apr_michelle
Diverse

Hare is belangrik

As dit net ’n af-dag is, sal sy sê: “Vra liefs weer môre” of “Moet jy nog vra!” Maar as sy antwoord: bad hair day, beteken dit één ding. Haar lewe is onderstebo, agterstevoor, plein verkeerdom. Dis dan nié die tyd om haar te konfronteer met strikvrae, onaangename verrassings of ongenooide gaste nie.

In my gesin was hare altyd soort van ’n ding. Ek wou krulhare hê, want my reguit hare het tot my hartseer gedoen wat reguit hare doen: net gehang. My suster wou reguit hare hê, want krulhare het streke en ’n wil van hul eie, het sy gewroeg. My ma was doodgelukkig. So met haar grys hare, selfs in haar vroeë 30’s. Soms het sy dit effens langer en reguit gedra; ander kere korter met ’n natuurlike krul. Met haar ligte vel en potblou oë was dit immer ’n wenkombinasie.

Selfs by SARIE was my hare – van die begin – ’n ding. Toe ek besluit om my kuif te laat uitgroei, het lesers my op ’n dag uit ’n vergadering laat haal om te sê dit werk glád nie!

Tydens die KKNK op Oudtshoorn het ’n groepie my voor die Queens Hotel voorgekeer om presies te kyk hoe my hare geknip word. As dit ’n geheim was, was dit tóé uit . . .

My hare was al baie van als. Baie lank, baie kort, baie so-so. Meestal omdat ek min knip-vrees gehad het. As iemand gesê het: Kom ons sny jou hare, was ek reg vir die uitdaging. Telkemale was ek proefkonyn op die stel van SARIE se fotosessies – heel dikwels tot my spyt.

Maar ek het ook darem ’n keer my hare grênd laat knip – in Parys, by ’n voorste instituut op die Champs-Élysées. My lang, donker hare is eers bevoel, toe bekyk en toe kom die uitslag van ’n tegnologies gevorderde hare-scan: My hare groei in verskillende rigtings en sal met moeite goed knip. Baie ure, etlike prosedures en honderde rande later (ek was gelukkig nie die betaler nie) het ek in skok met ’n superkort, maroenrooi kapsel straat-af gestap!

Dit was jare later op Poeket-eiland dat ek weer ’n kans gewaag het. Met my hare in ’n staat van algehele stylloosheid was die Thaise meisies se kort, blink, reguit bobs net te verleidelik.

Ek doen toe navraag, kry aanwysings en haal ’n trae tuk-tuk na die buurdorp vir ’n “cut-y off-y” in ’n piepklein salonnetjie. Ewe gespanne wys ek met duidelike handgebare hoe my bob moet lyk. Ek skrik toe ek gevra word om te lê!

Maar my vrese was onnodig, want die lê-sjampoe en kopmassering was my beste nog. Toe’s dit die “cut-y off-y”. Stukkie vir stukkie, sentimeter vir sentimeter en só sorgvuldig het my nuwe bob met ’n skeerlem vorm gekry. Perfek, elke haar op sy plek. Ek kon my kop swaai van links na regs, van bo na onder, selfs rondomtalie draai – daardie bob het net nooit sy fatsoen verloor nie.

Vroeg vanjaar stap ek in by ’n salon op Vredenburg aan die Weskus. Die gemoedelikheid van só ’n kleindorpse haarsalon tref my weer. Dis ’n bymekaarkomplek, ’n kuierplek, ’n mooimaakplek. Só dink Oom Jan ook, want toe hy sy vrou kom aflaai, kyk hy elke vrou tussen sjampoe, krullers en droërs goed deur. En toe bedank hy die haarkappers dat hulle SA se vroue só mooi help hou.

Sien, ek’t mos gesê hare is belangrik. Meer nog – dis ’n saak van landsbelang!

Geniet dié maand se hare-storie. Ek bly by my bob. Maak gerus die nuwe meermin- of milkmaid-voorkoms joue.