Diverse

Kaarte

In die gange van die sentrum het ek eers na ’n foto-uitstalling van eiendoms-“winskopies” gekyk.

Net toe ek my oor die belaglike pryse begin vervies, kom die kelnerin met my bankkaart aangehardloop wat ek by haar vergeet het. Ek was baie dankbaar. So kry kaarte meestal vir altyd voete.

’n Bankkaart, of debietkaart, is nuttig. Dit kan ook ’n pes wees. Dis net ’n deurtrek van ’n kaart en jy tik jou geheime nommer in en siedaar, jou geld is dadelik in die winkel se bankrekening terwyl dit vir jou lyk asof jy niks slegter daaraan toe is nie. Jy het immers nie die kontant noot vir noot afgetel nie. Totdat jy eendag weer jou bankstaat trek en voel asof jy tien floutes wil kry.

’n Kredietkaart is nog erger: Jy kyk na jou lopende rekening en alles lyk in orde, totdat jy eendag sien ’n groot hap is net weg. Die kredietkaartmense het hul pond vleis geëis. Maklik betaal, word meestal moeilik opdok. Banke en instansies gee kaarte links en regs van alle kleure: platinum, goud, silwer, roesbruin. Ander met die rugbyspan, winkel, lugvaartmaatskappy, tydskrif ens. van jou keuse. Of ’n leeu, of buffel, of ’n kleipot op. Mooi prentjies en “ghrênd” kleure is glo status.

Die ander probleem met ’n bankkaart is dat dit meermale nooit is waar jy dit laas gesit het nie. Jy kyk in jou beursie, voel deur jou sakke, krap in jou boeke, kyk onder die teepot, skreeu om hulp vir al wat naby is – en uiteindelik dop die kaart uit op ’n plek waar jy eintlik moes geweet het. ’n Kaart byderhand is ’n versoeking as jy deur winkelsentrums loop. Ek wil ook graag weet hoekom ’n mens hoegenaamd jou “status” wil adverteer met platinum/goud/silwer/privaatbank ens. Ek is grootgemaak met die reël dat jy nie aan die wêreld vertel hoeveel jy het of nie het nie. “Cheap swank,” het my ma op haar Pêrelse Ingels gesê.

Gister het ek nóg ’n kaart van die bank gekry: Een waarvoor ek nie gevra het nie. Uit opregte nuuskierigheid probeer ek dit toe gebruik. Net om uit te vind die bank “herken en erken” nie die kaart nie. Toe ek bel, kon hulle ook nie eintlik sê nie. Ek sal seker later uitvind wat op aarde aan die gang is.

Op ’n dag is ’n dief vort met my beursie én my kaart. Ek moes ’n nuwe een by die bank gaan haal. Ek was eintlik op pad om ’n vrou te besoek wat terminaal siek was en het gereken ek maak sommer ook gou ’n draai by my banktak. Toe ek by die toonbank kom, kyk die kassier op die skerm en sê my rekening bestaan nie. Sy het naderhand die supervisor gaan roep. Dié het ook die skerm beloer en kop geskud. Ná ’n lang gestaan, het ek gesien dit raak gevaarlik na aan die tyd wat ek met die familie van die siek vrou afgespreek het.

Die supervisor het geheen en weer en toe ewe vriendelik gesê ek moet my kaart op ’n ander verdieping gaan haal. Toe stoot my bloeddruk oor my ore en ek sê kliphard in on-kerkse taal en gebare dat al wat ek wil hê, ’n gewone, simpel kaart is, ens. Net mooi toe iemand agter in die tou vriendelik en verbaas groet: “Middag, Dominee!”

Uiteindelik het ek my kaart in skaamte gekry. Toe ek die siek vrou en haar mense van my bankgedrag vertel, het hulle gekraai van die lag.

’n Paar maande later het ek die vrou begrawe. Ná die begrafnis het een van haar kinders vir my ’n koevert gegee: “Dis ’n briefie van Ma.” Tuis het ek dit oopgemaak. Binne-in was ’n dankiesê-kaart van die oorledene, een wat sy gereed gemaak het voor die moeilike, finale rondte. “Liewe Izak,” het sy geskryf. “Dankie dat jy my vandag begrawe het. Dankie dat jy my gereeld besoek het. Ek voel nader aan die Here. Geniet die dag verder. Ingesluit ’n ietsie vir ’n lekker ete. Bestel goeie sjampanje en drink ’n heildronk op my. Liefde X.”

Aan die kaartjie vasgespeld was ’n stewige pakkie kraaknuwe note. Ek het gemaak soos sy gesê het. Kontant.