jazz_fest_005
Diverse

Al daai jazz

Eers open Sol Kerzner sy splinternuwe One&Only-hotel en nooi ’n hele rits bekendes om te kom gesig wys, en toe hou ons jazzfees! Gróót name het vanjaar kom speel as deel van die Kaapstadse Internasionale Jazzfees se dekadeviering. Shakatak (onthou jy nog?), Kyle Eastwood (ja, Clint is sy pa), Diane Reeves, Al Foster (die tromspeler wat op sy dag vir Miles Davis gespeel het) en Jonathan Butler. En met twee groot Afrika-ikone, Hugh Masekela en Abigail Kubeka, het dit behoorlik ge-groove, man.

Kort, lank, vet, maer, wit en swart is almal daar om een rede – die liefde vir jazz. Jy stamp en stoot deur massas om te gaan heupswaai buite op die gras waar ’n mengelmoes van klank jou uit Afrika na Brasilië neem. Daarna sit jy stigtelik, tjoepstil, en luister oopmond na die virtuose tromspel van een van Amerika se befaamstes, Al Foster. En voor jy jou kom kry, sing jy “Pata Pata” saam met Jonathan Butler, hand-om-die-lyf met wie ook al langs jou staan! Selfs die Madiba-magic het nie agtergebly nie. Soos Dianne Reeves, die Amerikaanse jazz-sangeres, tydens haar optrede vertel het hoe sy die vorige dag vir Madiba ontmoet het: “His eyes looked into my eyes, he smiled at me. My life was changed.” Ook ons eie Jonathan Butler (die Kaapse musikant wat al vir bykans 25 jaar in Amerika bly) het vertel hoe hy saam met Madiba geëet het en toe vir hom kon sing.

Die opwinding was groot. “We love you, Cape Town!” het soos ‘n refrein deur die twee feesdae geloop. Met Kyle Eastwood se optrede was daar skielik ’n flits van kameras toe ’n motor langs die verhoog intrek. Clint Eastwood het uitgeklim en 20 minute van sy seun se vertoning bygewoon!

Opwindend en inspirerend, maar uitputtend. Ek’s sleepvoet vroeg Sondagoggend daar weg onder die laaste trompetnote van Bra Hugh. Met ’n kop vol jazz en ’n warm gevoel om die hart.

* Lou-Ann, SARIE se web-joernalis, tree self by vanjaar se KKNK op. Kry meer details oor hul show, Blues en Susters.

* SARIE se kunsdirekteur, Ruben Moore, het ‘n naweek in die One&Only-hotel deurgebring. Dit was, in een woord, WOW! En die goeie nuus is dat die deure ook oopstaan vir die plaaslike besoeker. Lees meer.