Diverse

Peter Veldsman blog: “In die sop”

Ek begin met ‘n byderwetse ertjiesop en ‘n aanpassing van ‘n ou Skotse resep van my Ouma. Barbara vra toe dat ek ietsie moet blog oor die eerste soppe wat aan die ou Kaap voorgesit is. Nou is dit so dat ons groot-groot-grootjies en hul ouers nogals die oerbetekenis van sop verstaan het.

En as dit by geskiedenis kom, is daar niemand beter as Hettie Claassens om by kers op te steek nie. Sy het haar doktorsgraad behaal met ‘n tesis oor die geskiedenis van boerekos. Hettie vertel dat in die Germaanse tale sop niks anders is as brood wat in vloeistof geweek is nie. My eerste reaksie was, vloeistof? Sekerlik tog aftreksel? En toe onthou ek hoe my Ouma ‘n sny soetsuurdeegbrood in ‘n sopbord geplaas het en dit dan met die eerste, flouerige sopbeenwater laat uitswel het. Godekos, so het prof. Elize Botha my verseker. Ons woord ‘sop’ kom uit Middelnederlands (1300 – 1550).

In ons land het sop eers teen die begin van die neëntiende eeu as eerste gang inslag gevind. Voor daardie tyd is die hoofmaal met slaai begin. Lady Anne Barnard staaf die stelling. In 1798 het sy saam met haar man, Andrew, die koloniale sekretaris gereis – van die Kaap na Stellenboch, oor die Hottentots-Hollandberge via Botrivier, Hermanus, De Kelders, Stanford, Caledon, Genadendal en Swellendam, deur die Breëriviervallei na Vier-en-Twintig-Riviere (Porterville) en toe via Saldanabaai terug Kaap toe. Sy teken in haar dagboek aan dat sop saam met die hoofgereg voorgesit is. ‘n Ander bron kom uit die reisbeskrywing van Lichtenstein (1803 – 1806), wat by die deftige Du Toit’s van Goudini ‘n voorgereg van sterk, brandrissie-sop geniet het.

Wat dan van ons bekende en beminde droë ertjie en droë-boontjie-sop? Hulle het wel aan die Kaap gedy, maar as hoofmaal op die tafels van Van Riebeeck se werkers. So ook rys- en gortsop. Die soppe is met groente, sopbene met vleis aan, of spek gekook en was bekend as potages. Omdat varke skaars was, is seekoeispek dikwels gebruik. Hettie vermoed dat dié soppe eerder dik, vullende “stoofsels” was. Die bone is waarskynlik fyngedruk sodat die sop gedrink kon word. Die rede? Eetlepels was nie algemeen aan die Kaap in gebruik nie. Dit het eers ‘n honderd jaar later gekom.

Die Hoërskool Namakwaland op Springbok het ‘n resepteboek saamgestel (ek soek ‘n eksemplaar – hoop iemand kan help!) waarin koringsop beskryf word. Skaapvleis en koring word saam gekook totdat die vleis sag en die koring lymerig is. Die vleis is eerste geëet, dan is melk by die koring gevoeg en soms ook kaiings. Die resep versterk Hettie (H.W. Claassens) se interpretasie van die vroegste Kaapse soppe. Tussen ons gesê: Jy kan gerus ‘n draai by Emily’s maak en ons ongelooflike heerlike koring-risotto met Kalahari-troefels kom proe – ek belowe jou dis ‘n besonderse eetervaring.

Suringsop is een van ons oudste soppe. Hettie haal Jannie de Villiers aan wat die resep in Namakwaland opgeteken het. Surings word saggekook in water, fyngedruk, met sout en peper gegeur en met melk verdun. Wat nie vir my duidelik is nie, is of dit die surings is wat plaat vir plaat in die winter ons landskap met hul geel blommetjies versier of eerder breëblaarsurings (wild sorrel) is wat eens oral in die Boland wild gegroei het.

Die brood en vleiswatersop was bekend as koningbroodsop. Dan is daar wittebroodsop waar die vleisekstrak met melk gemeng is en voordat dit oor die brood gegiet is. Mev. Dijkman teken ook swartsuursop aan – dit is natuurlik sop wat van bloed berei word. Hettie sê dat die Suid-Afrikaners wegskram van bloed, en dit is sekerlik so, want as bestandeel is dit by Hildagonda Duckitt se resep vir swartsuursop afwesig. Dik, soeterige sop is aan siekes gegee – veral gort- en rosynesop. So ook sago. En, glo dit as jy wil, macaroni-sop.

Afvalsop is van die kop en pootjies van die geslagte dier berei en is sekerlik ‘n verwaterde weergawe van ons tradisionele afval. Duckitt teken Soup curry op – ‘n duidelike teken dat net meer as ‘n honderd jaar gelede ‘n groot deel van die bevolking reeds ‘n kerriegeur in afval verkies het. C. Louis Leipoldt teken skaapkopsop wat van die pote en kop berei is asook skilpadsop aan.

Met die koms van die Hugenote is Soup à la Reine afkomstig uit die kookboek van La Varenne waar dit opgeteken is as Potage de la Reyne met ‘n Bouquet-garni, wat aan die Kaap bekend was as soetkruie, berei. Kruietakkies het toe vir die eerste keer ‘n belangrikke bestanddeel van groente- en hoendersop geword. Hoendersop is van die binnegoed van hoenders gekook en met soetkruie gegeur. ‘n Roux (gelyke dele botter en meel) is as verdikkingsmiddel gebruik. Interessant genoeg het die Boequet-garni na die Tweede Britse Besetting getaan tot die gebruik van ‘n enkele kruid, meestal pietersielie en soms tiemie.

Hildagonda gee ‘n periwinkle (arikreukel) sopresep aan. Die skulpies is in skoon water gelaat en gewas totdat al die sand uitgespoel is. Die skulpe is daarna skoongeskrop, fyngestamp en met wonderpeper, peperkorrels en gebrande suiker gekook tot al die krag uit is. Dan is dit deur ‘n doek gegiet om die skulpe agter te hou, met vleis-ekstrak aangevul en verdik.

Al hierdie vroeë soppe was taamlik dun sodat dit gedrink kon word. Of dalk het hulle dit met die hand geëet? Ons hedendaagse eetlepel (15 ml) is ‘n breukdeel van die eetlepels van toentertyd. Dié was eintlik opskeplepels terwyl potlepels in die kombuis gebruik is. Die eerste sopborde was natuurlik van tin. Diep sopborde word vir die eerste keer in 1773 vermeld.

In my volgende blog (oor ‘n week of wat) neem ek lesers op nog ‘n kragtige reis in die kom van ons ou soppe. Intussen, gegroet uit ‘n besige Emily’s – die einde van die sokker is darem in sig! En, om sonder ‘n laaste lokkertjie af te sluit is darem net nie reg nie. Kom proe die ertjiesop in SARIE KOS nou by Emily’s.

Groete,

Peter

As jy lus is om met my te praat, skakel 021 421 1133 of stuur ‘n vonkie na caia@mweb.co.za

  • Abeer

    Herzlichen Dank ffcr diese grodfartige Zusammenstellung! Sehr nfctzlich, wenn man sich einen dcberblick fcber den Stand der Dinge im Bereich Geisteswissenschaften und Soziale Medien machen mf6chte. Habe die gnnaenten Blogs in meinen Reader gepackt und bin gespannt, was in den ne4chsten Tagen und Wochen auf diesen Plattformen passiert. Eine erste Beobachtung: Die Abonnentenzahlen, die der Google Reader zu den einzelenen Blogs angibt, sind nicht sehr beeindruckend. Geffchlter Durchschnitt: 8-12. Da ist wohl auch auf Seiten der Rezipienten noch einiges an Entwicklungsarbeit zu leisten, das sollte aber niemanden abhalten, sich zu engaieren, finde ich.