sr1207cover01
Diverse

Janie blog: As ‘n kind sukkel om te praat

Leer om te praat

My kind Benito sukkel om homself uit te druk. Hy praat vreeslik baie, maar dikwels ook deurmekaar, amper asof sy gedagtes te ver voor sy woorde uitloop. Ons familiegesprekke om die eetkamertafel eindig dikwels in emosionele uitbarstings omdat hy nie sy punt kan maak nie en voel asof niemand hom kan verstaan nie. As ma breek dit my hart om te sien hoe sy opgekropte gevoelens hom in sy eie emosionele tronk vasvang en hoe die trane van frustrasie eers moet begin vloei, of dat hy eers uit die kamer uit moet storm en skreeu, voordat hy sy hele verhaal kan uitkry.

So het ek en Misha, 3 jaar nadat dit gebeur het, gehoor dat hy op ‘n skoolkamp geboelie is en uit desperaatheid homself met ‘n gasbrander aspris diep op sy arm gebrand het in die hoop om te kon huis toe kom. Hy kon nooit die storie vir ons vertel nie. Hy het stilgebly, want hy het geweet dat hy sou sukkel om dit aan ons te verduidelik en dat dit ons sou ontstel. Ons was in die parkeergarage van die Waterfront, besig om kar toe te stap nadat ‘n stryery ontstaan het oor skool en vriendskap, familie en wie aan jou kant is… En uit die bloute erken hy toe dat die armband wat hy gedra het, en vir weke nie wou afhaal haal nie, eintlik die erge wond weggesteek het. Ons het nie eers geweet nie. Ons het al drie vir ‘n lang ruk saam in die kar sit en huil, maar uiteindelik begin gesels en aan mekaar belowe dat ons nooit weer met ons seer geheime alleen sou loop nie.

Die eetkamertafel sou ons plek word van gesels tot al die stories klaar gepraat is, maak nie saak wie vir wie wil doodmaak nie. Praat sal jy praat. Ek het self verhale begin deel wat ek voorheen gedink het nie eintlik vir die kinders se ore bedoel was nie. Ons het begin gesels (en baie vasgesit) oor ons teorieë oor die lewe, ons waardes en die groot tema, liefde. Ons baklei oor meisies en eksamen, oor politiek en regverdigheid. Uitputtende gesprekke wat altyd iemand om die tafel sy koel laat verloor. Baie stories wat vertel word en baie lesse wat geleer word.

Die belangrikste een is dat die verteller dikwels meer leer as die luisteraar.

Nuwe uitdagings

Daar is niks wat ‘n mens so vinnig uit jou gemaksone ruk soos ’n nuwe uitdaging nie. Ironies genoeg is die uitdaging self nie eintlik die uitdaging nie. Dit is die proses om die uitdaging te begin wat so moeilik is. Die proses om jouself te dissplineer om reg te dink, positief te bly, verantwoordelikheid te neem en te aanhou glo dat jy in die regte rigting loop. Dit is daardie tyd wat jy nog kan kop uittrek wat eintlik die moeilikste is.

Toe ek 23 was, het ek my eerste ‘besigheid’ begin en die ’besigheid’ het net ’n jaar gehou. As ek nou terugdink aan daardie tyd is die mislukkig daarvan eintlik omdat ek nie in myself geglo het nie. Ek het geglo dat ek ‘n baas nodig gehad het om my plan vir my uit te voer en dat iemand anders liewer die besluite moes neem en die rigting moes aanwys. Ek het die besigheidskaartjies en briefhoofde ontwerp en sommer myself die skivvy gemaak wat soos ‘n mol sou grou en grou sonder ‘n GPS.

Die suksesvolste projekte van my lewe was almal die projekte wat ek op my eie manier aan die gang gekry het en in die begin op my eie manier gedoen het. Teen die tyd wat ander mense betrokke geraak het, was ek seker van my plan en kon ek baie van die vrae self beantwoord. Ander mense se insette en goeie raad het my al dikwels koue voete gegee.

Ek staan weer opnuut op die drumpel van ‘n nuwe uitdaging en hierdie keer doen ek dit in absolute isolasie op my eie manier. Ek fokus op my roetine en stap langs die see, kyk na die wêreld om my met my nuwe oë, luister na nuwe musiek en lees.

Maar meer as enigiets anders visualiseer ek een ding …die eindpunt.

  • RIA LOURENS

    Dit is sò belangrik om te praat en praat en praat, al dink jou kinders dit is nie nodig nie. Soos ek op ‘n dag toe ek sien my seun is in ‘n bui en vra wat makeer en hy nie wou sê vir hom gesê het ek sal aanhou vra tot hy praat – op die ou end het dit vir hom veel verligting gebring. Daarom sien ek uit na Janie se praatjies en program. Glans bring nie altyd geluk en ek glo Janie het baie om te vertel. Sterkte Janie!

  • Star

    At last! Somnoee who understands! Thanks for posting!