Diverse

Leef 100%

Leef 100%

is ’n raadgee-rubriek spesiaal vir jou. Ons paneel kenners sluit van ’n dokter en sielkundige tot ’n SARIE-leser in. Hulle sal jou kwelvraag vanuit hul eie perspektief beantwoord. Daarby bekyk ’n bekende seksuoloog intieme sake.

‘Ek is 35 en my man 20 jaar ouer. Toe ons tien jaar gelede getroud is, het die ouderdomsverskil my glad nie gehinder nie. Maar deesdae is ons nie meer op dieselfde golflengte nie. Ek wil tot laataand kuier, hy wil vroeg gaan slaap of voor die TV sit. As ek saam met my vriende uitgaan, is hy nors. Seks is ’n stryd – hy sukkel om ’n ereksie te kry. Ons baklei omdat hy nie oefen nie en nie wil ophou rook nie. Ek kry nagmerries dat hy doodgaan en my alleen los. Ons het nie kinders nie.’

James de Villiers


Voorligtingsielkundige en hipnoterapeut van Kaapstad met ’n belangstelling in emosionele volwassenheid

 

ANTWOORD

’n Mens gaan van sowat 35-jarige ouderdom af deur ’n nuwe lewensfase. Dan begin onderdrukte emosies en onvervulde behoeftes uit die verlede in jou gedrag en besluite na vore kom. Ander aspekte van jou persoonlikheid tree ook na vore. Jy beleef jouself anders.

Dié veranderinge het ook ’n invloed op jou lewensmaat. Jy beleef jou man baie anders as toe julle getroud is – en hy vir jou. Ek sien moontlike tekens van onderliggende depressie (dalk verwerping?) by jou man en angs (dalk skeidingsangs?) by jou. Besoek jul dokter. Julle moet albei terapie ontvang om nie ou gedragspatrone uit die verlede te herhaal nie. Die nuwe lewensfases en verskillende behoeftes is nie die probleem of die oorsaak van jul konflik nie, maar wel hoe julle dit hanteer.
Die kern van terapie is om verantwoordelikheid vir jou eie emosies en behoeftes te aanvaar en dit te verwoord – en nie jouself of die ander een te beskuldig of te manipuleer nie. Dalk moet jy in terapie ook aandag gee aan die verhouding wat jy as kind met jou pa gehad het.

Truida Heymann

Kaapstadse sielkundige berader en skrywer van boeke oor selfkennis

 

ANTWOORD

Jy het met ’n man getrou wat aan jou sosiale status en sekuriteit bied, ’n sterk toevlug na wie jy vir leiding kan opsien. Terselfdertyd was hy ook ’n maat. Maar met verloop van tyd is julle in verskillende lewensfases gedompel en jul prioriteite en behoeftes gaan toenemend verskil. Boonop eis die liggaam sy tol in die vyftigerjare. Jou paniek wys jy was tot dusver afhanklik van sy sterkte en leiding, maar dat jy nou besef hy gaan nie altyd daar wees nie. Dit lyk of die lewe jou wil help om geleidelik meer onafhanklik te raak en jou eie sterkte te ontdek. Jy kan die paniek probeer besweer deur die status quo met moeite af te dwing.

Dis egter meestal teenproduktief om ’n ander mens se lewe te probeer beheer: Dit ontketen meestal rebellie of prestasieangs. Laasgenoemde is beslis nie bevorderlik vir ’n goeie seksuele verhouding nie. Hou dus op om verantwoordelikheid vir sy gesondheid en fiksheid te probeer neem. Die ander keuse is om by die verandering aan te pas.

Enige aanpassing gaan egter met ’n rou-proses gepaard, waarvoor jy dalk terapie nodig sal hê. Dis nie maklik om dié intense emosies (vrees, teleurstelling, ontnugtering en selfs woede) rondom jou man se beperking te verduur nie. Jou vriende se aktiewe lewens gaan jou toenemend aan jou eie verlies herinner. As jy in jou kinderjare dalk ’n ouer weens dood of egskeiding verloor het, gaan jy ook nou met daardie rouproses kan klaarmaak.

Marieke Brand

SARIE-leser

 

ANTWOORD

Ek kan jou frustrasie verstaan, maar kry jou man ook jammer. Daar is min mans van sy ouderdom wat gedurig wil jôl. Jy baklei oor sy slegte gewoontes – dalk skop hy juis vas omdat jou kritiek hom seermaak. Dis ook ’n fisiologiese werklikheid dat die meeste mans mettertyd ’n bietjie meer “aandag” nodig het om seksueel hul kant te bring. Julle stuur op ’n ramp af. Jy dring aan op ’n jong leefstyl en hy skop vas. Julle dryf al verder van mekaar af weg en voel albei verwerp, seergemaak en alleen.
Toe jy met hom getrou het, het jy waarskynlik aanvaar dat ’n huwelik met ’n ouer man sekere voordele het. Probeer onthou wat dit is. Fokus op jul raakpunte en nie op jul verskille (veral die ouderdom) nie. Soek saam na vermaak en geselskap wat julle albei geniet. Dan sal hy ook nie so ongelukkig voel as jy wel soms alleen uitgaan nie. Verduidelik dat jy nie sy ongesonde gewoontes kritiseer as ’n subtiele aanklag teen sy ouderdom nie, maar omdat jy vir hom lief is. En los dit dan – dis immers sy verantwoordelikheid. As hy minder magteloos voel, sal dinge in die bed ook dalk beter gaan. Indien nie, soek ’n goeie boek, of besoek ’n terapeut en vind maniere om mekaar plesier te gee.

Dr. Linda Friedland

Johannesburgse geneesheer met ’n holistiese perspektief, openbare spreker en skrywer van die boek, Self – die essensiële gesondheids- en lewenstylgids vir vandag se vrou (Tafelberg)

 

ANTWOORD

Jy is in ’n moeilike situasie – ’n energieke, jong vrou wat saam met jou vriende wil kuier en boonop op ’n bevredigende seksuele verhouding geregtig is. Jy is bekommerd oor sy gesondheid en sy baie ongesonde leefstyl. Maar jy is ook bang om sonder hom klaar te kom.

Ek dink nie die ouderdomsverskil is die enigste oorsaak van jul huweliksprobleme nie. Jou man moet ook sy kant bring om die verhouding te laat werk. Die eerste probleem is dat jy hom kan aanmoedig, maar jy kan hom nie teen sy sin verander nie. Wat sy rokery en gebrek aan oefening betref, hou vir eers op om daaroor te baklei. Maar jy moet besluit of jy wil aanhou veg om die verhouding te laat werk.

Die ideaal is dat julle vir huweliksberading gaan. Veral hý moet hoor wat jou klagtes is. Jul verhouding is in ’n doodloopstraat. Gaan alleen vir terapie as hy weier om hulp te soek. Dit sal jou duidelikheid gee en ook vaardighede leer om óf die huwelik te laat werk óf alleen met jou lewe aan te gaan.

Ons praat seks

VRAAG

Ek het onlangs ontdek my man dra my klere en onderklere. Hy het erken dat hy dit graag doen en lief is vir alles wat vroulik is. Toe hy universiteit toe is, het hy bv. sy hare dadelik laat groei. Ek kon ook nog altyd met gemak oor haarstyle, modes, grimering, ens. met hom gesels. Hy het altyd geweet dis nie “normaal” nie, maar glo dat hy dit kan beheer. Hy besoek nietemin graag webblaaie vir transvestiete. Hy is egter glad nie tot mans aangetrokke nie en ons is gelukkig getroud. Wat kan ek doen om hom te help? En kan dit genees word?

Dr. Elna McIntosh

Seksuoloog en radio- en TV-persoonlikheid van Johannesburg

 

ANTWOORD

Dit wat ’n mens seksueel prikkel, is deel van jou unieke samestelling. In die Westerse samelewing kan vroue sonder ’n skewe kyk mansklere dra. Dink aan Marlene Dietrich se aandpakke en Katherine Hepburn se snyersbroeke.

Mans het nie dieselfde vryheid nie. Die samelewing ondersteun ook nie juis vroue wie se mans vroueklere dra nie. Onthou, dis die man op wie jy verlief geraak en met wie jy getrou het. Nou het hy ’n ander, interessante kant waarvan jy dalk nie geweet het nie. Jou “help my om te verstaan“- houding sal bydra om brûe tussen julle te bou. Hoe meer jy oor die onderwerp weet, hoe meer simpatie gaan jy vir hom hê. Sulke mense verdien meer respek en begrip as wat hulle dikwels op TV-kletsprogramme kry. Luister na hom, slaan ag op jou eie gevoelens, ondersteun hom en bou aan dit wat julle gemeen het.
Dis nie iets wat hy gaan ontgroei nie, nog minder iets waaroor hy baie beheer het. Onthou, dit beteken nie hy is minder lief vir jou nie. Jou pogings om meer oor hom te leer, kan julle selfs nader aan mekaar bring. Lees The erotic mind, deur dr. Jack Morin (Harper Perennial, 1996), My husband wears my clothes en Crossdressing with dignity deur dr. Peggy J. Rudd (PM Publishers, onderskeidelik 1997 en 1990) of skakel die SA Vereniging vir Seksuele Gesondheid: 0860 100 262.