Diverse

Janie blog: “Diertjies se plesiertjies”

My ma was ‘n baie kwaai onderwyseres en dwarsdeur my skoolloopbaan kon ek net nie van haar ‘ontslae’ raak nie. Sy het by elke skool waar ek skoolgegaan het  skoolgehou en as ek in die moeilikheid was, het sy dit geweet nog voor ek dit geweet het.

Ek kon nooit sê dat ek nie huiswerk gehad het nie want sy’t presies geweet van al die toetse en take én hulle uitslae. En so kwaai soos sy by die skool was, so gaaf was sy by die huis. Sy’t geduld gehad en sy’t geluister na al ons stories en ons klagtes is ten alle tye oorweeg. In standerd 1, was my groot klagte Aardrykskunde want ek het dit gehaat.

Sy het toe een middag by my kom sit en saam met my Aardrykskunde-huiswerk begin doen. Ons het ‘n speletjie gespeel, vasvrae gehou en die antwoorde met inkleurpotlode op ‘n plakkaat geteken. Haar les was dat as ‘n ding nie vir jou lekker is nie, moet jy dit lekker maak. My ma het vir ‘n ruk lank smiddae saam met my Aardrykskunde-huiswerk gedoen tot my  suurgesig later verander het in ‘n glimlag. Vir die res van my skoolloopbaan was dit toe my gunsteling vak.

En so het ek lief geword vir stryk, swembad skoonmaak, kook en om kar te was

Stryk bly my beste. Ek sien dit as ‘n vorm van kuns. Liefde in aksie. Partykeer stryk ek in die sitkamer terwyl ek kliphard na musiek luister en so tussendeur ‘n paar danspassies uitvoer, ander kere voor die TV, partykeer sommer in die middel van die nag. Ek vou alles presies dieselfde grootte op en is dikwels so trots op my handewerk dat ek dit op die eetkamertafel los vir ‘n rukkie sodat ek langer daarna kan kyk.

In omtrent alles wat ‘n mens doen in die lewe, is daar altyd iewers ‘n baas wat jy moet gelukkig hou.  Partykeer is die ‘baas’ nie ‘n mens met ‘n sweep en nors gesig nie. Die kwaaiste baas is eintlik die een wat ons noem ‘prestasie’ en ‘verantwoordelikheid’.

Met my huistake is niemand my baas nie. Ek is die CEO van al die komittees onder my dak en ek mag alles doen net soos ons wil en ek doen alles reg. Dis dalk hoekom dit so lekker geword het? Dis dalk hoekom dit so terapeuties is?

En dis dalk hoekom die enigste stokperdjies wat ek het my ‘huiswerk’ is.

 

Ek verstaan nou eers wat my ouers bedoel het met hulle antwoorde toe hulle gesê het ,“Want ek sê so!”

  • Liza

    Janie dankie. Dink al die vrouens en mans kan leer uit wat jy se oor huiswerk. Sien n moeilike taak as kuns wanneer jy dit doen en jou gevoel oor als verander. Geniet kersfees en nuwe jaar. Alles wat mooi is vir jou in toekoms