des07izak12
Diverse

Geskenke

Dis nou nie juis ’n naskeermiddel of ’n pakkie sakdoekies of ’n tandeborsel-stel wat hulle uit hul saalsakke gehaal het nie. Dis baie kosbare items, en as ek die verhaal reg lees, was die wyses nie juis spaarsaam met hoeveelhede nie.

Indien Josef-hulle die geskenke van die hand gesit het, is dit heel moontlik dat hulle ’n klein fortuin daarmee verdien het. Dalk het hulle in Betlehem nog ’n stukkie grond gekoop. Dit wil mos lyk asof Josef in elk geval daar grond besit het en juis soontoe moes gaan om dit aan die Romeinse belastingmanne uit te wys. Of sou hulle die opbrengs by bankiers gelaat het? Of dit gebruik het in hul nood om na Egipte te vlug gedurende Herodes se waansin? Of later die geld gebruik het vir Josef se eie timmermanswinkel? Hul eerste offer vir Jesus was duiwe.

Klaarblyklik het hulle agterna genoeg geld gehad om gereeld met feestye na Jerusalem te gaan. Maar niemand kan sê of hulle die goud onder ’n matras gehou het, of later die wierook geoffer het nie. Niemand weet nie. God sou in elk geval nie sy Seun op aarde onversorg gelaat het nie. Ek raai dus dat ’n goeie gedeelte van die opbrengs vir Jesus se opvoeding gebruik is. Jesus is as kind klaarblyklik met fyn beskawing grootgemaak.

Kinders is ’n groot verantwoordelikheid. Op my wandeling deur ’n winkelsentrum loop ek verby ’n jongerige ouma met ’n groot stootwa en drieling-babas. Soos altyd nuuskierig, vra ek haar effe uit oor die kleintjies. Sy maak dit toe duidelik dat sy die ouma is, nié die ma nie, maar dat sy moet oppaster speel terwyl die ma inkopies vir hul huis doen. Ek het haar sterkte toegewens en toe ek aanstap, sê sy skielik: “They are Christmas boxes. Presents.”

Ek was effe uit die veld geslaan. Dis immers laat September. “Oh, come on,” sê die vrou en lag. Later “vang” ek toe eers haar grappie dat ek nege maande moes terugtel. Die Kersvreugde het tot die drieling se “ontvangenis” bygedra.

Toe ek ’n ou vriendin, ’n kraamsuster en later matrone daaroor vra, sê sy: “Ja, in die hospitaal moes ons elke September bontstaan met die ‘Kersgeskenkies’.”

’n Baba in September is seker ’n vreugde, so saam met die lente. ’n Baba op Kersdag is seker ’n besondere seën. ’n Baba op Nuwejaarsdag ook. Eintlik … maak die datum ook nie saak nie. Ek het ’n familielid gehad wat op Kersdag gebore is. By sy geboorte het dinge maar erg skeefgeloop. Ek onthou nog dat hy ’n blou gesiggie gehad het. Sy ma was baie bedroef. Hy is later in ’n inrigting oorlede. Nie alle geskenke is sonder trane nie.

Dit geld natuurlik nie net geskenke nie. Dis ’n wet van die lewe self. Wanneer ons dink ons vaar sonder probleme, kom daar skielik ’n storm en veg ons om nie te sink nie. Jesus se koningskap sou Hom ’n kruis besorg. En tog vier ons met blydskap fees.

Daardie einste winkelsentrum was eergister vreemd stil vir ’n Saterdagmiddag. Maar van die werkers het skuiflere uit pakkamers gebring en groot dose nader gesleep. Een is oopgemaak en ek kon raai – eersdaags sal liggies weer in stekelrige stringe groen tussen die verdiepings langs die roltrappe opgehang word, en laasjaar se plastiekkransies op hul gewone plek hul verskyning maak.

Ek sou graag die wyses uit die Ooste die inkopiesentrum wou wys en hul kommentaar hoor. Ek sou graag saam met Jesus deur so ’n plek in die Kerstyd wou stap. Ek dink Hy sou effe verbaas wees, maar ook met genoeg humor en begrip om die geharwar in genade te beskou.

Dus: Laat die liggies maar brand aan hul groen stringe. Laat mense maar vir mekaar geskenke gee. Laat daar vrolikheid wees en vrede.

Maar, weg van ’n winkelsentrum, wat behoort vandag se goud, wierook en mirre te wees? Hoe gebruik ons óns seëninge? Baiemaal beskou ons dit as so vanselfsprekend dat dit nie meer glinster soos die goud wat dit ís nie. Miskien moet ons in die tyd van geskenke onsself afvra presies wat ons alles tot nou toe aan goue genadegawes gekry het – en hoe ons dit gebruik.