Diverse

Haar hare was vir my die mooiste

Elke koerant- en tydskriffoto het ek uitgeknip en in ‘n spesiale boks gebêre. Bo-op was geskryf: Anneline Kriel Mej. SA 1974.

En toe word sy Mej. Wêreld en Suid-Afrika bars uit sy nate van trots. Die blonde Anneline het die land en sy mense aan haar voete gehad: Sy was die media se liefling, fotograwe se gunsteling en elke jong meisie se droom.

Dit was ook die eerste keer dat ek van Witbank gehoor het. Anneline, die mooi meisie van Witbank. Anneline, die mooi, Afrikaanse meisie van Witbank. Witbank? Ja,’n klein myndorpie in die noorde van die land, het my ma my vertel.

So klein soos ons eie Overbergse dorpie. Ek onthou ons gesprek goed, want ek was verras en opgewonde. Want sou dit beteken dat ons almal – Afrikaans, Engels, ryk, arm, van plekke groot en vernaam of klein en veraf – ‘n gelyke kans het in die groot wêreld daarbuite? Dít het ‘n saadjie by my geplant . . .

Oor die jare het die land verwonderd gelees oor die dinge wat ons mooie Annie vermag en aangevang het. Bang vir ‘n uitdaging was sy nie, want hoe anders verstaan jy die liedjie “He took off my Romeos” wat sy laat opneem het? Daar was oorsese modesessies, plaaslike rolprente, Sondagkoerant-sensasie en verbrokkelde huwelike. Maar Suid-Afrikaners het nooit hul sagte plekkie vir die mooie Annie verloor nie . . .

En daar was nog ‘n gesig in my boks. Pearl Janssen, die mooi meisie van Kaapstad. Pearl, die mooi, bruin, Afrikaanse meisie van die Kaapse Vlakte. Die een met die breë glimlag en die wip in haar stap. Ek het altyd by haar foto’s vasgehaak. Want daar was ‘n magic daar – ‘n attitude,’n lewenslus. En sy’t hare gehad soos my beste donkerkop-Barbie. Glad en donker.

Sy was Suid-Afrika se eerste Mej. Afrika-Suid.

Hoekom werk dit só? wou ek weet. Waarom ‘n Mej. Suid-Afrika én ‘n Mej. Afrika-Suid? In Londen mis die mooie Pearl toe net-net die wêreldkroon en word aangewys as eerste prinses. Haar kroon het geblink; haar oë het gestraal – ek onthou die foto’s goed. Maar van Pearl het ek nooit weer gehoor nie. Sy het die “vergete Mej. SA” en amperse Mej. Wêreld geword.

Vandag ken ons skaars die name van ons beauty queens, want vir baie vroue is dit onaanvaarbaar om op grootliks hul uiterlike beoordeel te word. Braaf is wat ék hulle noem! Maar ek dink tog met ‘n vreemde soort heimwee terug aan my Mej. SA-boks. Vir ‘n jong meisie soos ek was dit gevul met hoop en drome oor ‘n groot, opwindende wêreld daar buite. Daar het ek gesien dat ‘n kleindorpse meisie die wêreldkroon kan vat as sy nie skrik vir ‘n uitdaging nie. Maar daar het ek ook besef dat die lewe nie regverdig is nie, en dat ons nie altyd gelyke kanse gegun word en die erkenning kry wat ons verdien nie.

Tog is mense lewenskragtig en kry ons dit reg (toegegee, met stampe en stote, ja) om die dice te speel soos hy vir ons rol. Lees Pearl se storie hier. Vergete of nie, op 58 het sy steeds die betowerende vonkel in haar oë en die swaai in haar heupe. Nes ek die foto’s onthou.

En sê sy steeds: It’s time to fly!

Met 2009 met ons is dit ‘n boodskap van hoop vir ons almal.

Groete,

Michélle van Breda

 

  • Louis

    Hi
    My versameling van mej SA’s dateer vanaf 1956 met fotos, prente en artikels.Ek het ook fotos van Ingrid Mills wat SA in 1953 in die Mej Heelal kompetisie verteenwoordig het
    Groete
    Louis