jun06izak6
Diverse

Ek sou wou

Let wel: Die klem val hier net op die “nog”, want voorlopig aanvaar ons dat dinge verloop soos ons gelei is en/of gekies het, reg of verkeerd.

Maar daar bly dinge oor waarvoor die tyd gou verbygaan. Jy kan nie ’n prima ballerina wil word en eers op 15 begin les neem nie.

Jare gelede het ek gelees wat ’n ernstig siek jong vrou geskryf het oor wat sy sou doen as sy haar lewe kon oorhê. Eintlik was dit eenvoudige dinge wat sy afgeskeep het: Sy sou meer speel, kaalvoet in die sand gaan stap, die son met vreugde begroet, op haar eie dans in die maanlig, en elke dag hande vol magrietjies pluk.

Dis wat ek bedoel.

Ek sou aangehou het klavier speel en nie op ’n dag toe ek en my ma een van ons weinige ernstige uitbarstings gehad het die klavier in Meulstraat met ’n slag toegeslaan het met: “Ek speel nie verder nie en neem g’n verder les nie!” (Ek het daarna nog soms gespeel, maar dit verwaarloos en nou kry ek heimwee wanneer ek na ’n opname luister en vir myself sê: Ek het dit ook gespeel …)

Ek sou meer aandag gegee het aan my pa, wat ek verwaarloos het. Vandag sien ek dat ek baie meer van hom in my het as wat ek lank wou toegee.

Moenie lag nie, maar ek sou graag ’n volledige graad in Grieks en Latyn en klassieke geskiedenis wou loop. Dit het ek besef die dag, vyf jaar gelede, toe ek op die eiland Delos tussen die ruïnes gestaan en skielik besef het: Maar hierdie mense het in die antieke tye ’n beskawing geniet wat merkwaardig was en wat in die vergetelheid verdwyn omdat ons feitlik niks meer van hulle weet nie. Hoeveel lesse het hulle nie om ons te leer nie! Dieselfde geld ons eie geskiedenis.

Ek sou goed leer swem. Tot vandag toe haal ek eers diep asem en plons dan in sonder om asem te haal en spartel tot ek die ander kant van die swembad haal. ’n Tragiese ervaring van onbeholpenheid.

Ek sou leer om goed te dans. Nie die soort gebontspring van vandag nie, maar behoorlik gly oor die dansvloer: Die wals, die foxtrot, veral die tango. (Ter verdediging moet ek darem sê dat ’n dansende predikant in my jeug nog “groot sonde” was – dit terwyl ons tog soms stilletjies weggeglip en in ’n Kaapse hotel gaan dans het! Maar, soos die meeste ander dansers om my, erbarmlike amateurs.)

Ek sou probeer het om een of ander ambag as stokperdjie te beoefen: Houtwerk, loodgieterswerk, slotmakery, of messelwerk. Veral vir laasgenoemde is daar naby my huis kursusse aangebied, maar ek het verskonings gemaak omdat ek lui was. Vandag vergaap ek my aan messelaars wat ’n baksteen in die lug tol, blerts met sement en dan netjies in ’n muur voeg.

Ek sou meer gedigte gelees en van buite geleer het. Dis ’n geweldige skat wat ’n mens in jou geheue wegbêre: Aanhalings uit Shakespeare, T.S. Eliot, Van Wyk Louw, Goethe, Gerard Manley Hopkins, Vergilius, die hele klomp. Ek het een middag by ’n baie ou dame gesit en sy het my betower deur die een aanhaling uit die wêreldliteratuur na die ander voor te dra. Daar was besieling in haar geselskap.

Ek sou ook meer van die ekonomie wou leer (want ná ek afgetree het, het ek uitgevind hoe maklik “finansiële kenners” jou van die wal in die sloot help). Ek wens ook ek het goeie aandele gekoop en gehóú. Maar om daaroor te droom is ook darem pret.

Die lys kan aan en aan gaan. Gelukkig het ek vroeg geleer dat God die middelpunt van alles is, die groot Geheim, maar ook die groot Hulp, die Een wat jou laat begaan tot by die varke toe, maar jou altyd weer terugontvang. Hierdie kennis dra jou: Al kan jy nie juis dans of swem of messel of al jou mislukkings terugroep nie. Want God is die groot Skat – die ander lekker en nuttige dinge is bysaak.