Binne-in die katedraal is dit koel en kalm; die ‘weermag’ is ook ‘n fraksie meer bedaard. Seker oor dit gratis is. Stilweg smag ons na die ruim, stil lokale met die wonderskone kuns wat ons gister by Villa Borghese besigtig het…

Ons ontsnap uiteindelik en ‘n vlaag van uitbundige vryheid verrys in ons – gelate koop ons gelato en eet dit genotvol op die sypaadjie. Dan tof ons tuis op vir ons laaste Romeinse-aandete. Ons keer terug na Trastevere vir die gebruiklike spritz as aperitivo - vergesel met bakkies oliva, pane (brood) en neute. Janine kry dan ‘n mier in haar spreekwoordelike reisbroek en ons stormloop ‘n paar winkels en koop botteloopmakers, t-hemde en sonbrille binne ‘n oogwenk. Die geskenke-lys is nou darem effe korter…

Aandete, by Gino’s op aanbeveling van ons hotel, is ook teleurstellend: alhoewel my spaghetti a la carbonara geurig is, is die porsie klein. Ditto vir Janine se frikadelle in tamatiesous. Selfs die vino rossa della casa (rooi huiswyn) is duur en sonder fut. Salige gelato is ons vertroosting op pad terug hotel toe.


Deel 3 – KAAPSTAD

Dit was net ná middernag, toe my man tuis, in ons dubbelbed, ‘n beroerte gehad het. Hy kon nét nie tot ruste kom nie en ek het naderhand half-vies gevra dat hy die bedlampie moet aanskakel. Saam met die lig wat die kamer verhelder het, het dit op my neergedaal dat daar gróót fout is. Wie sou kon dink dat ‘n topfiks man met ‘n rustende pols van 39 slae per minuut, ‘n beroerte kon kry?

Ek sal Saterdag 09 November 2002 nie vergeet nie. Tog het ek nooit hieroor geskryf nie. Ook nie oor my eie emosionele uitbranding en die gevolglike lang siekverlof by die hotel wat ek bestuur het nie. Of oor die stapel mediese rekeninge te wyte aan manlief se gebrek aan ‘n mediese fonds nie. Later, toe hy weer tuis afgelaai is saam met ‘n rolstoel, badbankie en met weinig geesdrif, het my ma opgemerk dat ons mekaar soos twee bedremmelde apies vasgeklou het. Voos. Verstom. Verslae…

 

Waar begin mens weer die lewensdrade optel as jy minder as twee jaar getroud is en platgeslaan is?

 

Waar begin mens weer die lewensdrade optel as jy minder as twee jaar getroud is en platgeslaan is? Ek moes maar net eenvoudig in die loopgraaf inklim, my geweer oorhaal en begin veg. Veg vir ons huwelik, vir kos op die tafel, vir my man se herstel, vir oorlewing. Eers amper agt maande later tel ek die pen op en skryf ‘n nuusbrief aan my geliefdes. Die vergruisende sleur word verskans met tooisels.

29 Junie 2003

Luilekker kuier op ‘n Sondagmiddag… Ken julle daardie liedjie op Geraas se nuwe CD? Dit is so ‘n luilekker-agteroorlê-liedjie. Amper soos óns Sondag vandag was, behalwe nou dat ons nié ‘n braai en familie-ete saam’t ma, pa en sus geniet het nie. Ons het wel lekker laat opgestaan en toe strand gesuiker om die warm dag te geniet. Selfs die moed gehad om ons bleek velle ewe kordaat aan die winterson en al die nuuskieriges te ontbloot.

Later het ons tuis gaan kiep waarna ek wasgoed wegpak het – dít nogal op die heilige, luilekker Sondagmiddag. Ek het met vaste reëlmaat volgehou en sommer ‘n appeltert ook saamgeflans. Ons het die aand afgesluit deur by skoonma te gaan films kyk: manlief wat spartel soos ‘n gogga in die water; roei-roei vriende vermaak in Saldanha en selfs ski in die Matroosberge!

Saterdagaand was ‘n absolute fees – ‘n Italiaanse ete by Björn en Cobie. Hulle het sewe-jaar-oue Sangiovese-wyn in Italië gekoop en vir weke lank gekarwei deur Europa. Die plaas waar die weergalose wyn geproduseer is, is meer as ‘n duisend jaar oud, en die befaamde familie skenk aan elke kind, met geboorte, ‘n volle 600 bottels. Ons vriende het afwentel in ‘n donker, klam en druppende kelder, al dieper die wand van die berg in, om die versameling vino te bekyk.

Die wyn is gekomplimenteer deur Cobie se Italiaanse kookkuns: rooiwarm soetrissies met harte van pesto en bokmelkkaas; boontjiepeule verfraai met pecorino-kaas; brinjalskywe opgekikker met knoffel. Die kroongereg was pastaskulpe met stomende ragu: beesvleis en olywe in ‘n basilie-roomsous. Dulce was Cobie se onoortreflike roosmaryn-sjokelademousse bedien in espresso koppies. Magnifico!

Nou, ja, ons het darem nie nét geëet die naweek nie! Manlief moes ook gaan werk, het ‘n haarsny by my ontvang en ons het onsself verlustig, saam met die res van ons Suid Afrikaners, in ons Bokke se manewales. Geen verdere kommentaar hieroor nie.

Baie groete tuis en stuur maar ‘n bietjie nuus weer die kant toe.

Carla

  • Elna

    Ek sal graag die res van Carla se storie wil volg – ook Isabel Niehaus se blog. Wat is hul blog-adresse? Hoe kan ek dit kry?

  • Elize

    Fantastiese blog! Het dit baie geniet om dit te lees!

  • Zamin

    Ongelooflike verhaal mooiste Carla!

  • Cel

    ek wil baie graag die res van Carla se storie lees…

  • Valentien

    Ek het Carla se storie baie geniet, en gaan definitief dit op haar blog volg. Haar loopgraafteorie was so ‘n raak beskrywing van die laaste dae van my verbrokkelde huwelik – dit is beslis hoe dit is.

  • Lindy

    Bravissimo, Carla!

  • Henriet

    Ek het lanklaas so ‘n goeie beskrywing soos die loopgraafteorie gelees!
    ek het haar blog ge-google maar kry dit nie, wat is haar blog adres?

  • Yvette Sinovich

    Carla dankie vir prag stuk, given me new insight into your life! Sal graag meer wil lees!

  • Carla

    Baie dankie vir al die gawe woorde!
    Hoogs gewaardeer!

  • Ricci

    Het Eat Pray Love 2 jr terug gelees tydens ‘n 3 mnde toer in die Ooste en dit klaar gelees terwyl ons in Bali was. Ek dink dit het my laat besef om net te bestaan in ‘n huwelik is nie genoeg nie. 2 jr later en ek is geskei en op ‘n nuwe lewenspad met God aan die stuur!

  • Larissa Matthews

    Carla ek is mal hieroor. Jy vat raak met jou ooprsponklike en op die punt af taalgebruik. Ek ruik sien en voel waar jy was. Dankie! Love it!!!

  • Mark

    Go Carla!!! Hugs & Kisses from us in Oz. Mark, Ursh, Rachel & Jason

  • bibi

    WOw…. wat n briljante lewensverhaal en so prakties en so beskrywend en so omskrywend en so absoluut met emosie….ek wag vir vlge een…

  • Pauli G

    Dankie liewe vriendin dat jy bereid is om jou sielepad en avontuur van self-ontdekking met soveel ander daar buite te deel. Hierdie ‘journey’ van jou is ‘n absolute inspirasie vir sommiges en dan weer insiggewend vir ander. Mense gaan vir soveel verskillende redes hierdie verhaal volg – in kreatiewe kleur, geur en briljante Italiaanse Afrikaans gelewer! Pauli

  • Magriet v Eeden

    Sjoe Carla doll, ek het jou lewens verhaal so ontsettend baie geniet. Jy het so ‘n wonderlike talent vir skryf girlfriend, ek sal graag nog meer wil lees. Dis is super awesome. Baie blessings en liefdetjies….

  • http://www.sarie.com Gwenni Field

    Wow Carla, your writing is totally awesome and I have SO enjoyed reading about your adventure. I can’t wait to read the rest. You have reminded me why Afrikanas is such an amazing language. Well done girl! Gwenni xxx

  • http://www.creatingcompetence.co.za Mareli

    Ai Carla maat, jou skrywery is STUNNING – geniet dit so om jou lewensreis te beleef – soms huil ek saam jou en ander kere lag ek lekker! Kan nie wag vir nog nie…Liefdegroete, Mareli.

  • S J van Rensburg

    Liewe Carla, jy is so ‘n spesiale mens! Lief vir jou tot in ewigheid! Mamma xx
    20 Des. 2010 21.29

  • Tia Smook

    Liewe Cala, jy raak ons diep aan, baie dankie dat jy jou lewe en skryftalent met ons deel! Lief vir jou!

  • http://osnvrvftqznc.com/ lslzcmns

    b41kEF hkcysuxelgut, [url=http://jmpbpnkqaftm.com/]jmpbpnkqaftm[/url], [link=http://ofrgsqwpfots.com/]ofrgsqwpfots[/link], http://pfiqrsyrhbba.com/

  • GR

    I was really moved by your story. You are an excellent writer and have a very sensitive story to tell. I can clearly see why Sarie readers will hang on your words …. I am sure that your candour and ability to articulate hope, fear, expectation (wedding night), disappointment, excitement and many other feelings will resonate with many. Well done.

  • Nise

    Sjoe …
    Ek voel kriewelrig en miskien ‘n bietjie angstig, maar tog optimisties…
    Met trane wat oor my wange rol wanneer ek oor die loopgraaf lees…
    Dankie Carla, dis beautiful! Ek kan nie wag vir die res nie!

  • ryrgrn

    7DZXHd juifkmbtbjkl, [url=http://nzzmifqrbqab.com/]nzzmifqrbqab[/url], [link=http://xwjxxqcxtrwf.com/]xwjxxqcxtrwf[/link], http://zfwrtrptfchr.com/

  • uyabry

    6Keoy5 faobixekauwh, [url=http://tsmflmhgvtdk.com/]tsmflmhgvtdk[/url], [link=http://qhdfiitdkprn.com/]qhdfiitdkprn[/link], http://dqswowxirefk.com/

  • Bartek

    Den Aufbau einer Social Media Beziehung mit der Art und Weise einen Frosch zu kochen, finde ich sehr amfcsant Die Tatsache, dass ich diese Anekdote noch nicht katnne, machte mich durchaus neugierig wie Du den Vergleich herstellst und liedf mich den ganzen Artikel lesen. Danke auch ffcr die aufgeffchrten Tools, die ich, mit Ausnahme von Google Alerts, ebenfalls noch nicht katnne und mir jetzt mal anschauen werde.Fazit: Lesenswerter Artikel ffcr alle die sich ein soziales Netzwerk aufbauen wollen. Trotz alledem sollte man immer vorsichtig sein und bleiben beim Haushalten seiner persf6nlichen Daten und Preisgeben seiner Persf6nlichkeit in sozialen Netzwerken. Deshalb hier von mir auch nochmal ein kleiner Videotipp zum Anschauen.Videotipp: