Diverse

“Hier staan ons binne-in ‘n nuwe jaar” – Michélle van Breda skryf

“Ek ervaar die opwinding van nuwe dinge wat voorlê so saam met ’n effense benoudheid oor die onbekende pad waarop ons ons nou bevind. Die twaalf maande wat kom, gaan genot bring, maar sowaar ook ’n struikelblok of twee. Dis mos die aard van ’n nuwe jaar, hy kom met sy eie lief en leed.

Tog dink ek ek moet my brief in SARIE in 2013 met minstens ’n Nuwejaarswens afskop: Meer tyd, vir ons almal!

Vir seker is ’n gebrek aan tyd ons almal se grootste moeilikheid. Daar’s te min tyd om te beplan, om te deel, om te voel, om na te dink, net te min tyd om te geniet. Naderhand lyk als soos ’n struikelblok en ons sukkel om by daardie boer-maak-’n-plan uit te kom. Goue geleenthede kyk ons sommer mis, want te min tyd beroof ons van goeie oordeel en vernuf, en ons vermoë om die lewe se lekker raak te sien.

Die kere dat ek by vroueoggende gepraat het oor meer tyd vir ons almal, was die reaksie in die gehoor skoon emosioneel – duidelik omdat nie een van ons meer weet hoe en waar om die tyd te vind om te doen wat ons moet nie. Tyd om te doen wat ons wíl, dié bestaan ook lankal nie meer nie. Ons is eenvoudig tyd-arm en dit beroof ons van wie ons regtig is.

So, hoe word ons 2013-wens waar? Wat van ons voorkeure so ’n bietjie orden, wat van so ’n bietjie meer dissipline en wat van soms net mooi nee sê?

Uit eie ondervinding weet ek dat dit dikwels onbelangrike goed is wat ons tyd steel. Dus heel eerste ’n lysie: wat’s belangrik, wat’s nie. Heeltemal onbelangrik kry dadelik ’n streep deur. En dan volg die dissipline om te sorg dat ons minder tyd bestee aan die goed wat minder belangrik is sodat ons méér tyd kan gee aan dit wat werklik waarde het en ons lewe verryk – ons mense, ons diere, ons stokperdjies, onsself. Daardie eenvoudige woordjie ‘nee’ kan goed te pas kom, want dis die te veel ja’s 
by die huis en by die werk wat ons beheer oor kosbare tyd laat verloor, en bydra tot die spanning en trane oor te min tyd.

Van dié maand af nooi ons jou om in 2013 meer te deel in SARIE (bl. 14 in die Januarie-uitgawe) – dis immers jou en ons almal se tydskrif. Dalk het jy ’n storie om te vertel, gedagtes en emosies wat jy al lankal in woorde wou omskep, miskien wil jy jou staatmaker-resep stuur of net vertel van jou gunsteling-dinge.

Of wil jy saamgesels op ons sosiale media; jou mening laat tel. Ja, dit vra tyd, maar dis waarom jy vaarwel gaan sê vir die onbelangrike goed in jou lewe sodat jy tyd het om jouself weer te leer ken en te deel in die dinge wat vir jóú belangrik is en jou laat goed voel. So gaan ons 2013, met al sy lief en leed, met nuwe 
selfvertroue in die oë kan kyk.”

WAT IS JOU NUWEJAARSVOORNEME?

  • Charmane

    Ek het nie ‘n voorneme nie, maar het besluit om BESLUITE te maak en dit uit te voer :-)). Alreeds begin met my besluit om fiks te word en stap nou id aande so ‘n halfuur….soooooo lekker!