louis_en_lise_1
Diverse

Hierdie week se vrae op ‘Wie is ek? – met Louis en Lise’

Vraag: Wat is outisme?

Antwoord: Outisme is ‘n diagnoseerbare emosionele versteuring, en word gekenmerk deur onttrekking van ander mense, gedrag wat heeltyd herhaal word, en ongemaklikheid en selfs vrees vir enige verandering in die omgewing. Die oorsaak van outisme is medies van aard, en keer dat die brein kan inligting ontvang en verwerk. Die meeste mense vind die gedrag van Outistiese mense “vreemd” en “abnormaal”.  

Mense wat sukkel met outisme vind dit moeilik om met ander te kommunikeer, om na mense te kyk en hou meestal glad nie daarvan om deur ander mense aangeraak te word nie. ‘n Persoon wat outisties is leef in hulle eie binnewêreld. Hulle kan moontlik net met hulleself praat, wieg soms heen-en-weer en lag vir hulle eie gedagtes. Hulle hou nie van enige vorm van veranderinge nie en kan dit moeilik vind om nuwe gedrag, soos die gebruik van ‘n toilet of skoolgaan, aan te leer.

Vraag: “My man het my gelos na 5 jaar se huwelik, ek het dit nie verwag nie, en dink nie daar is ‘n derde party betrokke nie. Hy ly aan bipolệre depressie. Toe ek sy goed inpak kom ek op 6 vol bokse medikasie af wat hy natuurlik nie geneem het nie. Hy net vir my kom se dat dit oor en verby is, en ‘n maand later is ons amper geskei – wag nou vir ‘n datum. Hy het n psigiater gesien verlede jaar, maar sy pille gestaak om vir haar te wys hy kan sonder dit. Sy het voorgestel dat hy dit oor ‘n langer tyd afskaal, en toe weier hy om weer te gaan.

Hy het n stresvolle werk en bly party weke in moeilike omstandighede (uit in die opelug). Hy werk al 17 jaar vir die maatskappy. Ons het vir 6 maande na sy broer se kind gekyk maar toe dit gebeur, kon ons nie aansoek doen vom pleegouers te wees nie.

Ek het my pleegkind en my man verloor – hy weier kontak. Ons was vir ‘n mediasie-sessie by ‘n prokureur maar my man het net gesê dit is klaar en verby. Wat is julle raad?”

Antwoord: Hierdie is ‘n baie goeie voorbeeld van hoe ‘n geestestoestand wat nie reg hanteer word nie, lewens en verhoudings groot skade kan aandoen. Mevrou, ek weet nie hoekom jou man dit so besluit het nie, maar dit lyk tog of sy diagnose ‘n groot rol daarin speel. Dit kan wees dat hy maar net ongelukkig in die huwelik was, maar mense wat sukkel met bipolệre depressie, en nie medikasie neem daarvoor nie, se kanse is baie sleg om dit onder beheer te kry. 

Om medikasie ook sommer net te stop sonder om dit oor ‘n termyn af te skakel, kan baie erge gevolge hê.  Jy kan niks daaraan doen nie, want dit bly sy keuse. Al wat jy kan doen, is om met sy vriende en familie te praat en hulle te vra om hom te help omdat hy ‘n mediese probleem het. As dit ongelukkig gaan kom by ‘n egskeiding, moet jy ook seker maak dat sy oordeel jou nie benadeel in die skikking nie.  Daar is altyd hoop, ons weet dat medikasie baie goed werk vir bipolệr, en hopelik kan hy weer helder begin dink as hy medikasie begin neem.
 

Vraag: “Ek kort asb hulp… Eks baie jaloers en vertrou glad nie!!!!  Ek word Junie 20 jaar oud en is al 6 jaar in ‘n vehouding, maar ons was al so paar keer uit! Dit gaan baie goed tussen ons maar ek vertrou hom niks… Ek bel hom seker elke halfuur, ek wil hom net by my hê en heeltyd by hom wees, ek gaan op sy foon in ens.

Ek wil nie so wees nie en dit gaan ons verhouding nog breek, ek weet dit!!!! Ek is nog jonk, ek weet… Maar 6 jaar saam met iemand is lank en ons is verby lief vir mekaar en praat nog steeds oor ons toekoms saam, maar daar is altyd die “maar” in die gesprek agv my jaloesie en die wat ek hom niks vertrou nie! Ek wil ook nie eers hệ hy moet alleen dorp toe gaan of in die mall wees nie. Ook nie saam sy pelle kuier nie en om alleen in kuierplekke te wees is heel uit! Asb help? Ek moet ook sê dat dit nie net van my kant af kom nie! Dankie….”

Antwoord: Dit klink of julle baie erg oor mekaar is, en ja, ‘n ses-jaar verhouding is baie lank en nie die moeite werd om te verloor net as gevolg van jaloesie nie. Jy sal jouself baie mooi moet vra wat dit is wat jou so onseker laat voel? Gee hy jou regtig rede? Dit klink nie so nie. Mense wat so erg jaloers is voel dikwels onseker van hulleself, en dink eintlik dat hulle nie goed genoeg is vir die ander persoon nie.  Jy is dus bang hy ontmoet iemand anders, en sien dat sy “beter” as jy is (mooier, ouliker, ens).  
Jy het dus ệrens voorheen in jou lewe geleer dat jy nie “goed genoeg” is nie, of anders gestel, dat jy jouself moet bewys om heeltemal aanvaar te word. 

Dink bietjie mooi, jy sal agterkom waar en hoe jy dit aangeleer het. Nou moet jy dit afleer, want dit gaan verseker julle verhouding sink.  Vat dit stappie vir stappie, bel minder, laat hom meer op sy eie gaan, en jy sal sien, tien-teen-een gaan daar niks slegs gebeur nie. Sterkte!

Vraag: “Ek het onlangs matrikuleer en word nou 19. As kind het ek in moeilike omstandighede groot geword. My ma het nooit gematrikuleer nie en kon nooit ‘n standvastige werk kry nie. My pa is oorlede toe ek 6 is en my ma het het weer getrou met ‘n man met wie ek en my sussie nog nooit veilig gevoel het nie en by wie ons nooit daai vaderskap kom kry nie.

Hy het al aan my probeer vat, maar ek het dadelik gaan slaap en nooit daaroor gepraat nie. My ma het ook ongelukkig vir 12 jaar by hom gebly ten spyte van die slegte dinge wat hy al gedoen het. Ek dink dit was maar vir finansiële ondersteuning. Ek was maar nog altyd ‘n ‘wegloop’ kind, en het altyd van my omstandighede probeer weghardloop. 

Ek was 8 to ek by familie lede moes gan bly vir 4 jaar. Na dit het ek terug gegaan na my ma toe. Ek het altyd goed presteer ten spyte van my slegte omstandighede.

Ek het nog altyd gevoel of ek nie regtig hoort waar ek is nie.  In Graad 8 – 9 het ek by my pa se broer gan woon waar ek gevoel het ek kry liefde deur geld wat gelei het tot my molestering. Hyt my omgekoop met geld. Dit het ek nog nooit met enige iemand gedeel nie en net teruggetrek na my ma toe.

Toe kom daar nog ‘n storm in my lewe. Ek was 15 en toe raak ek deurmekaar met ‘n 30 jarige ou. Ek het gedink hy was die beste ding wat met my kon gebeur het op daai tyd want ek wou so graag ‘n model wees en hyt my potensiaal raak gesien en aangedring omy te help. Ek was nooit verlief op hom of myself enigsins in ‘n verhouding gesien met hom nie,  maar met tyd het hy my uiteindelik ingedwing met sy slim praatjies en beloftes.  So te sệ het dit die grootste gemors uitgedraai.  Daarna, het ek verlief geword op my hoërskool liefde. Vir 2 en ‘n half jaar was ons saam, maar tog was daar altyd komplikasies,  en ek het altyd gevoel soos die fout oor my verlede.  Ek het altyd my probleme en tragedies self verwerk.

Hoekom ek met ‘n ouer man betrokke geraak het weet ek nie. Was dit omdat ek ‘n tipe vaderskap gesoek het? Sal ek verhoudingsprobleme vorentoe in my lewe hệ oor al hierdie goed wat met my gebeur het, en ek dit by myself probeer verwerk het?  Ek is nog bitter jonk en ek soek oplossings en antwoorde.”

Antwoord: 
Ek gebruik graag jou vraag as ‘n voorbeeld van so baie mense wat deur dieselfde proses is.  Seksuele molestering en uitbuiting van minderjariges is ‘n groot probleem wệreldwyd, en gebeur met alle klasse en geslagte. Voor ek by jou spesifiek kom, wil ek ‘n paar dinge noem wat algemeen is by mense wat seksueel gemolesteer is, of was:
•    Feitlik alle minderjariges ervaar dit as ‘n “geheim” wat niemand mag van weet nie. Dit gebeur gewoonlik omdat volwassenes minderjariges omkoop, dreig, of manipuleer.  Gevolglik word baie min gevalle amptelik aangemeld.  Dit dra baie by tot die gevoel later dat jy ook “skuldig” is, of “saamgespeel” het.
•    Gewoonlik gebeur dit ook in ‘n situasie waar die kind nie regtig ondersteuning het van volwassenes nie, jy het niemand gehad om na te gaan nie, duidelik het jou ma gekies om jou nie te beskerm nie.
•    Mense wat as minderjariges seksueel gemolesteer is, voel dikwels “vuil” en nie regtig waardig om in verhoudings te wees nie, en dink gewoonlik dat verhoudingsprobleme maar hulle “skuld” is.  Dit maak verhoudings in die toekoms moeiliker
•    Gereeld word minderjariges wat gemolesteer is, later volwassenes wat óf seksueel losbandig en eksperimenteel is, óf volwassenes wat seks haat en nie gesonde seksuele verhoudings kan laat werk nie.

Kom ons kom terug na jou toe, en jy behoort die patroon hierbo te herken soos ek dit beskryf het.  Die harde feite is die volgende: Jou ouers het jou in die steek gelaat. 

Jou ma moes jou beskerm het, en jou stiefpa moes jou ook beskerm het. Dieselfde met jou pa se broer, en hy hoort in die tronk. Daar is geen verskoning vir dit nie, jy het nie gevra om gebore te word nie, en dit is volwassenes se plig om kinders te beskerm. Dit was nie jou skuld nie, en jy kon duidelik niks daaraan doen nie.

Dit maak sin dat jy as jong meisie verlief kon raak op ‘n ouer man, wat “goed” was vir jou. Maar maak geen fout nie, hy het maar dieselfde gedoen, heel waarskynlik vir seksuele redes, en het jou gemanipuleer en misbruik. Raak ontslae van hom, dit kan nooit werk nie.

Wat teen jou tel is dat jy alleen is, en nog altyd maar alleen moes regkom. Wat vir jou tel, is dat jy duidelik slim is, en dat die lewe jou ook sterk gemaak het. Jy kan nie die verlede help nie, maar jy kan besluite oor jou toekoms neem. Gebruik jou intelligensie om vooruit te kom, fokus op werk. Geniet ook jou lewe, want jy is jonk. Gaan uit met ouens, maar op jou terme. Jy sal gou agterkom dat jy as volwassene baie meer beheer het as toe jy ‘n kind was, en dat jy nie weer hoef toe te laat dat enige iemand jou misbruik nie. Jy kan dit doen, ek weet dit. Sterkte.

Vraag: “Wat maak ek as my kind nie meer kans sien om skool toe te gaan nie, ens. Sy is al gediagnoseer met depressie en is bipoler!”

Antwoord: Om jou vraag goed te antwoord, sal ek moet weet hoe oud jou dogter is. Ek vermoed sy is ‘n tiener as sy al hierdie diagnose het, wat beteken jy sal moet fokus op die regte behandeling vir haar.  As sy nie reeds ‘n psigiater en/of kliniese sielkundige sien nie, sal ek dit onmiddelik aanbeveel.

Vraag: “Ek weet nie hoe om in ‘n verhouding aan te pas nie. Ek het ‘n 9 jarige dogter wat al my aandag nodig het, so hoe gee ek aandag aan die persoon wanneer ek dalk weer in ‘n verhouding is? Op die oomblik mans soek net 1 ding en saambly is nie die antwoord vir my nie, dit noem ek misbruik in ‘n verhouding! Vereers voel ek beter alleen saam God se woord dit help my om nader aan die Here te wees.”

Antwoord: Dit is ‘n moeilike een, baie enkel-dames sukkel met verhoudings, juis vir hierdie rede.  Eerstens, ek stem saam met jou dat jy nie jou waardes hoef aan te pas net omdat dit moeiliker is nie.  Iemand wat regtig in ‘n langtermyn verhouding met jou wil wees, sal jou respekteer vir wie jy is.  

Tweedens, dit klink ook asof jou dogter nogal manipulerend kan optree. Daar is geen rede hoekom jy nie aandag aan meer as een area van jou lewe kan gee nie, sy is mos nie meer ‘n baba nie. Ek vermoed sy voel dalk bedreig dat iemand die aandag van haar ma kan wegneem, wat heel normaal sal wees, en maak dan seker dat sy alles van jou opeis.  Wees net ferm, dit kan haar goed doen. Jy hoef nie te onderhandel oor jou privaat tyd nie, en sy moet dit so aanvaar. As sy dit nie wil aanvaar moet jy dit afdwing, maar onthou om baie aandag en liefde te gee in julle spesiale tyd saam, en baie verskering en beloning vir goeie gedrag.  Staan sterk, julle sal dit maak!


VRAAG:
ek weet nie wie is ek regtig nie, vroeg in my kinderdae is ek gemolesteer en verkrag, is vandag vrou in my 30 en is ek gay of nie. Ek is bipolệr gediagnoseer, ‘n paar jaar gelede al, en elke dag is ‘n groot stryd om deur elke dag te gaan. Ek het al selfmoord  probeer, en dis groot ding om teen te baklei.  Elke dag se vraag aan myself is: wie is ek? Waarvoor lewe mens, daar is goeie tye maar donker tye is net soveel meer.

ANTWOORD:
Hierdie is weereens ‘n geval van volwassenes wat jou in die steek gelaat het toe jy jonk was. Lees ook asb my antwoord oor die ander vraag oor seksuele molestering op ons Facebook blad.  Dit lyk asof jy met ‘n paar probleme sit, wat alles as gevolg van jou verlede is:

·       ‘n Swaar depressie, met bipolệre eienskappe
·       Ek neem aan jy sukkel ook dan op ander areas, bv. werk, verhoudings, vriendskappe, ens
·       Onsekerheid oor jou seksuele identiteit

Ek glo mens moet altyd by die grootste prioriteit begin. Spreek eers jou depressie aan, sodat jy helder kan dink.  Dit doen jy onmiddelik in samewerking met ‘n psigiater en ‘n kliniese sielkundige. Al voel jy die kostes is hoog, probeer, want hierdie is ‘n belegging vir jou toekoms. Jy hoef nie verder so te leef nie! ‘n Goeie terapeut gaan jou help om jouself beter te leer ken, te werk aan jou selfbeeld, en al die areas van jou lewe.  Seksuele identiteit sal maar net een daarvan wees, en kan rustig op sy tyd uitgesorteer word.

Die res van jou lewe hoef nie soos die afgelope 30 jaar te wees nie.  Sterkte, en hou ons asb op hoogte!

* Tussen 13.00 en 14.00 op ‘n Dinsdag kry SARIE-lesers die geleentheid  om hul probleme regstreeks met Louis op SARIE se Facebookblad te bespreek. Weens die beperkte tyd en hoeveelheid inboks-boodskappe kan Louis ongelukkig nie op elke vraag reageer nie. Hy sal egter alle vrae wat inkom volgens onderwerpe sorteer en op Donderdae in ‘n enkele artikel daarop antwoord. Sodoende kry lesers die geleentheid om ook iets uit ander se vrae te leer. Let daarop dat slegs skuilname gebruik sal word, indien nodig. Anonimiteit is dus verseker.

* Lees alle artikels deur Louis & Lise hier.