Diverse

Fiksie

As daar tussen al die misterie, komplotte en moord nog ’n paartjie is wat verlief raak ook, is dit die ideale kombinasie.

Min of meer in die trant van: ’n Knap speurder – met groot persoonlikheidsgebreke – word gekonfronteer met ’n reeks geheimsinnige moorde op ’n klein dorpie. Die dorp se mooi jong dokter help hom. Sy is ook ’n teiken vir die reeksmoordenaar, maar die speurder red haar net betyds voordat sy geboei in ’n diep ou kelder in ellende sterf. Hulle val in mekaar se arms terwyl polisiesirenes rondom hulle loei. Die speurder se probleme verdwyn ook sommer in die niet.

Hierdie soort stories is nie almal se drankie nie. Ek het al van my boeke vir mense geleen wat dit teruggebring en net een halfpad gelees het. Dit was glo te vreesaanjaend en hou hulle uit die slaap. Die een se Coke is die ander se kasterolie.

Die probleem met speurverhale, rillers en romanses is dat ’n mens ná jare se lees naderhand reeds voor bladsy vyftig die verloop, afloop en oplossing raai en uitwerk. Jy leer ken die resep te goed, maar dit maak nie saak nie. En laat ek maar beken: As ek dit nie teen die helfte van die boek uitgewerk het nie, loer ek gou agterin of die heel laaste paragraaf my nie dalk die nodige leidraad gee nie.

Mense beweer kinders moet allerlei blokraaie doen en syferspeletjies speel om hul verstand te ontwikkel. Ouer mense moet dit glo doen om hulle teen Alzheimers te beskerm. Ek glo onwrikbaar jy moet eerder jou verbeelding lewendig hou. Elke ding het ’n storie en jy moet as ’t ware daardie storie kan “ sien”. Dis maar hoe poësie ook werk.

Aan die ander kant: Jy wórd self die held of heldin. Jy word ook soms die skurk of die verontregte. Een van my groot fiksiehelde is ’n gewese Amerikaanse militêre polisie-offisier wat sy “pakket gevat” het, van plek tot plek ryloop waar hy los werkies doen en gewoonlik by die oplossing van een of ander geheimsinnige misdaad betrek word. Hy koop vir hom klere by die goedkoopste winkels en het selde meer as ’n paar dollar kontant by hom. Die man kan skiet, die skurke se plan raai, hulle nekke inslaan, en af en toe ’n vrou liefkry. Maar aan die einde van elke storie gaan staan hy maar weer langs die pad en gooi duim na vreemde plekke …

Die skrywer van hierdie rillers waarin die goeie altyd oorwin, verdien ’n fortuin, want miljoene van sy boeke verkoop wêreldwyd. Ek gun hom dit en ek kan my inleef in die rustelose, onverbonde bestaan van sy “held”. Net die klere aan my bas, ’n geldjie in my sak, ’n bestemming iewers, en my duim in die lug langs die grootpad iewers heen.

Maar die liefde, al word dit gemaklik in rillers ingevleg, werk natuurlik nie so nie. Dit is eerder: “… Ragel was mooi gebou. Sy was beeldskoon. Jakob het haar liefgehad en hy het vir Laban gesê: ‘Ek sal sewe jaar vir u werk vir u jongste dogter Ragel.’” (Gen. 29:17-18) Jakob was gebind aan hierdie pragtige vrou en het met haar op die hoogtes van die liefde gedans en in die laagtes van smart oor haar dood getreur.

Ná haar dood was dit asof Jakob se son stadig begin ondergaan het. Ramp op ramp het hom getref, van die verlies van sy seun Josef en die droogtes, tot sy einde as ’n vreemdeling in Egipte.

Dis nie die fiksie van ’n nonchalante held op die grootpad nie. Dis die realisme van die liefde en die lewe. Dis ook die misterie, want deur dit alles weef God ’n plan: Vanaf die oomblik toe Jakob in ’n oogwink op Ragel verlief raak by die waterput, tot op die dag toe Hy sy volk – Jakob se nageslag – na vryheid deur die woestyn gelei het en verder. So is ons ook deel van ’n plan wat soms vér reik, met liefde en al die hoogtes en hartseer wat daarmee saamgaan.

Gelukkige Valentynsdag!