wxw_7023
Diverse

Amaria hoor die Harleys brul

Op 19 Februarie vanjaar woon ek toe Harley Davidson se bekendstelling van hul nuwe motorfiets, die Iron 883™ by. Met ’n man wat mal is oor motorfietse kon ek hom nie beter bederf nie: hy moes saam! En watter man is nou nie mal oor motorfietse nie. Dis living on the wild side of life, of in hierdie geval, die dark side, aangesien die Harley Davidson-bekendstelling gewei is aan hul Dark Custom-reeks.

Die aand het meer as net die opwinding van nuwe motorfietse gebied; dit het ook gewemel van bekendes. Selfs ’n Hollywood-akteur: Ja, kan jy glo, Billy Zane, wat destyds saam met Kate Winslet en Leonardo DiCaprio in Titanic gespeel het, was daar. My man het gedink dis Arnold Vosloo en na ‘n hele debakel vind ons toe uit dat dit wel Billy Zane is.

Liezel van der Westhuizen (Idols-aanbieder), Roxy Louw, Lisa Cowley (sy was in Januarie 2009 die model in ons mode-storie) en Colin Moss het almal die aand geniet omring deur motorfietse van die Dark Custom-reeks. Daar’s die Cross Bones™, Fat Bob®, Street Bob®, Night Rod® Special, Night Train® en Nightster®. Die pryse begin by R79 000. Het julle geweet Harley Davidson is al 106 jaar oud – goeie genugtig, en ek het gedink dit het in die sestigs ontstaan!

My man raak soos ‘n klein kindjie in ‘n speelgoedwinkel toe die Iron 883™ ingery kom – nou is dit al wat hy wil hê. (Hoe gaan die sê-ding: Boys and their toys – it just gets more expensive with time.) Die klank van die motorfietse was oorverdowend onderin die kelder waar ons was. Maar daarna volg die hoogtepunt van die aand – Prime Circle wat van hul ou gunstelinge tot die treffers op hul nuwe CD speel. Met “She always gets what she wants” het die dames mal gegaan! Ná Prime Circle se vertoning het my man eers al die motorfietse van nader bekyk en groot-seuntjie-drome gedroom. Wel, ek dink hy droom nog steeds . . .

 Vir meer inligting oor die nuwe Harley Davidson-reeks: 021 674 6320, Michael.Carney@harley-davidson.com