Diverse

Ek hou van swart, en ek dra dit graag.

Vir rooi moet jy selfvertroue hê – hope daarvan – anders loop jy eenvoudig in rooi se skadu.

Maar as jy rooi se baas is, is dit ’n heel ander saak. Dan’s dit onvergeetlik. Dink maar aan mense wat rooi hul stempel maak: Marilyn Monroe van ouds met haar wasbleek vel en volrooi lippe en Scarlett Johansson wat met haar skarlaken mond vandag se tydskrifblaaie laat smeul in daardie nuwe Louis Vuitton-advertensies.

Dan’s daar pienk. Die soort kleur wat my laat twyfel. Daar was selfs ’n tyd dat ek by SARIE ’n perk op pienk geplaas het, omdat ek geglo het dit wissel van outyds tot doodeenvoudig naïef. Maar pienk het my verkeerd bewys en nou weet ek dit kán stylvol wees. Daar’s ’n sekere sagte kolwyntjie-pienk,’n Franse pienk met flair en ’n wolkerige rooskwarts-pienk wat met ’n vrou se emosies werk. Ook met mans s’n, blyk dit. Want pienk is sowaar nou die mans-modekleur van die seisoen!

Ek kyk na geel en oranje, en ek vóél hul energie. En as dit kom by groen, verkies ek kakie-groen, die Out of Africa-soort, want dis vir my maklik om nostalgies te raak oor ons mooi kontinent.

Maar in my hart … is ek blou. Blou vang my altyd onkant. Blou laat my na my asem snak. Blou in al sy skakerings laat my opnuut verwonderd oor ons wêreld.

Ek het al voorheen oor kleur geskryf, maar toe vandeesmaand se tendens-storie tussen al die begin-van-die-jaar chaos op my lessenaar beland, was dit die bloue van hierdie blaaie wat my laat stilstaan het. My weer laat nadink het oor blou se inspirasie.

Dis die blou van ’n 17de eeuse Nederlandse meesterskilder soos Jan Vermeer. Hoe het sy hemelbloue ons so ’n jaar of twee gelede nie weer betower in die rolprent Girl with a Pearl Earring nie! Die halfedelgesteente lapis lazuli wat hy ure lank, dae lank met die hand gemaal en gemaal het vir daardie unieke skakerings wat van die doek wil afspring.

Dis ook die bloue van die Krugerwildtuin se geselserige glansspreeus wanneer die son hulle so skrams tref. Van die koninklike blou van hul bors tot die donkerblou van die veertjies om hul ore. Dis die luukse blou van die stuk Thaise rou-sy wat eens aan my ma behoort het. Die einste ryk blou wat nou teen my muur hang, en soms op ’n spesiale aand om my skouers vou.

Dis die eksotika van Afrika, soos die Toeareg, die Sahara se Blou Mense. Afrika-nomade wat in hul lang, blou draperings die sterre volg en die woestyn op hul kamele deurkruis. Ook na Timboektoe. Met lywe wat ’n geheimsinnige metaalblou glinster soos die kleursel van hul indigo gewade aan hul vel afgee.

Dis die blou van ons planeet in ’n oënskynlike oorlewingstryd. Al Gore se dokumentêre rolprent, An Inconvenient Truth, het net weer die broosheid van daardie blou onderstreep. Ook die feit dat nie een van ons meer kan sê ons gee geen bloue duit om nie. Die aarde ís en bly ons verantwoordelikheid.

Dis die blou van gerusstelling. Veral vir ons in SA wat nou aan die vooraand staan van ’n land met nuwe leiers en nuwe verwagtinge. Want waar anders in die wêreld kan jy dag vir dag opkyk en elke keer ’n hemelruim ervaar so wyd en só nimmereindigend blou.

Dís hoop.

Michélle van Breda

SARIE  Februarie 2008