Diverse

Kersbrief

Dit vertel van ’n briefie in ’n kinderhandskrif wat by die hoofposkantoor van die staat Massachusetts aangekom het. Dit het gelui:

“Liewe Jesus, my hondjie Sandy is in November hier buite doodgery toe sy agter my aan by die voordeur uitgeglip het. Ek is hierdie Kersfees sonder my hondjie. Maar Liewe Jesus het seker baie hondjies in die hemel, almal wat daar aangekom het in hierdie jaar. Sandy is ’n klein wolhaarterrier, swart-en-wit. Ek stuur vir Liewe Jesus ’n foto saam van my hond. Ek wil net seker maak dat U haar sal kan uitken en ’n bietjie vasdruk sodat sy daar by Liewe Jesus welkom kan voel. En sê vir haar ek gaan haar mooi geel speelbal hierdie Kersfees vir ’n ander hondjie in ons buurt gee. Dankie en groete ook Liewe Jesus. Margie.”

Die koevert was geadresseer aan: “Jesus, Hemel, In die Heelal.”

Iemand by die poskantoor het kopgehou en ’n briefie teruggeskryf:

“Liewe Margie, ek is een van die engele se sekretaris en ek het jou brief oor jou hondjie in die hemelse geselskap bespreek. Ek het ook die kiekie gewys. Jesus weet van Sandy en hoe hartseer jy was. Sandy is gelukkig hier en sê sy is bly dat jy haar mooi bal weggee en dankie dat sy so lekker by jou kon bly. Sy sê ook jy moet tog weet dat sy baie tevrede is hier. Hier is baie oop ruimtes.”

Die gedagte dat ’n kind net wil seker maak haar hondjie is gelukkig en word erken en herken, sê baie van die kind. Eendag sal sy natuurlik lekker lag oor haar briefie aan Liewe Jesus, en weer vir haar kinders daarvan vertel. Daar is iets positiefs in daardie brief.’n Mens kan maar net hoop dat dié gesindheid en besorgdheid en kinderlike liefde tot in haar ouderdom by haar sal bly. En die gedagte van haar geliefde diertjie leef voort.

Die poskantoorbeampte het waarskynlik ook so gedink en in presies dieselfde trant geantwoord. In ons wêreld van brute werklikheid is dit soos ’n eerste reën van ’n seisoen, ’n amptenaar wat omgee. Dis ’n koerantberig werd. Onskuld en kinderlike geloof het nog nie verdwyn nie.

Ek self het eenmaal ’n brief voor Kersfees ontvang van ’n vrou wat haar seun in die grensoorlog verloor het. Hy was ’n lugmagman. Sy het geskryf dat my kinders sal groei en oud word, maar hare sou in haar hart ewig jonk bly, soos die laaste keer toe sy vir hom gewuif en hy teruggewuif het, fier in sy uniform.

’n Hele paar jaar gelede, toe ek nog talle radioreekse hanteer het, veral in vennootskap met Mari Coetzer op Vrouerubriek, het ’n vrou aan my geskryf. Haar getikte brief van ses en twintig bladsye was vol traanmerke. Haar man is in ’n motorbotsing reg van voor oorlede en sy het gevoel dit was haar skuld. Sy wou glo iewers heen gaan.

Oor en oor het sy geskryf: Ek kan nie sonder hom leef nie. Dis een van die dae Kersfees en ek wens daar was glad nie so ’n dag nie. Dis net om my wonde verder oop te krap. Geen God of Kersfees kan my geliefde man aan my teruggee nie. Ek is alleen en hoe gaan ek alleen verder?

Ek kon nie antwoord nie, want sy het geen adres verskaf nie. Ek het dit in ’n volgende radioprogram genoem. En seker maar nie veel gesê nie. Hoe kan ons weet van lewe en dood en hondjies wat sterf en jongmanne in hul fleur en lewensmaats. Kan ons vir God briefies skryf? Of aanhou huil? En Kersfees los?

Wat van die vrou geword het, weet ek nie veel nie. Maar ek het daardie Kersfees ’n Kerskaartjie van haar gekry met mooi wense. Sedertdien het dit nooit opgehou nie, waar ek ook al woon: In die begin van elke Desember is haar mooi kaartjie in my posbus, net met haar voornaam. Daar is elke jaar ’n blom op, en geen adres nie.

Sy laat my verstaan sy vier steeds Kersfees. Amper kinderlik soos die hondjie-storie. Verder is dit alles ’n geheimenis.

’n Geseënde Kersfees vir haar en alle SARIE-lesers.