Diverse

Egskeidings: die pa se kant?

In die media word die vrou in die meeste skeisake as die “swakker” party beskryf wat die spit afbyt in ’n egskeiding. Almal kry die enkelma jammer.

Ja, daar is uitsonderings, ek weet. En natuurlik verskil kulture oor skeisake en toegang tot minderjarige kinders.

Maar ek wil praat van die situasies waar die pa’s bereid is om hul deel by te dra. Die ma vertel met soveel drama hoe sy sukkel om maandeliks met die onderhoudsgeld uit te kom, maar intussen betaal die pa’s meer onderhoud as wat daar van hulle verwag word. Hulle betaal onder meer vir hul kinders se buitemuurse aktiwiteite, en boonop vir die klere en skoene wat hiervoor benodig word.

As die kleuter snesies en seep moet skool toe neem, moet die pa daarvoor betaal. Ek het al gesien dat ’n ma ’n rekening van R30 van die tandarts vir die pa stuur. Nog ’n man betaal sy eks-vrou –’n gegradueerde – ’n salaris omdat sy nie “nou gaan werk nie”.

Ek hoor by ’n vriend sy eks het in die teenwoordigheid van hul kind gesê sy pa wil nie meer onderhoud betaal nie en nou kan die kind nie meer broodjies skool toe kry nie. Sy skeisaak was ook ’n nagmerrie. Toegang tot sy kind is van hom weerhou en hy moes telkemale hof toe gaan hieroor. Die ma het ’n kindersielkundige gaan sien wat beperkte toegang vir die pa voorgestel het. Die hof het dit so aanvaar sonder om hom te nader om sy kant van die saak te stel. Hy moes vir drie jaar ’n stryd voer om aan die hof te bewys hy is ook ’n goeie ouer.
Ek weet van pa’s wat uit pure moedeloosheid maar boedel oorgee en net hul onderhoud elke maand betaal. Van hulle hou dagboek en wil die kind eendag as hy groot is, verduidelik wat gebeur het. Daar is bv. die pa wat elke tweede naweek 800 km ry om sy kind te sien. ’n Ander pa vlieg weer elke ses weke 2 500 km. Sy verblyf- en petroluitgawese skiet die hoogte in. Sy kind is byna 7 jaar oud, maar die ma wil nie hê hy moet alleen vlieg nie. Nou vlieg die pa heen en terug om sy kind te gaan haal en weer te gaan aflaai.

Daar is ’n ander geval van ’n dokter wat weens ’n pynlike egskeiding selfmoord gepleeg het. Die ma het hul kinders gevat, glo agter ’n ander man aangetrek en hul pa alle toegang verbied. Hy kon sy kinders slegs onder toesig van ’n maatskaplike werkers sien.
En die kinders wat saam deur ’n egskeiding gaan, is verward en skaam om daaroor te praat. Al is hulle klein, is hulle bewus van die onenigheid tussen hul ouers.

’n Sewejarige dogter moet haar foon op luidspreker sit sodat die ma die gesprek tussen pa en kind kan volg. Die kind word ook voorgesê wat sy vir haar pa moet vra. Die arme kind word so oorheers wat sy telefoniese kontak begin vermy.

Die gevoel by die meeste pa’s is dat howe en sielkundiges nie objektief is nie.

Onpartydig, Polokwane