Diverse

Leef 100%

Vandag voel jy op en wakker. Môre is jy flou en futloos. Jy kan elke dag bruis van energie – as jy weet wat jou energie gee en wat jou energie tap.

Dink net hoe lekker dit sou wees as jy elke dag hope energie gehad het om berge te versit.
Dis waar dat energie hoofsaaklik van verskeie biochemiese reaksies in die liggaam kom. As jy nie voldoende voedingstowwe, suurstof, oefening en slaap kry nie kwyn jou energie. Maar dis ook waar dat álles in jou lewe ’n invloed op jou energievlakke het – van die vriende wat jy kies tot hoeveel pret jy het.
“Om bruisend van energie te wees gee jou fisieke stamina ’n hupstoot, dit gee jou lewe nuwe betekenis, hou jou blakend gesond en laat jou gemaklik in jou lyf voel,” sê die Britse gesondheidskenner en holistiese leefstyl-skrywer Jane Alexander.
Dus: As jy eers weet hóé jy jou energiebank kan vol maak, kan jy die lewe met nuwe woema vier.

Vermy energie-vampiere

  • “Jou vriende, familie, kliënte en kollegas het ’n dramatiese invloed op jou energievlakke,” sê Jane. Onderskei tussen energiegewers en energietappers. Positiewe mense se energie is aansteeklik en kikker jou ook op. Energie-vampiere suig al jou krag op en maak jou battery gou pap. “Bestee meer tyd saam met mense wat jou verstaan, jou energiek en positief laat voel,” sê nog ’n leefstyl-kenner. “En loop wye draaie om diegene wat jou onseker en uitgeput laat voel. Of skep minstens ’n emosionele afstand dat hulle jou nie met hul ellendes aansteek nie.”

Doen iets prettigs

  • “Om pret te hê is ’n wonderlike hupstoot vir lewenslus,” sê Jane. “Doen elke dag iets lekkers, soos stap, fietsry, kaart speel, of kyk na jou gunsteling-komedie op TV. Om te lag laat jou ook bruis van energie. Dit ontspan jou spiere, verminder kortisol (die streshormoon) en vermeerder die goedvoel-endorfiene.”

Kry ’n rooskleurige bril

  • Positiewe denke is bevorderlik vir goeie gesondheid en energie. Hierteenoor vererger negatiwiteit stres en angs en dreineer kosbare energie, sê sielkundiges. As jy lank genoeg glo jy is nie goed genoeg nie word dit later deel van jou wese. Probeer om negatiewe denkpatrone te verander.

Wees realisties

  • Moet jou nie oor onnodige goed kwel nie; dit slurp net jou energie op. Vra jouself af of die dinge waaroor jy so bekommerd is, werklik belangrik is. Spertye wat gehaal moet word, ís belangrik, maar om jou te bekommer oor of iemand van jou hou of nie, is ’n vermorsing van energie. Maak ’n lys van alles wat jou kwel en ken aan elkeen ’n punt uit tien toe. Vergeet dan van dié bekommernisse wat nie ses punte gehaal het nie. Vind eerder oplossings vir die sespunt- of hoër kwellings.

Stel doelwitte

  • As jy iets het om na te strewe gee dit jou iets om voor te lewe. “Lae energievlakke is dikwels ’n simptoom van rigtingloosheid,” sê Jane. “Dwingende doelwitte help jou om jou lewe in rat te kry. Uitstel is ’n energietapper. Doen daadwerklik iets om jou doelwit te bereik. “Maak ’n lys van alles wat jy wil bereik en sit dan elke dag ’n halfuur opsy om jou drome werklikheid te maak,” sê die leefstyl-kenner. “Jy hoef nie reusespronge te gee om ’n verskil te maak nie. Klein, prettige treetjies is soms doeltreffender, want die kanse op sukses is soveel beter.”

Moenie opgaar nie

  • Madonna is ’n toonbeeld van energie – met haar vingerlose handskoene en roomyshorinkie-bra’s. Maar sy het lankal daardie artikels weggegooi. “Rommel werk soos ’n rem en skep negatiewe energie,” sê die feng shui-kenner Mary Lambert, skrywer van Clearing the clutter: 100 ways to energise your life (Cico Books). “Gooi daardie hopies tydskrifte en papiere weg en laai jou te klein klere by die Heilsleër af.” Kry dan al die onbeantwoorde oproepe, briewe en e-posse van jou gewete af. Maak ’n prioriteitslysie as jy te veel hooi op jou vurk het. Doen heel eerste dié dinge wat ’n onmiddellike verskil aan jou lewe gaan maak. Onthou, die positiewe impak van ’n afgehandelde taak vul jou met geesdrif vir die volgende een.

Ontdek jou energie-horlosie

  • “Jou persoonlike energiehorlosie (ja, elke mens het een) bepaal hoe jy oor ’n probleem voel,” sê ’n sielkundige. Gewoonlik is ’n mens se energievlak op ’n laagtepunt wanneer jy wakker word en beleef jy weer laatmiddag ’n insinking, volgens navorsing wat aan die California State University gedoen is. “Dan lyk probleme soveel erger en moeilike take nóg moeiliker,” sê die sielkundige. In die laatoggend tot vroeë middag en vroegaand bereik jou energie ’n hoogtepunt. Teen slaaptyd behoort jy flou te voel. Hou vir ’n week of so ’n dagboek om jou energiepatrone vas te stel en beplan jou dag daarvolgens. Dis makliker om moeilike take af te handel wanneer jy baie energie het. Baie mense vorder soggens flukser met werk wat baie konsentrasie verg.

Verbeter jou postuur


Jou liggaamshouding (of jy nou staan of sit) het ’n beduidende invloed op jou energievlak. “’n Swak postuur maak spiere gespanne, druk jou organe vas en verminder longkapasiteit – alles faktore wat jou uitput,” sê Jane.
Verbeter jou postuur só:

  • Staan, sit en loop kop omhoog, asof ’n onsigbare toutjie jou kop regop trek.
  • Laat sak jou skouers, ontspan jou rug en skouers en hou jou nek lank.
  • Loop so dikwels moontlik kaalvoet en dra so min moontlik hoëhakskoene.
  • Belê in ’n lessenaarstoel wat jou laerug ondersteun. Of sit op ’n oefenbal.
  • Staan minstens elke twee uur op en loop ’n draai, veral by die werk.
  • Neem joga- of Pilates-klasse.

Moenie woede opkrop nie

  • Kenners stem saam ’n mens moet dit uitpraat as iemand jou kwaad maak. Dis verbasend hoeveel ligter jy voel. As jy voel jy wil ontplof, maar nie die situasie kan ontlont nie, gee jouself toestemming om vir hoogstens 24 uur dikbek te wees. Langer as dit, en jy beroof jouself van kosbare energie.

Tegnologie- & tydsbestuur

  • Om lang ure aaneen te werk dreineer energie. Wees tegnologie-bewus, veral by die werk. “Dit verg energie elke keer as jou selfoon lui of jy die boodskap kry dat jy nuwe e-pos gekry het, want dit voel asof jy met inligting gebombardeer word,” sê Jane. Skakel jou selfoon af as jy ’n belangrike taak moet afhandel. Boodskappe van geliefdes is nogal iets om na uit te sien wanneer jy weer jou sel aanskakel. Tensy jy heeltyd toegang tot e-posse moet hê, lees dit net op vasgestelde tye. En moenie skuldig voel as jy tuis jou selfoon afskakel en die telefoon uitprop nie. Jy mag maar vir ’n ruk onbereikbaar wees; jou huis is immers die plek waar jy jou batterye kan herlaai.

Soek die son

  • In sonskynweer voel ’n mens sommer meer energiek. Kry dus koers buitentoe. Natuurlike lig laat jou goed voel, want dit inhibeer die liggaam se produksie van melatonien (die hormoon wat jou slaperig maak). Jy ontsnap boonop aan binnehuise besoedeling, veral op kantoor. As jy kan, maak ’n venster oop en sit groen plante op jou lessenaar. Plante is natuurlike lugsuiweraars, want dit verskaf suurstof in daglig. Breek weg see toe as jy regtig opkikkering nodig het. Die negatiewe ione, wat veroorsaak word deur branders wat breek, verbeter jou luim én jou gesondheid.

Luister na jou moegheid

  • Raadpleeg jou dokter as jy ondanks genoeg slaap steeds uitgeput voel. Stres, ’n ystertekort, bloedarmoede, depressie, ’n onderaktiewe skildklier, vetsug of ’n ongebalanseerde dieet kan ’n oorsaak wees. ’n Hart- of lewerkwaal, suikersiekte, artritis en kanker kan ook tot chroniese moegheid lei. Vitamien B-aanvullings en ander energietonikums is ideaal vir korttermyn-gebruik. Neem ook voor slaaptyd ’n magnesium-aanvulling. Magnesium help met die produksie van adenosientrifosfaat (ATP), wat noodsaaklik is vir energie.

Energie in ’n kits

  • Doen 10 minute se joga-strek-oefeninge.
  • Drup peperment- essensiële olie op ’n sneesdoekie en asem in. Skrop jou lyf met ’n skroproom, van die voete boontoe (kloksgewys). Spoel af in ’n koue stort. Drup bergamot- en suurlemoenessensiële olie in ’n eetlepel soet amandel-olie en vryf jou lyf daarmee voor jy stort. Staar na iets roois. Rooi laat die hart vinniger klop en bloed vinniger deur jou are pomp. Gee jou immuunstelsel elke 2 weke nuwe woema met ’n ginseng-tonikum. Neem ginkgo biloba vir konsentrasie en goeie geheue. Gebruik ko-Q10-aanvullings (30 tot 50 mg per dag). Of eet meer olierige vis, vleis, grondbone en spinasie.

Vloeistof-feit
Drink meer water. “Dehidrasie is dikwels die oorsaak van futloosheid,” sê ’n voedingkundige. “As die liggaam dors word, word die organe noodsaaklike vloeistof ontsê en voel jy traag en lomerig. Drink minstens twee liter vloeistof per dag, en dit beteken nie net water nie,” sê sy. Peusel ook aan vrugte soos pynappel en druiwe.

Eet- en oefenplanne
Sluk soggens ’n multivitamien-aanvulling met ’n glas melk af. Die proteïene in melk sorg vir energie. Begin jou dag met ’n bakkie hawermout. Dis propvol B-vitamiene. Koop eerder volkoringbrood en -pasta en bruin rys as die verfynde soorte.
Gaan stap etenstyd. As jy 20 minute vinnig stap, verbrand jy 100 kalorieë.
Jy kry nie meer energie deur meer te eet nie. Inteendeel, dit dreineer energie.
Hou energiegewende peuselgoed soos ongeroosterde, ongesoute neute, sade, vars en gedroogde vrugte, volkoringbrosbeskuitjies en drop in jou motor of lessenaarlaai.
Maak naweke ’n “energie-afspraak” met jouself. Gaan stap of swem of maak ’n draai by die gesondheidswinkel.

Lekker slaap
Slaapkenners sê kwaliteit is net so belangrik as kwantiteit as dit by slaap kom.
Vermy laat in die dag stimulante soos koffie en sjokolade en moenie té laat té veel eet nie – slegte spysvertering hou ’n mens wakker. Koorswortel of ’n kruie-aanvulling bevorder ’n goeie nagrus. Maak seker jou bed is koel, skoon en gemaklik. Maak ’n halfuur voor jy gaan slaap die vensters oop en vermy skerp lig vir ’n paar uur voor jy inkruip sodat jou wakkerweeshormone kan afskakel.

Rooi gee jou meer energie.
Dra dit vir ekstra woema of hou iets roois op jou lessenaar.