Diverse

Hier waar ek in my kantoor in Kaapstad sit, gooi die son lui skadu’s oor die balkon.

Net twee weke gelede het ek nog die hitte geniet – in China by ’n internasionale tydskrifkonferensie. In Beijing is dit lente en in die taxi vanaf die lughawe verwonder ek my aan die lanings bome met hul nuwegroen blare, en die sierlike duike van ’n rooi vlieër in die lug bo die stad. Dit lyk rustig.

En dít is allermins Beijing. Want dis ’n stad op ’n drafstap: 16 miljoen inwoners, 3 miljoen motors, 9 miljoen fietse. Soos Katie Melua sing: “There are nine million bicycles in Beijing, that’s a fact.” En om die “Voëlnes” (die noemnaam vir die nuwe Olimpiese Stadion) is daar ’n geskarrel soos min vir die Spele in Augustus aanstaande jaar. Verwag die béste, sê die Chinese wanneer jy hulle daarna uitvra.

Ek het die stad twee jaar gelede besoek en in dié kort tyd het die horison verander. Ontwerper-boetieks, internet-kafees, flitsende neonligte, ’n polsende naglewe, blink vyfster-hotels wat oornag verrys, nuwe musiek, nuwe geld. Jy voel die energie, 24/7. Vergeet New York – Beijing is die stad wat nooit slaap nie! Dit krioel, dit beweeg, dit pols.

Die grootte van die stad is oorweldigend. Hoofstrate oor ses, agt bane, stadspleine so groot soos kleinhoewes en geboue wat blokke beslaan. Kyk jy op na die marmerpilare van die Great Hall of the People, China se parlementsgebou op Tiananmen-plein, raak jy byna duiselig. Die banketsaal, waar ons op die laaste aand van ons konferensie onthaal is, kan 5 000 mense met gemak bedien.

Maar dis ook ’n stad van kontraste. Volg die nou straatjies van die hutong, die ou dele van Beijing (wat ongelukkig by die dag gesloop word om plek te maak vir glas en staal), en jy herken die sjarme van ’n stad duisende jare oud. Huisies met perfekte binnehoffies, ou brûe wat boë oor die rivier span, groepies mans wat ’n potjie mahjong op die straathoek speel. En tref jy ’n teewinkel, staan jy verstom oor die fyn rituele, die netjiese proe.

Dis ’n land waar jy jou verwonder aan die vreemd-interessante kultuur, kos wat haaivinsop, gepekelde jellievis en eendtong insluit, en ’n taal, so mooi in sy geskrewe vorm, maar so onmoontlik op ons tong. ’n Land so ver, maar tog ook so naby.

“Made in China.” Dís vandag die tjap op elke tweede trui, teekoppie en stuk tegnologie. Selfs in die modewinkels van New York kan jy dit nie miskyk nie. Sowaar loop ek toe my groen Chinese teepot in die strate van Beijing raak. Waar’t ek myne gekoop? Nêrens anders as by ons Mr Price nie!

Hoe klein het die wêreld nie geword nie. In Beijing, waar jy nog met Chinese stokkies eet, kan jy net so vinnig by McDonald’s inhardloop of ’n Häagen Dazs-roomys eet.

Dis lente in Beijing, en ek ruik die fyn geur van pioenrose – my gunsteling-blom. Sou ek hier kon bly? Vir die kos, skaars. Vir die gebrek aan persvryheid, met moeite. Vir die adrenalien van ’n groeiende wêreldstad, ja. En vir die doelgerigtheid van ’n nasie met ’n ryke geskiedenis van 5 000 jaar, wat homself in die 21ste eeu wil bewys, vir seker, ja.

Maar hier waar ek staan in my spogkamer in die China World-hotel, wat my met ’n bos rose op my verjaardag verras het, en ver oor die stad uitkyk, sien ek ’n bruin wolk swaar oor die stad hang. Die lenteson sukkel in ’n oranje skynsel deur die rook. Ek dink aan Kaapstad. Kaapstad in die winter wanneer die lug blou is. ’n Skoon, helder winterblou. En ek pak my tasse om my vliegtuig te haal …

Groete
 
Michélle van Breda

SARIE Julie 2007