Diverse

In die Kaap gaap die kraaie en Johannesburg smelt in snikhete dae.

En grys soos in vaalgrys wolkekrabbers wat raak-raak aan die grysblou lug. Om die hoeke waai ’n yswind en die flou winterson faal klaaglik om ’n bietjie hitte te bring aan dié sement-oerwoud. Selfs die bome staan moedeloos grys – gestroop van elke blaar – en elke waterdruppel en waterpoel is wit ge-ys.

Só het ek die stad nog nie ervaar nie. My eerste besoek aan New York was vol somer en die ene opwinding. Die stad wat nooit slaap nie, soos die liedjie “New York, New York” sê, het my hart vinniger laat klop. Om my was vinnige motors, vinnige mense, vinnige besluite. Ek het my verkyk aan beroepsvroue in hul noupassende ontwerper-uitrustings en hemelhoë stiletto’s wat die sypaadjies elegant en teen ’n snelle pas deurtrap (mét ’n reuse-beker Starbucks-koffie in die hand)!

En dan is daar die tipiese New Yorkse sakeman wat aandag trek. Húlle kan jy deur ’n ring trek – snyerspak, wit hemp, helder das, aktetas, netjiese, moderne haarsnit. Hulle is soos blits uit ’n geel taxi en immer op ’n drafstap na die volgende afspraak (mét ’n Starbucks in die hand). Restaurante, kafees, museums, hotels, glanswinkels, parke, toeters, sirenes, ligte, flitsende advertensie-borde. En glasgeboue waar mense tot laatnag werk. Alles groot, vinnig, helder. Genoeg om jou kop te laat draai – om en om.

As ek nog in die begin van my loopbaan was, sou ek dié stad wou beproef, het ek toe gedink …

Snaaks hoe grys ’n prentjie in perspektief plaas. Dié keer het ek werklik gekyk na New York se vroue en die perfekte uiterlike gesien. Blink, gladde hare wat los en natuurlik gedra word. Duidelik weekliks geknip en opgeknap in die beste haarsalons. ’n Lyf met nie ’n gram ekstra gewig of iets uit plek nie. Ooglopend die werk van min eet en daaglikse, strawwe gim-sessies.

Haar vel? Dis vlekkeloos met net ’n tikkie grimering. Slegs die duurste produkte en baie ure in ’n skoonheidsalon kan só ’n gelaat verseker. Hande en naels is onverbeterlik. Skielik maak die naelsalon op elke straathoek sin. En haar klere? Sy stap uit ’n modeboek. Iets swarts, iets noupassends, iets duurs, iets met ’n bekende handelsnaam. Skoene en handsak is die nuutste en beste, en haar juweliersware is een treffende stuk wat jy nie kan miskyk nie. Op kantoor is sy erg professioneel en totaal in beheer.

Sjoe, dink ek. Almal perfek. Perfekte klone. Om mooi, maer, goedgeklee en ’n top-presteerder te wees in dié vinnige stad móét net uitmergelend wees. Vir seker is daar in New York hope adrenalien, maar hoeveel sielsgenot bied dié wêreldstad wat nooit stilstaan nie régtig?

Met ’n lekker hart klim ek dié keer op my SAL-vlug terug huis toe, en sluit al die grys – my woljas, truie, hoed, handskoene, windjekker en wolstewels – in my tas toe. Nou roep die blou lug en sonskyn.

Sommer op die O.R. Tambo-lughawe in Johannesburg sê ek dankie vir ’n land van kleur en diversiteit. Hier waar dit okay is om anders te wees. Hier waar jou andersheid aangemoedig word.

Voor my loop ’n vrou in tradisionele Afrika-drag. In ‘n volrooi, met ’n helder doek flambojant om haar kop gedraai. Haar gesig en heupe is gesellig rond en haar lippe ‘n fuschia-pienk geverf. Haar glimlag straal van warmte. Een wat sê: Jy’s by die huis. En jy’s welkom!

Michélle van Breda

SARIE Maart 2007