Diverse

Foto’s

En dan weet jy: Daar is niks met die lig verkeerd nie en die prentjie wat jy van jouself jou kop het, bestaan nie.

Gaan staan of sit voor ’n kamera en dieselfde gebeur. Die resultate word later vir jou gewys en die fotograaf is heel opgewonde, maar jy soek donkerte om na te vlug. Baie ydel, maar die waarheid omtrent jouself is nie altyd soos Ouma se poeding met roomys nie. Dis soms opgekookte blomkool.

Ek het sopas ’n boek klaargemaak: ’n Klompie vertellings van mense en gebeure wat ek meegemaak het, Strooidak tot toring. Ek het vir die voorblad ’n strooidakhuis en ’n toring voorgestel, maar die uitgewer wou ’n foto van my gebruik en toe ek my weer kom kry het die fotograaf aan my deur geklop.

Maar gelukkig was die fotograaf Phyllis Green van SARIE! En sy kan met ’n kamera toertjies uithaal – naby en ver – en heerlik gesels om jou te laat ontspan terwyl sy kliek en kliek. Dit het my aan die dae laat dink toe ek vir SARIE onderhoude gevoer het en foto’s van elke onderhoud geneem is. Een was van my en sanger Jan de Wet buite in die wind, terwyl hy vrolik die kitaar slaan en ek luister. Maar die wind het my en my hare nie gespaar nie. Die onderskrif wat ’n subredakteur geskryf het, was: “Jan sing dat Izak se hare so waai.”

Nou ja, my hare is nou stomp gesny en ek was hulle sommer met ’n waslap. Maar ek moet sê, Phyllis het ‘n goeie jop van ’n swak saak gemaak, warts ’n all.

Tog: Die beste fotoboek is in ’n mens se kop. Boeke en prentjies eenkant: ’n Mens se gemoed is die ene foto’s. Foto’s wat jy altyd weer kan “ervaar”. Dit roep ’n wêreld op wat verby is, wonderlik, vrolik, gedemp en hartseer. ’n Mens raak net in jou gemoed aan die knoppie van daardie tyd, en die beeld verskyn.

Ek dink skielik aan ’n vakansie toe ’n vriend binne sekondes dood is. Ek is na hul strandhuis en sy vrou het in die slaapkamer kaalvoet op die vloer gesit, haar rug teen die muur, haar hare in haar oë, haar trane soos blink slakstrepies langs haar gesig af. Wat sou ’n ware skilder van so ’n toneel gemaak het?

Nog ’n foto (met klank by): Die voordeurklokkie het vroeg in die môre gelui. Ek het iemand huilend en kermend in die gang na die slaapkamer hoor afkom. Dit was ons huisdokter en vriend wie se driejarige dogtertjie die nag skielik aan haar hart oorlede is. Hy het in my arms geval en aan my vasgeklou. Ek dink dis die grootste foto van smart wat ek in my gedagtes het.

Maar dan weer: Ek sit in my koerantkantoor en kyk na die Springbokke wat speel teen die All Blacks in 1995 in die eindstryd om die Wêreldbeker. Toe die eindfluitjie blaas, is die telling gelykop. Daar moet nóg twintig minute gespeel word. Voor die TV het ek en ’n paar senior redaksielede ons kneukels gekou. Toe kry die Springbokke die bal en Joost van der Westhuizen gee die mooiste van aangeë aan die losskakel Joel Stransky. My
hart sak in my skoene toe ek sien hy gaan skepskop, maar dis oor! Die Springbokke wen! Jubilasie in my kantoor en gejuig in die hele gebou.

Daar is ook ’n stil laatsomerdag met die son aan die sak oor Tafelbaai en ek staan in vervoering op die berg en kyk tot dit aand word. Op ’n ander dag het ek dáár by McClear se baken ’n diens gehou onder die hoogteson ter gedagtenis aan die gevallenes in oorloë: seker my “mooiste kerkdiens” ooit. En daar is ’n regte foto wat einste Phyllis Green ’n paar jaar gelede van ons straat geneem het toe die jakarandas uitbundig geblom het, groot donkerpers bome teen die helder Hoëveldse lig. En Louis se oë toe hy so drie jaar oud was. En . . . En . . .

Gaan sit ’n keer stil en roep die foto’s in jou eie geheue op. Mooi én hartseer. Dis jou eie prenteboek waarin net jy kan kyk. Dis jou avontuur. Dis léwe. Dit kom van God.

  • http://zzdautlcnrct.com/ pjahbmfz

    IxCs5Y ehqrwwzliurh, [url=http://jawlahuybaut.com/]jawlahuybaut[/url], [link=http://iuqordvzisfa.com/]iuqordvzisfa[/link], http://ydqntfcpzsjs.com/

  • http://ristzcmzpawb.com/ gghwdcwow

    AYAnRs oxfwvrztzxrd, [url=http://bwaisajjwjkw.com/]bwaisajjwjkw[/url], [link=http://fokudizxefsp.com/]fokudizxefsp[/link], http://ahebspsceeck.com/