jul05leef1b
Diverse

Leef 100%

LEEF 100%

is ’n raadgee-rubriek spesiaal vir jou. Ons paneel kenners sluit van ’n dokter en berader tot ’n voorligtingsielkundige en SARIE-leser in. Hulle sal jou kwelvraag vanuit hul eie perspektief beantwoord. Daarby bekyk ’n bekende seksuoloog intieme sake.

‘My vrou is oorgewig, maar ek het met ons troue 14 jaar gelede reeds daarmee vrede gemaak. Sy was beeldskoon, het fyn maniere gehad en stylvolle klere gedra. Ná die geboorte van ons 2 seuns het sy haar aan ’n gemaksugtige lewenstyl oorgegee. Nou dra sy omtrent net ’n sweetpak en is groter as toe sy hoogswanger was. Sy lê in haar gemakstoel met haar bord kos op haar maag. Om daaroor te praat veroorsaak net wrywing. Help ons drie manne! Ons wil haar terughê!’

James de Villiers

Voorligtingsielkundige en hipnoterapeut van Kaapstad met ’n belangstelling in emosionele volwassenheid

 

ANTWOORD
Jy voel vasgevang tussen vernedering, alleenheid, magteloosheid, dalk ook onderdrukte frustrasie, jou belofte aan God en jou siening van wat ’n goeie lewensmaat is. As jy in ag neem hoe haar gedrag verander het, is dit normaal om so te voel.
Maar wat maak jy met dié gevoelens? Jy sê jy praat, maar dit veroorsaak wrywing. Verbaliseer jy dié gevoelens en jou behoeftes – dat jy jou selfversorgende, fyngemanierde vrou mis? Of sê jy net wat sy moet en nie moet doen nie? Ek kry die indruk jy vermy konflik en verwag dan van jouself, ook op spirituele vlak, om dit maar te verduur en steeds ’n goeie man te wees. Is dit ’n patroon in jou lewe? Waarteen beskerm jy jouself deur dit te doen? Volgens die wet van God in Eksodus is jy vrygemaak en hoef jy daarom nie liefde te verdien nie. Praat oor jou emosies en behoeftes. As jou vrou ná ’n tyd nie daarop reageer nie, dring op huweliksterapie aan. As sy nie wil nie, soek self hulp. Doen dit voordat jy jou onderdrukte emosies op jouself of jou vrou uithaal. ’n Goeie lewensmaat kan juis in liefde grense stel.

 

Truida Heymann

Kaapstadse sielkundige berader en skrywer van boeke oor selfkennis

 

ANTWOORD
Dis te verstane dat jy sterk emosies ervaar: woede, gekrenktheid, magteloosheid en verlies. Want jy kry gedurig die boodskap dat jy nie haar versorging verdien nie. Dis belangrik dat jy nie jou selfwaarde as man aan haar voorkoms meet nie. Daar is dieper oorsake verskuil: Sy smag dalk na onvoorwaardelike liefde en toets hoe ver sy jou liefde en verdraagsaamheid kan rek. Of sy kan aan depressie ly. ’n Sterk moontlikheid is dat die geboorte van haar babas haar behoeftes aan moedersorg opgewek het. Dit lyk asof haar kreatiewe potensiaal geblokkeer is. Hoe ook al: Sy het dringend terapeutiese hulp nodig. Dit lyk asof jy te veel verantwoordelikheid in dié huwelik dra.
Alle mense het ’n verborge begeerte om ’n baba te bly terwyl iemand anders jou “ma“ of “pa“ is. Jy sal dringend verantwoordelikheid aan haar moet teruggee, al gaan sy daarteen skop. Jy sal haar gemaksone moet breek, grense stel en ferm wees. As jy van konflik bly wegskram, is jy amper ’n medeverslaafde, wat haar verslawingspatroon in stand hou. Verduidelik wéér aan haar hoe haar destruktiewe gedrag jou laat voel. Dat jy seerkry en nie langer op ’n skip kan bly wat gaan sink nie. Dit gaan dapperheid verg, want jy sal die vrees om haar te verloor moet oorkom.

 

Dr. Linda Friedland

Johannesburgse geneesheer met ’n holistiese perspektief, openbare spreker en skrywer van Self – die essensiële gesondheids- en lewensgids vir vandag se vrou (Tafelberg, 2005)

 

ANTWOORD
Jy is ’n goeie en getroue man en gee regtig vir haar om. En jy kán maar ongemaklik en ontsteld voel. Sy is waarskynlik diep binne-in skaam oor haar lyf en haarself. Dis hoekom dit so moeilik is om dit met haar te bespreek. Hou aan om haar sensitief en simpatiek te behandel, maar wees terselfdertyd ferm en selfgeldend oor jóú gevoelens. As sy wil hê dat jy haar steeds moet liefhê en respekteer, sal sy iets aan die situasie moet doen. Ek stel ’n paar sessies by ’n berader of terapeut voor. Jy kan verduidelik dat dit ’n huweliksverrykingskursus is. Sê op ’n mooi manier dat jy haar nét so liefhet en nét soveel vir haar omgee soos op jul troudag, maar dat jy bekommerd is oor haar gesondheid.
In ’n huwelik het albei partye ’n plig: Nie net om vir mekaar om te gee, mekaar lief te hê en te respekteer nie, maar ook om op persoonlike vlak waardig te bly en só daardie respek te verdien. Sy het ’n verantwoordelikheid om haarself te versorg – ter wille van haar eie gesondheid en selfbeeld, maar ook as ’n vennoot in jul huwelik.

 

Marieke Brand

SARIE-leser

 

ANTWOORD
Jou vrou wil bitter graag weer pragtig, vroulik en goed versorg wees. Julle drie manne, wat die naaste aan haar is, kan haar ondersteun en help. Sy sal dalk aggressief of traak-my-nie-agtig raak as jy haar oor haar gewig aanvat – want dit maak seer.
Fokus eerder op jul gesinslewe. Besluit saam dat julle gesond wil leef en saam die lewe wil geniet. Maak eers klein aanpassings, sodat die eise haar nie oorweldig nie. Besluit saam dat die gesin by gesonder eetgewoontes sal baat vind, en help mekaar om dit toe te pas. Vra ’n dieetkundige vir praktiese raad. Raak geleidelik meer aktief. Maak tuin, stap saam kafee toe, gaan parkie toe, gaan fliek, kuier by vriende. Vertel haar hoe lekker dit was as sy iets saam met julle gedoen het, en sê sy lyk mooi as sy moeite met haar voorkoms gedoen het.
Dit sal help as sy vriendinne het wat haar kan ondersteun. Moedig haar andersins aan om vriende te maak. Byt vas, bly positief, betrek haar sagkens, vermy kritiek. Werk sag met haar, haar selfbeeld is broos. Moenie kwaad of ongeduldig word nie, moenie polisieman speel nie, want dan gaan sy haar net teen jou verset. Glo in haar, sodat sy weer in haarself kan glo.

 

Ons praat seks

VRAAG
Ek het onlangs op ’n partytjie vir stout goedjies ’n vibrator aangeskaf. Ek wil aan my man voorstel dat ons dit gebruik as ons liefde maak, maar ek is bang hy voel seergemaak. Sal dit nie lyk asof hy nie goed genoeg is nie? Ons sekslewe is bevredigend, maar nou nie juis opwindend nie. En as ek dit op my eentjie gebruik, is ek nie dan ontrou aan hom nie?


 

Dr. Elna McIntosh

seksuoloog en radio- en TV-persoonlikheid van Johannesburg

 

ANTWOORD
Kommunikasie is die mees basiese sekshulpmiddel. Geen masjien, battery, smeermiddel of Oosterse speserye gaan ’n verskil maak as jy en jou man nie met mekaar kan praat nie. Dink aan jou vibrator as ’n speelding. Jy kan dit dalk in ’n sensuele boksie sit saam met ’n volstruisveer, satyn of jou gunsteling-kerse. Gee dit ’n naam: Só is dit makliker om daarmee “bevriend” te raak. Ontmoet “Dolfie die dolfyn”, ’n goeie vriend. “Dolfie“ kan jou en jou man se sensuele plesier verhoog.
Onthou: Dit vervang nie jou man nie. Begin om dit oral oor jou en sy liggaam te gebruik. As jy een van die nuwe Pocket Rockets met al die byvoegsels het, probeer sommer almal. Konsentreer op die plekke waar dit vir jou man lekker is, soos die groot spiere in die nek. Wees versigtig as jy dit op sy genitalieë gebruik. Die skaambeen is ’n veilige plek om te begin. Wys ook vir hom waarvan jý hou. Hy kan nie raai watter spoed, druk of hoek jy verkies nie. Hy het nie aangebore sintuie om jou unieke plesiersones uit te snuffel nie. As julle “Dolfie“ gedurende gemeenskap gebruik, probeer om posisies te kry wat vir julle albei gemaklik is. Of besoek ’n vroue-vriendelike winkel, bv. Lola Montez. Webblad: www.lolamontez.co.za