Diverse

Jasmyn en affodil

En jou werklik, beskut onder een van die groot bome is ’n bossie jasmyn piepklein aan die knoppies maak. Verbeel jou, in die middel van een van die kwaaiste winters wat ons nog hier aan die Rand beleef het.

Oral anders in die tuin is dit winterkaal. Maar hierdie knoppies het besluit hulle gaan voort om blommetjies te maak. Dis ’n vroeë belofte dat die lente aan die kom is, maak nie saak hoe dit buite lyk of voel nie.

Ek onthou hoe ek eenmaal in die Mall in Londen afgestap het met die plate-plate affodille wat geel in St. James’s-park geblom het in die vroeë lente. Selfs ’n nat plek soos Londen het lente, en jasmyn ook! Om die waarheid te sê ’n pragtige lente ás die son skyn. Ons toeriste het mekaar verdruk om die Changing of the
Guard by die paleis te sien.

Dit laat my altyd wonder hoekom daar Britte is wat so graag van die koningshuis ontslae wil raak: Dis tog een van hul groot toeriste-aantrekkingskragte. Die soldate marsjeer met hul lang swart musse, die militêre presisie, die seremonie met al sy glorie – alles wat jare lank tradisie is.

Daar is Britte wat sê die ou koningsgesin is maar treurig en nie die moeite werd nie, en kos buitendien te veel geld om te onderhou. Maar hoeveel besorg hulle
nie in die staatskas deur al die toeriste wat hulle lok nie, selfs al is hulle nie self by ’n seremonie teenwoordig nie? Duisende besoekers stroom daagliks deur hul
kastele en betaal nogal ’n aardige bedraggie daarvoor.

Voorts meng hulle nie in met staatsake nie en is die instelling slegs simbolies. En wie sal tog opofferings maak of betaal om enigiets van Gordon Brown tussen
ander drukkende en stotende besoekers mee te maak? Die koningin is oud, maar die koningslinie van die Britte ook. En saam daarmee het gebruike gekom om te bly.

Maar elke keer wanneer ’n mens op televisie koninklike optogte met koetse en soldate en orkeste en militêre presisie sien, tref iets jou. Ten spyte van die ou gebruike in ’n moderne tyd lyk dit altyd weer nuut, feestelik, koninklik: Die ou gebruike het altyd ’n soort gevoel van tye kom en tye gaan, maar die vreugde van orkeste en seremonie is soos die geel lente-affodille in St. James’s-park.

Tog sê sommige mense dis verouderd en pas nie mooi in by die moderne manier van dink en optree nie. Jonger mense steur hulle glo nie veel aan optogte nie, én dink aan die koste! Daarby leef ons in die tyd van ’n nuwe elite, dié van groot openbare kunstenaars of sportsterre of ander wat die verbeelding aangryp.

Ek dink nie jonger mense is verveeld met optogte nie. Dit bring immers kleur, soos die jasmynknoppies voor my badkamervenster. Sou dít ook mense “verveel”
omdat dit elke jaar maar dieselfde is: Die knoppies word blommetjies en die blommetjies gaan mooi oop en dit ruik asof die hele wêreld met parfuum besprinkel is.

Wie sal die geure van die lente prysgee net omdat dit winter is of was en daar tog maar weer ander lentes sal kom? My storie is eenvoudig: Hou mooi gebruike en vier dit elke keer nuut asof dit ’n lente is.

Laas Mei het my kleindogter naby Londen verjaar. Sy is ’n baie mooi kleinding en toe ek daar was, het ek vir haar ’n klein tiara gekoop en ’n ligpienk lipstif om haar “op te maak”. Sy het vir haarself ’n pienk kleed bedink en teen die trap af gekom asof sy ’n prinses van verre is.

Ek sê toe vir haar sy lyk soos ’n klein prinses, waarop sy antwoord: Ek wens ek was ’n regte, egte prinses.

Alles is nie moontlik nie, maar toe ek vir haar ’n ietsie stuur vir haar verjaardag het sy teruggeskryf sy spaar die geldjies vir ’n speelding wat die moeite werd is en wat sy graag wil hê. Uiteindelik het sy toe gekoop: ’n porseleinkoets met wit pronkperde en ’n koning en ’n koningin met twee prinsesse en koetsiers.

Op die foto wat haar pa gestuur het, sit sy trots met haar koninklike “optog”. Ek sou net graag vir haar ’n takkie pienk jasmyn in haar hare wou steek. Sy is nuwe
lewe, deur God geskenk.

  • Philrene Saayman

    dis vir my ‘n baie mooi artikel,wardeer die storie
    van die klein "prinsessie." Dit het dalk ook te doen met die
    feit dat jasmyn my gunsteling blom is. :)