img_0119_print
Diverse

Gees: Kyk, dít het ons!

Sovéél dat sokker vir ’n derde uitgawe in 2010 my inspirasie is. Ek het dit nie so beplan nie. Maar toe ek agter my rekenaar inskuif en die helder SA vlae op balkonne in die Kaapse wind sien wapper, het dié brief homself begin skryf.

Die afgelope weke was opwindend. En verrassend . . . juis oor die gees wat die land en ons hier by SARIE toenemend beetgepak het. Eers het ons die paar vlae wat ons destyds oor ons relings gedrapeer het toe Peter de Villiers en die Bokke die Wêreldbekerrugby gewen het, uit die stoorkamers gaan haal. Toe gaan koop ons nóg

25 vlae vir ons balkonne wat uitkyk op Adderleystraat en Hertzog-boulevard, en hang ook ’n string in die kantoor op. Mettertyd het ons ons naasgunsteling-spanne (ná Bafana, natuurlik) gekies en het ook dié vlae hul verskyning op kantoor begin maak.

Hier skreeu ons luid vir Frankryk (by SARIE is daar immers vanne soos Joubert, Cronjé, Visagie, La Grange, Fourie, Labuschagne, Le Roux); Engeland vir die Olivers en Greens onder ons; Nederland vir die Lensings en Oosthuizens; Duitsland vir die Gerischers en Wehrles; en Nieu-Seeland vir ons kinders vir wie dié land ’n tweede huis geword het. Ook vir Portugal en Italië (jy sal nie vra waarom as jy al dié manne in ’n pak, das en donkerbril gesien het nie!) en Brasilië oor hul passie en wen-houding. En vir die Ivoorkus en Kameroen omdat ons trotse Afrikane is. Selfs vir Serwië . . . ja, Serwië. Ons moet bieg ons het hier ons vlae so effens deurmekaar gekry!

Gees laat ons in toue staan om sokkerkaartjies, serpe, handskoene, bandanas en arm-verwarmers in die kleure van ons vlag te koop (dis soos leg warmers, maar vir jou arms – ja, toemaar, jy hoef dit nie te sê nie). Dis gees wat gewone ma’s, pa’s, oupas, oumas en kleinkinders in Bafana se kanariegeel laat pronk, en geharde rugbyondersteuners die vuvuzela laat blaas.

Ongetwyfeld ervaar ons almal met die sokker weer iets van Madiba se droom vir ’n reënboognasie.

Die droom wat hom tydens die Wêreldbekerrugby van ’95 in François Pienaar se no. 6-trui voor ’n skare van 60 000+ op Ellispark laat uitloop het en hom in derduisende Suid-Afrikanerharte verewig het. Die droom wat ons hoop gegee het.

Vandag weet ons dat dit grootliks dít was – ’n droom.

Want toe die harde werklikheid van die uitdagings van ’n nuwe demokrasie ons tref, het ons met hartseer besef dat die reënboognasie dalk ’n mite is. Dat daar geen kortpad is om die skadu’s van die verlede met die hoop op ’n nuwe toekoms te versoen nie.

Maar tog, die mens is gemáák om te droom, en dít het Madiba geweet. Dit is in ons aard om nuwe horisonne te verken en struikelblokke te oorkom. Om die onmoontlike te toets en ’n pad vorentoe te vind. Om met elke klein oorwinning groter te droom.

Nou staan ’n hele nasie agter Bafana.

As hulle goed doen, sal ons vreugde geen perke ken nie; as ons vroeg uitval, is dit nie die einde van die wêreld nie. Want SA het reeds gewen. Die wêreld sien, hoor en ervaar ons nou eerstehands en sal ons in ’n nuwe lig beskou. Maar méér as dit, the beautiful game het óns weer gewys ons kan saamstaan, as die wil daar is, ons kan saam die grootste sporttoernooi ter wêreld met sukses aanbied, ons kan saam ons landsvlag swaai en trots wees. Ons kan weer saam hoop op ’n verenigde toekoms vir ons land. Die “African Dream” kán ons s’n wees.

Groete,

Michélle van Breda


  • http://sgojrhdjudaq.com/ oolkhjnlyk

    v8Vjla gerjanochaon, [url=http://jxwqxekyuopv.com/]jxwqxekyuopv[/url], [link=http://jzkxoiaqhqnm.com/]jzkxoiaqhqnm[/link], http://sbhaqzlayiqj.com/

  • Licia van der Vyver

    Sjoe! Ek dink jy’t in my hart geloer toe jy hierdie redakteursbrief geskryf het! Dankie – dit is RAAK!