Diverse

Fluit

Die een sou ’n groot naam in die Westerse denke word. Die ander sou die Westerse wêreld in ’n chaos dompel. Dis iets om aan te kou: Daardie leergierige, onskuldige en eintlik vrolike kind – watter invloed gaan hy of sy eendag hê? Positief of negatief? Min of niks nie?

Want Hitler en Wittgenstein het nog iets met mekaar gemeen gehad: Albei was uitstekende fluiters. Nie met ’n instrument nie, bloot met die tong en lippe. Wittgenstein kon glo Beethoven se Negende Simfonie met gemak fluit en Hitler het as jong soldaat in die Eerste Wêreldoorlog sy kamerade in die aaklige loopgrawe vermaak deur allerlei liedere te fluit.

Dis ’n kuns wat hier blykbaar uitgesterf het, hoewel dit glo nog algemeen in Oostenryk en Switserland is. Jare gelede was daar in veral die Bolandse bruin gemeenskap uitstekende fluiters. Elke tweede man het ’n kitaar gehad en geloop en fluit en sing. Wat het daarvan geword? Het die popsterre nou daardie spontaneïteit vir geld oorgeneem? Dalk het mense besluit dis common. Sekere skole het immers fluitery verbied. ’n Ou vriendin vertel dat haar ouma gewaarsku het:

’ n Hennetjie wat kraai se n ek word omgedraai.
’ n Meisiekin d wat fl uit, moet by die agterdeur uit.

Maar ons dra darem vandag ontwerpersjeans wat by die knieë geskeur en/ of gebleik is en betaal ’n fortuin om common te lyk. Hoe verklaar jy menslike smaak op bepaalde tye?

Die bekende wolwefluit wanneer ’n mooi meisie verbyloop, is blykbaar ook iets van die verlede. Jy trek jou lippe op ’n sekere manier met jou vingers en fluit dan dat die hele wêreld dit hoor. Sou dit vandag as seksuele teistering beskou word? ’n Dekade of wat gelede was dit algemeen en ’n groot kompliment. ( Behalwe soms as dit van ’n onbeskofte spul manstudente voor Stellenbosch se ingenieursgebou gekom het.)

Vroeër was daar selfs ’n “ Fluitende predikantsvrou” wat ’n plaat gemaak het – nogal heel voortreflik en glo ook glad nie ’n swak verkoper nie. (Dit het tot ’n ander vrolikheid gelei – ’n kollega se vrou wat op plekke waar haar man moes preek, vreemd was oor waar sy gou kon “hande was”, het gereeld gevra na die geriewe vir ’n “fluitende predikantsvrou”. Dit het nogal menige stroewe koster laat glimlag.)

Daar is fluite van vrolikheid – die ou vriendin van die “hennetjie”- rympie fluit graag “wanneer ek gelukkig is”. Daar is fluite van verbasing – en dié word darem nog soms gehoor omdat selfs die sogenaamde postmoderne wêreld nooit ophou om jou met ’n nuwe mode of skelmstreek te verras nie. En daar is hier en daar ’n arbeider wat fluit terwyl hy spit of vee. Dit laat dink aan die beroemde vers van Milton:

While the ploughman near at hand,
Whistles o ’er the furrowed land,
And the milkmaid singeth blithe,
And the mower whets his scythe,
And every shepherd tells his tale
Under hawthorn in the dale.

Fluit daar gelaat. Is daar nog digters wat soos Milton hierbo kan sing?

Of soos Herman Gorter:

Een nieuwe lente en een nieuw geluid:
Ik wil dat dit lied klinkt als het gefluit,
Dat ik vaak hoorde voor een zomernacht
In een oud stadje, langs de watergracht –

Goed, die digter het waarskynlik ’n seun op ’n rietfluitjie of iets hoor speel (als een orgelpijp) , maar vir hom was dit die aankondiging van ’n lente-tydperk, in die natuur en die kunste.

Ek kon nooit behoorlik leer fluit nie, maar my pa kon. En hy het kitaar gespeel en sigare gerook. Toe hy in sy ouderdom stiller en stiller geword het, het ek die vrolike gefluit en kitaar en sigare gemis.

September fluit die voëls op my erf asof hulle lewe daarvan afhang. Daar is iets van natuurlike lewensvreugde in, iets van God. Hulle bedink nie wat Wittgenstein of Hitler bedink het nie. Hulle is ook nie common nie. Hulle fluit maar net omdat fluit deel van hul bestaan is. God het ’n lied in die meeste van hulle geplaas.

Dalk het Hy ’n lied in ons geplaas, maar het ons dit vergeet.