j_b_met_09_006rs
Diverse

Fanie was by die Met

Minki van der Westhuizen is hot hot hot! Sy smeul op al wat foto is, maar in die werklike lewe is haar skoonheid sóveel te meer indrukwekkend. En sy weet wat haar pas as dit by aantrek kom. Die J&B Met was geen uitsondering nie. Dieselfde ontwerper wat haar trourok gemaak het, het gesorg dat Minki, in ‘n sagte sjiffonrok met ‘n hoë spleet en lae hals, uiters smaakvol lyk. En sy het nie eens hard probeer nie – geen vere of hoede om die aandag te trek nie. Haar uitrusting is afgerond met ‘n paar gladiator-sandale en ‘n Louis Vuitton-handsak.

Michael Mol het buiten sy Carducci-pak ook sy sjarme en sy vrou Jackie saamgebring. Soos gewoonlik was dié twee ‘n groot plesier en baie pret. Jackie het ‘n konserwatiewe maar stylvolle blompatroon-rok en blou hoed van Hip Hop gedra.

Chester Williams het gróót gedink. Hy en sy vrou, Maria, is aangewys as die tweede besgeklede paartjie by die Met, alles in swart en wit en silwer. Op sy pak was “J&B” in silwer geborduur, en op haar rok “Met”. Chester sê dit was die eerste keer dat hulle so voluit gegaan het vir die Met, maar dit was groot sports – en hoekom nie? Dis tog waaroor die hele besigheid gaan. En dít kan ek julle verseker, hy is regtig een van die aangenaamste mense op ons sosiale toneel.

En wát is ‘n party sonder Edith Venter! Ná al die jare is sy steeds ‘n hoofbestanddeel as dit kom by spesiale geleenthede soos dié. Edith is in, en almal is bly! En sy lyk so goed – sy pas haarself op en lyk werklik gelukkig.