Diverse

Janie Du Plessis blog: ‘Watse sweetie wil jy hê?’

Op skool moes ons in die somer en winter verskillende sport- en kultuur aktiwiteite kies. Somer was maklik. Dit was atletiek en swem want koor was in pouses, Dinsdae en Vrydae.

Niks het gebots nie. Huismoles het in die winter begin want in die winter was daar twee maal per week netbal, tennis ,hokkie, drama, koor én debat. Ek wou alles doen.  Ek het geweet dat as ek die skool-deel kon los,  ek alles sou kon inpas maar my ma, een van die kwaaiste onderwyseresse by dieselfde skool, was genadeloos en sy het presies geweet wanneer ons toets skryf en wanneer ons huiswerk gehad het. 

Ek het ‘n paar keer weggekom met uitstekende verskonings en (reuse) wit leuens maar my ma het my altyd gevang, en in die einde het ek besef dat ‘n mens maar altyd in die lewe sal moet kies tussen plesier en geluk.

My ma kon so gou my plesiertjies afsny, veral oor naweke – ek’t gou geleer dat my geluk as kind eintlik maar afgehang het van my ma se geluk, so ek het baie hard gewerk om haar gelukkig te hou, ek’t  hokkie, koor  en huiswerk gekies.

My buitemuurse aktiwiteite was my plesier en ek wens tot vandag toe nog dat ons soos die Engelse skole  ses dae per week skool gehad het, want dan sou my lewe perfek gewees het.

Maar geluk is ‘n ander ding – dis die besluit wat jy neem vir dit wat sal goed wees vir môre. Dis die moeilikste besluit. Dis soos trou, of om te kies om te gaan swot of om op die South Beach dieet te gaan.

Jy werk elke dag bietjies-bietjies aan geluk. Jy kom dit nie dadelik agter nie. Elke dag voel eintlik dieselfde. Dis net opeens, eendag dat jy besef dat alles anders is en dat die besluit wat jy lank gelede geneem het, die regte een was.

Ek het nooit eintlik geweet wat mense bedoel as hulle sê dat hulle in die ‘nou’ lewe nie. In die TV- en media-wêreld was hulle die lot mense met die  baie armbande, sandale in die winter en pakkies twak en Rizla papiertjies in hulle skouersakke.  Ek het gewerk aan my geluk. Dit was harde werk – niks sit en dagdroom en wag dat die lewe na jou toe kom nie.

Alles het gegaan oor more, daar doer in die toekoms waar geluk vir my wag.  Volgens my kinders is my idee van in die ‘nou’ lewe die bevele wat ek uitblaf as ek ongeduldig is : “Maak nou julle kamers aan die kant!”, “Sit nou julle ligte af!” Dek die tafel nou af!”  Ek het die NOU begrip onder die knie gehad en goed verstaan.

En moenie dink dat as jy die begrip eers verstaan dat jy dit onder die knie het nie! Ek het eintlik eers onlangs geleer dat plesier en geluk baie temas het, en dit kom verskuil in baie maniere oor jou pad.

Partykeer is dit ‘n lang pad ding –‘n ding wat jy aan werk vir more. Maar partykeer is dit ‘n klein dingetjie onder jou neus, ‘n oomblik, ‘n ervaring wat jy jouself gun, ‘n dagdroom wat jou gou iewers heen neem en wat jy jouself toelaat om te dink en een wat jy eers later besef was iets wat jou lewe eintlik verander het.

En so het ‘n eenvoudige  lappie op ‘n skinkbord vir my ‘n paar weke gelede sommer so met die ‘nou’ deurmekaar, diep geluk gebring. Dit het so gebeur: Ek drink al vir 14 jaar lank my koffie in die oggend uit ‘n wit beker op ‘n klein hout skinkbordjie met ‘n wit suikerpotjie sonder ‘n dekseltjie. Niks moois nie, maar baie prakties. Net soos my geaardheid. Maar die vorige aand was ek by ‘n ete waar die gasheer begin vertel het hoe maklik hy in die moeilikheid kom by sy vrou, en hoe hy moes mooi trap, veral in die oggende as hy vir haar koffie in die bed vat en hoe hy moet seker maak dat die lappie op die skinkbord die regte een is.

En so staan ek toe die volgende oggend in my eie kombuis en glimlag oor die storie toe ek opmerk hoe vaal my eie skinkbord lyk. Toe gaan haal ek ‘n lappie en pak die skinkbord soos by die Mount Nelson Hotel se high tea met ‘n behoorlike koppie en ‘n piering, ‘n mooi teelepel, ‘n suikerpotjie met ‘n deksel en Die Burger aan die kant en gaan sit toe in my kamer en drink toe die mees perfekte koppie koffie wat al ooit in my huis gemaak is. Een klein besluitjie wat ek gemaak het wat van toe af my dae verander het.

En so verander ek toe sommer baie dingetjies oornag. Ek bad weer opnuut by kerse, al is ek haastig. Ek het splinternuwe lakens en pantoffels en kook weer kos wat lank vat. Ek dink al hoe minder aan die toekoms en bekommer my al hoe minder oor die harde werk wat dit verg om geluk te vind. Ek wil alles hê. Die plesier en die geluk. My ma was verkeerd.

As hulle nou daai groot glasbak met die sweeties voor my sit en sê:”Vat een…,”  gaan ek die tannie in die oë kyk, my hand diep in die bak indruk en soveel sweeties in my vuis vasklem as wat ek kan, en dan sal ek my kop maar laat sak en koes vir die klap teen my kop.

  • Judy

    Die lewe is bitterlik kort, dit het ek sopas weer uitgevind. Gebruik al jou "beste" vandag want wie is dit dan meer werk as juis jyself nie!

  • Richa

    Beelzebub sagt:Wunderschf6ne Wortspiele , wie nicht anders zu eawertrn von dir! Find ich Klasse, auch wenn du mit manchen Behauptungen sehr spekulativ umgehst. Innovativ und lustig, durchaus provokant, aber manchmal vll ein bisschen sehr radikal. Man muss damit umgehen kf6nnen um es zu verarbeiten. Aber wie gesagt: ICH finds klasse!!! Daumen hoch!