Diverse

Kersaand

Sy is ’n vegetariër (hoewel ’n vegetariese Kersete nogal aanpassing vra) en alleenloper, ’n sakevrou met ’n fyn sin vir humor en ’n lekker stapmaat, hoewel ek moes uithaal om haar pas vol te hou. Sy is op Kersaand gebore en is Natalia Eve (“Kersaand”) gedoop. Ons vergeet dus nooit haar verjaardag nie.

Want Kersaand is een van die datums wat ek nie vergeet nie (op enige “normale” dag weet ek nooit presies wat die datum is nie), hoewel die gewyde vrolikheid, verwagting van geskenke, groot etes en die nostalgie van my kinderjare nog net mooi herinneringe is.

Met die jare het ek gewoond geraak daaraan om op Kersaand te werk. By die koerant moes ons maar alle vakansiedae kantoor toe gaan en ek moes Kersaand dikwels vir die volgende dag se nuuslys voorberei. As predikant het ek aan my preke vir Kersnag en Kersdag gewerk. ’n Mens raak alles gewoond.

Laas Kersaand het ek aan my nuwe digbundel sit en peuter en ingedagte opgekyk na die Christus-skildery van El Greco wat hier langs my rekenaar hang, en skielik besef: Maar die bundel is klaar!

Wat ek wou sê, het ek gesê. Interessant, die vorige Kersaand het ek die eerste hoofstuk van ’n boek van oordenkings aan die uitgewer ge-e-pos. Vir my het werk op Kersaand dus effe van ’n gewoonte geword, so asof daar ekstra inspirasie op dié aand is. Maar ek het baie kiekies in my gemoed van besondere vieringe op Kersaande. Soms hou ek daarvan om hulle “uit te haal”, meesal van my gesin toe ek ’n kind was, saam met my tant Tita by ’n klein denneboom. Miskien is die Kersfees van ’n kind die gelukkigste.

Dalk oor die blink goed, die liggies, die versierings – sommer die hele algemene stemming van iets moois, feesteliks en heiligs. Onlangs het ek gelees dat die monnike in sekere ou Poolse kloosters op Kersaand ’n dansie trippel in heilige vervoering. Daarna bid hulle ’n uur lank en dans dan weer en eet soetkoekies. Die Grieke in die Balkan neem op Kersaand kos kerk toe, sodat almal iets kan hê om te eet – ’n eeu oue tradisie. Ou Russe wat nog aan baie ou Christelike gebruike vashou, mag op Kersaand geen vreemdeling weier wat vir slaapplek kom aanklop nie, gedagtig aan Josef en Maria, wat slaapplek vir die nag gesoek het. (Ek wonder hoe lank hulle nog daarmee gaan volhou, met die misdaad daar ook maar ’n nagmerrie). En op my geboortedorp het die kore elke jaar Kersaand deur die strate geloop en gesing.

Ek wonder of dié tradisie nog bestaan. Een Kersaand in Kaapstad het twee rondlopers, ’n man en ’n verwagtende vrou, by my om hulp kom aanklop. Ek was vol jammerte en poëtiese drome dat hulle die verpersoonliking van Josef en Maria was.

Later het “Josef” weer by my kom geld bedel, en “Maria” het kom kla dat “Josef” haar geslaan het dat die nerwe waai. Op ’n ander Kersaand het ek ’n bakleiende familie in ’n sekere huis gaan uitmekaar maak, en die dorp se dokter ingeroep. Dié het die spulletjie so bekyk en gesê: “Vrede op aarde!”

Kersaand mag nostalgies wees, maar is ook nie sonder sy realisme nie. Maar dis asof die stad se strate Kersaand stil word met ’n sekere verwagting, dalk ’n heilige besef van iets groots wat gebeur het. God se antwoord op die wêreld se tragedies was ’n baba wat as jongman die gesamentlike lewenslot van alle mense op sy skouers sou laai – én daaronder sou sterf. Dit het nie beteken dat mense opgehou het bedel en steel of baklei nie. Maar mense sing nog liedere tot sy eer, skryf nog gedigte oor Hom, bid nog in sy Naam, en beleef die nabyheid van God in sy geboorte, kruisiging en opstanding. Hy bly ’n geheim, maar ook ’n bekende – ’n ewige raaisel, maar ook die enigste oplossing vir dié wat Hom soek.

Daarom is gevoelens op Kersaand ’n bietjie meer intens, oor Hom en oor mekaar. En ook oor vriende en familie soos Natalia Eve wat ver is, wat ’n stukkie van die pad saamgeloop het of nog sal saamloop.