Diverse

Emigreer

Om te gaan met die wete dat jy terugkom, is totaal iets anders as om te gaan met die wete dat jy nooit weer sal terugkom nie, behalwe dalk met vakansie. Mense wat werklik so ’n keuse gemaak het – om watter rede ook al – kom in die meeste gevalle nie weer terug nie. Hulle betaal groot geld vir die verhuising, kom by hul nuwe blyplek, en byt dan vas en pas aan.

Natuurlik hang dit ook van die plek af, ás ’n mens ’n keuse het. Ons het een aand by ons Amerikaanse “kinders” in Nashville op die stoep gesit en die toneel voor ons bekyk: die heerlike woonstelkompleks, die vriendelike mense, skape en beeste wat ’n entjie voor die geboue op ’n stuk groen gras wei – en ek het by myself gesit en dink én dit hardop gesê: Hier sal ek gemaklik kan woon. Ook in my geliefde stad, Chicago. Of op Key West aan die Florida-kus, met die voorreg om elke aand die son te sien ondergaan oor die Karibiese See.

Die verskil is net: In Chicago en Nashville werk ’n mens. In Key West lê jy leeg. En aan lekker leeglêplekke in die wêreld is daar nie juis ’n tekort nie. Beslis ook nie hier nie.

Ek kon aan my seun in Engeland ’n paar dinge agterkom, sonder om hom reguit te vra. Byvoorbeeld: Hulle het baie vinnig aangepas en die feit dat hy hom in ’n werkomgewing bevind waar net meriete tel, speel ’n baie groot rol. Hy sê baie duidelik hy verlang na óns, sy ouers, maar “ek kan nie terugleef nie”. Hulle woon baie gerieflik, maar veel soberder as hier, en dit lyk nie asof hulle juis plaaslike statussimbole, wat hulle hier gehad het, mis nie.

Hy het nie veel klagtes oor klimaat nie, en sien uit dat daar tog ’n bietjie sneeu moet val. As gesin verlustig hulle hulle aan uitstappies na ou dorpies in die omgewing. Hulle hou van hul eie woondorp en dis maar tien minute se ry na sy werkdorp. Hulle het nuwe vriende gemaak, onder andere ’n paar Afrikaanse gesinne en kollegas. Toe hy aanvanklik met sy maatskappy se Nederlandse kollegas en kliënte kennis gemaak het, was hulle heel uit die veld geslaan dat hy in Engeland woon met ’n Franse van en “Hollands” praat!

Sy verwysingsveld is duidelik nie meer Suid-Afrika nie. Maar ’n gesin wat wyd verspreid is oor die aarde, bly ’n hartseersaak vir ouers. Dis asof ’n happie of tjippie uit die saamwees-, kultuur- en familiebord gebreek het. Soos ’n jong vriend uit Taiwan vir my skryf: “Die verstrooiing van ons gesin is nou totaal.”

Ek sou nie in Engeland wou bly nie. Of in Taiwan nie. Aan die ander kant: Hier waar ek woon, het ek ook maar teensinnig beland en tog aangepas. ’n Mens skop nes waar jy moet – of jy moet dadelik pak. Jou hart kan nie op een plek bly en jou lewe op ’n ander plek nie. Tog is ’n bietjie nostalgie ook nie ongesond nie, veral wanneer ’n mens na ou foto’s kyk van “die goeie dae”. Maar mense emigreer om een of ander besliste rede – en daaroor moet elkeen vir sigself klarigheid kry.

’n Bietjie droom is ook lekker: Ek het reeds tevore ’n woonstelletjie in Parys genoem. Wat van ’n woonplekkie op ’n Italiaanse dorpie? Wat van ’n klein plasie in die suidooste van Frankryk? Of op ’n Griekse eiland met die Mediterreense lug en blou-en-wit huisies? Wat van by een van die mere in die Salzkammergut in Oostenryk? Dit alles is ongelukkig vir die meeste van ons die plekke van lugkastele. Maar ’n lugkasteel op sy tyd is goed vir die gees.

Daar is net Een wat nooit kan emigreer of weggaan nie, en dit is God. Alle ruimtes, bekend deur teleskope en selfs nog onbekend, is sy tuiste. Hy ís die ruimtes en ruimtelose. En die wonder is dat God ook by óns is: Hy bly, maar Hy gaan ook met ons saam. Hy beheer die sonnestelsels, maar Hy vat ook ons hand: of ons bly en of ons ry.