jul05leef1a
Diverse

Leef 100%

LEEF 100%

is ’n raadgee-rubriek spesiaal vir jou. Ons paneel kenners sluit van ’n dokter en berader tot ’n voorligtingsielkundige en SARIE-leser in. Hulle sal jou kwelvraag vanuit hul eie perspektief beantwoord. Daarby bekyk ’n bekende seksuoloog intieme sake.

‘My dogter (15) het vir die eerste keer ’n kêrel. Hy is uit ’n goeie familie, iemand wat sy van laerskool af ken. Sy is ’n uitblinker en was nog altyd ’n goeie, gehoorsame kind. Maar deesdae praat sy net oor hom. Sy wil net dinge saam met hom doen, nie meer saam met my nie. Sy vertel hom geheimpies wat sy voorheen met my gedeel het. Ek hoor net hoe wonderlik sy ma is en dat hy alles met haar kan bespreek. My kind het heeltemal te gou grootgeword. Ek voel uitgesluit. Sy en haar jonger suster is ál wat ek het, ek en my man leef ver uitmekaar.’

 

James de Villiers

Voorligtingsielkundige en hipnoterapeut van Kaapstad met ’n belangstelling in emosionele volwassenheid

 

ANTWOORD

Jy voel uitgesluit, angstig en eensaam in jou huwelik – en nou hanteer jy dié emosies deur jou liefde op jou kinders uit te stort. (Jy sê hulle is “ál wat ek het”.) Jou verhouding met jou kinders kan kompenseer vir die gemis in jou huwelik, maar dit los die probleem nie regtig op nie. Daarom gaan jy uitgesluit voel as jou dogter nie meer jou liefde soos voorheen beantwoord nie, en gaan jy dink sy word te gou groot. Dis normaal dat jou dogter op dié manier begin sosialiseer en dis goed as sy ook by haar kêrel se gesin inskakel. Jy hoef nie jouself met haar kêrel en sy ma te vergelyk nie. Luister na haar en wees saam met haar bly oor die goeie en mooi in haar vriendskap. Só behou jy die vertroue tussen julle. Laat haar en haar kêrel by jul huis tuis voel.
Kinders se welsyn hang in die eerste plek nie af van hul ouers se liefde vir hulle nie, maar van die verhouding tussen die ouers – getroud óf geskei. Ek dink jy en jou man voel albei eensaam en kan jul verhouding verbeter. Soek hulp – vir julself, maar ook as ’n voorbeeld vir jul dogters.

 

Truida Heymann

Kaapstadse sielkundige berader en skrywer van boeke oor selfkennis

 

ANTWOORD

Dit klink asof jy tot dusver ’n goeie ma vir jou dogter was. Want ’n intieme verhouding met haar ma rus ’n kind toe om haar minnares-rol op die regte tyd te kan uitleef: Om dus gevoelens met ’n maat te kan deel en in kontak met haar sensualiteit te wees.
Maar die hartseer in jou brief dui daarop dat jy reeds aanvoel dat ’n nuwe fase in jul verhouding aangebreek het, waar ’n goeie ma vrywillig die band met haar kind moet losmaak. Die alternatief is dat sy wreed losbreek. Jou dogter gaan nooit leer vlieg as jy haar nie toelaat om uit die nes te spring nie. Dit klink asof sy tot dusver ’n behoefte aan intimiteit in jou lewe vervul het. Die pynlikheid van jou huidige verlies kan moontlik dieper wortels hê. Dalk moes jyself ’n hegte verhouding met jou ma ontbeer. Of jy het ’n baie simbiotiese verhouding met haar gehad en wil nou instinktief dieselfde patroon met jou dogter voortsit. Dit kan ook wees dat die rol van ma siel aan jou lewe gee.
Ons moet egter by nuwe fases aanpas. Die nes-fase is verby, jy moet nou meer op jouself begin fokus. Stel jou oop vir nuwe vriendskappe en pak nuwe projekte aan. Ontwikkel jou kreatiwiteit. Volg jou belangstellings. Jy kan vir huweliksterapie gaan en probeer om jou man te herontdek en nuwe lewe in jul verhouding te blaas.

 

Hantie Olivier

SARIE-leser van Roodepoort

 

ANTWOORD

Dis ’n goeie teken dat jy die probleem so rasioneel kan verwoord: Dat jy nie vrede daarmee kan maak dat jou kind nie meer aan jou behoort nie. Wat dikwels in sulke gevalle gebeur, is dat die ouer die skuld voor die nuwe kêrel se deur lê, en die kind verbied om hom weer te sien. Eerder dit as om jou eie motiewe te ondersoek. En dan verwag dat alles daarna net soos voorheen sal wees. Wat natuurlik nie gebeur nie! ’n Ouer mag nooit van ’n kind verwag om haar/sy eensaamheid te oorbrug nie.
Só gaan jy in elk geval verloor wat jy probeer vashou. Gun jou kind dit om verlief te wees. Wees ’n vriendin vir haar, maar stel ook vir haar en haar kêrel duidelike grense. Sy is jonk en het beskerming nodig. Die manier waarop jy dié eerste verliefdheid hanteer, gaan jou toekomstige verhouding met haar bepaal. Jy kan nou die pad plavei sodat jy haar mentor kan wees, sodat sy vir raad en leiding na jou opsien.
Werk aan die verhouding met jou man. Reik na ander mense uit sodat jy nie so eensaam voel nie. Moenie jou kind se verliefdheid buite verhouding opblaas nie. Laat dit sy natuurlike gang gaan – dit waai gelukkig weer oor.

 

Terry de Vries Nel

Energie-terapeut van Stellenbosch

 

ANTWOORD

Kahlil Gibran skryf so mooi: “Jou kinders is nie jou kinders nie. Hulle behoort nie aan jou nie. Jy mag hulle jou liefde gee, maar nie jou gedagtes nie, want hulle het hul eie gedagtes.” Dit is heeltemal normaal dat tieners, veral verliefde tieners, net oor hul geliefde praat! En dat hulle hul ouers uit hul lewe begin sluit. Dis deel van hul pad om hulself en hul eie persoonlikheid te ontdek en te vorm, want op 15 werk ’n mens op ’n energievlak aan jou derde chakra (of solar plexus-energiepunt). Dit behels jou gevoel van eie identiteit en handel oor kwessies van selfrespek, selfvertroue en persoonlike krag.
Die probleem lê nie by jou dogter nie, maar by jou. Jy kan nie jou lewe deur jou dogter(s) leef nie. Jy kan ook nie jou dogter klein hou nie. Jy moet self ’n vol lewe lei, en gaan kyk hoekom jy en jou man so ver uitmekaar gedryf het. Is jy dalk diep binne-in onseker omdat sy en haar kêrel so goed kommunikeer en jy en jou man nie? Praat is die antwoord – met jou man, ’n huweliksberader, vriendinne, en vind uit wat jou weer sal laat dans.

 

Ons praat seks

VRAAG

Ek is al geruime tyd bewus dat my seun (10) se penis baie klein is. Hy het dit nou ook agtergekom en van sy maats maak aanmerkings daaroor. Dis so groot soos sy 5-jarige boetie s’n! Albei is besny, omdat ek dink dis meer higiënies. Is die grootte van sy penis ’n aanduiding dat dit ook klein gaan wees as hy volwasse is? Het die besnydenis iets daarmee te doen? Kan ons iets doen, bv. hormoonbehandeling? Indien nie, wat moet ons sê sodat hy nie selfbewus daaroor voel nie?

 

 

Dr. Elna McIntosh

Seksuoloog en radio- en TV-persoonlikheid van Johannesburg

 

ANTWOORD

Die grootte van sy penis is wel ’n aanduiding van hoe groot dit gaan wees as hy volwasse is. Soms kan dit nog gedurende puberteit groei. Laat ’n uroloog hom ondersoek. As die uitgerekte penis-lengte te klein is, sal hy hom na ’n endokrinoloog verwys vir hormonale toetse en hormooninspuitings. Soms stimuleer dit groei.
Maats kan baie wreed wees. Dis belangrik om jou kind te leer om ’n sterk selfbeeld te hê en dat die penis net groot genoeg hoef te wees om penetrasie moontlik te maak. Solank dit sperms in die vaginale kanaal kan stort, is daar nie rede tot kommer nie. Hy moet geleer word wat om te sê as hy gekonfronteer word. Moontlike antwoorde is: “’n Kleiner penis het meer sensasie“ en “Dis groot genoeg om te kan doen wat dit moet doen”.
Besnyding het niks met die grootte van die penis te doen nie. Die enigste rede tot kommer is as daar ’n onderliggende oorsaak vir die klein penis is, soos ’n onaktiewe pituïtêre klier.