Diverse

Leef 100%

Leef 100%

is ’n raadgee-rubriek spesiaal vir jou. Ons paneel kenners sluit van ’n dokter en berader tot ’n voorligtingsielkundige en SARIE-leser in. Hulle sal jou kwelvraag vanuit hul eie perspektief beantwoord. Daarby bekyk ’n bekende seksuoloog intieme sake.

VRAAG
My man wil nie erken hy het ’n drankprobleem nie. Hy drink net sekere tye van die week, maar dan sommer ’n bottel op ’n slag – en die moeilikheid begin. Hy skel my uit as ’n slegte vrou en ma. As hy nugter is, gee hy drank die skuld. Dis nooit sý skuld nie. Die hele huis word ontwrig. As hy nie drink nie, gaan dit goed. Maar ek is moeg vir telkens vergewe. Ek oorweeg dit om te skei, maar ter wille van die kinders bly ek.

 

James de Villiers

Voorligtingsielkundige en hipnoterapeut van Kaapstad met ’n belangstelling in emosionele volwassenheid

 

ANTWOORD: Daar is goed en sleg in elke huisgesin. Maar hoe verder die twee pole uitmekaar beweeg, hoe meer disfunksioneel word só ’n gesin – goeie mense, maar wat al hoe meer magteloos en onseker word. Jy is nie gelukkig binne die verhouding nie, maar wil ook nie loop nie. Ek dink jou gesin het disfunksioneel geword.
Die probleem is dat ’n mens daaraan gewoond raak om so te lewe – selfs afhanklik daarvan raak. Jou situasie sal nie vanself verbeter nie. Jy moet professionele hulp soek, sodat jy gehelp kan word om die regte besluite te neem. En dis ’n proses, want jy val gedurig in die gat om jou eie besluite te bevraagteken.
Jy het hulp nodig, om eerstens van een ding seker te wees: Dat jy geliefd is. Dis ten diepste ’n spirituele ervaring. Jy moet aandag gee aan dié ervarings en persepsies uit jou kinderjare wat maak dat jy jouself bevraagteken – en sulke gedrag van jou man teenoor jou toelaat.
Jy moet grense kan stel. Stel liefdevol maar ferm ’n ultimatum aan jou man om alleen én saam met jou vir terapie te gaan. As dit nie werk nie, moet jy ’n keuse maak. Dit is nié tot die voordeel van jul kinders om só groot te word nie.

 

 

 

 

Truida Heymann

Kaapstadse sielkundige berader en skrywer van boeke oor selfkennis

 

ANTWOORD: Jy word as ’n alkoholis beskou as jy met jouself of vriende en familie oor drank begin onderhandel. Volgens Alkoholiste Anoniem (AA) is die erkenning dat jy ’n probleem het en jou magteloosheid daarteenoor die eerste vereiste vir ’n pad na herstel. Maar ons lewe in ’n samelewing waar drankmisbruik in so ’n mate as normaal beskou word dat dit alkoholiste se ontkennings en rasionalisering versterk.
Wat kan jy doen om jou man se oë oop te maak? Jy moet sy gemaksone skud, sodat hy by ’n kliniek of AA kan aanklop. Die ideaal is dat jy aan hom verduidelik dat jy en die kinders nie langer in dié omstandighede kan leef nie – en dat julle van tafel en bed skei. Maar dit gaan moed van jou verg! Onthou: As ’n mens ’n stap doen wat helend vir jou psige is, bevorder jy ook die groei en heling van dié naaste aan jou.
As jy sukkel om in rat te kom klop by ’n terapeut aan om vas te stel waarom jy nie dié vernietigende patroon kan breek nie. ’n Mens sukkel soms om ou gedragspatrone te verander. Dalk het jy gewoond geraak aan die rol van redder of slagoffer. As ’n mens egter die regte stappe doen, word jy deur die lewe gehelp. Jy verdien dit om gelukkig te wees.

 

 

Dr. Linda Friedland

Johannesburgse geneesheer met ’n holistiese perspektief, openbare spreker en skrywer van Self – die essensiële gesondheids- en lewensgids vir vandag se vrou (Tafelberg, 2005)

 

ANTWOORD: Jy lewe in baie moeilike omstandighede. Jou man het beslis ’n ernstige drankprobleem. En ja, met verslaafdes wil jy graag die “werklike mens“ skei van sy gedrag as hy onder die invloed van drank is. Maar jou man weier om te erken dat hy ’n probleem het. En erger: Hy aanvaar glad nie verantwoordelikheid vir sy skadelike gedrag nie.
Boonop ly jou kwesbare kinders ook onder sy gedrag. Jy sê jy is moeg daarvoor om jou man te vergewe. Dalk moet jy dit deeglik met ’n terapeut deurtrap of jy die punt bereik het waar jy seker is dat jy wil skei. As jy dit goed deurdink het en seker is dis wat jy wil doen, is daar geen rede waarom jy jou kinders langer aan sulke vernietigende omstandighede moet blootstel nie. Hulle sal baie veiliger voel in ’n voorspelbare, warm en veilige omgewing met jou as enkelouer. Dis vir hulle beter dat een stabiele, liefdevolle en “veilige“ ouer vir hulle sorg as ’n omgewing waarin hulle angs en ‘n gebrek aan sekuriteit beleef.

 

Hantie Olivier

SARIE-leser van Roodepoort

 

ANTWOORD: Dit moet baie moeilik vir jou en die kinders wees. Dis beslis ook nadelig vir hulle om te sien hoe pa op ma skel – met alkohol as “verskoning”. En dan raak dit al hoe moeiliker vir jou om hom maar weer te vergewe en liefdevol op te tree.
Dit klink of jou man baie onderdrukte woede het. Miskien is hy van sy kinderdae af nooit toegelaat om ook seggenskap te hê nie. Nou het hy alkohol nodig om “sterk te voel“, sodat hy uiting aan al sy opgekropte emosies kan gee. Só kan hy sy sê sê, maar later alle verantwoordelikheid vir sy woorde ontduik. Dis mos nie hy wat die vreeslike goed kwytgeraak het nie, dis die drank!
Probeer om ’n platform te skep waar hy kan praat oor sy emosies en die goed wat hom pla. Skep geleenthede waar julle twee alleen kan wees om in mekaar se oë te kyk en gevoelens te deel. Luister op ’n liefdevolle manier na hom sonder om beledig te voel of te verdedig. Wys hom jy gee regtig vir sy mening om en dat jy hom as mens hoog ag.
Ek weet jy voel verontreg en nou moet jy hom al weer liefde en aandag gee, maar daar is nie ’n ander manier nie. Dit sal goed wees as julle ’n berader besoek wat jul albei leiding kan gee.

 

 

 

 

 

Ons praat seks

VRAAG: Ons jaarlikse seevakansie lê voor en my man het hoë verwagtinge – hy sien dit as ’n soort wittebrood. Vakansies wakker sy seksuele aptyt aan. Dit demp myne. Want ek sal weer heeldag handdoeke moet uitskud, kos maak, regstaan vir hom, die kinders en sy ouers. Wie is dan nog lus vir bedkaperjolle? Wat my betref, kan ons net so wel by die huis bly. Want my verpligtinge word nie minder nie.

 

 

 

Dr. Elna McIntosh

Seksuoloog en radio- en TV-persoonlikheid van Johannesburg

 

ANTWOORD: Vakansies kan ’n moeilike tyd vir gesinne wees – en ’n potensieel negatiewe uitwerking op ’n paartjie se sekslewe hê. Dis veral so as familielede, soos sy ouers, betrokke is. Ek kan verstaan hoekom jy nie eens aan seks wil dink nie. Dit klink ook asof jy opstandig voel omdat almal met vakansie is, net nie jy nie. Seks is dalk nie die probleem nie. Jy voel dalk jy word as vanselfsprekend aanvaar, of daar is ander probleme.
Dis dalk tyd dat jy openlik met jou man gesels, hom laat verstaan hoe jy oor die komende vakansie voel sodat julle eenstemmigheid daaroor kan bereik. Seks is nie ’n Olimpiese sport nie en het dus nie ’n telkaart nodig nie. Gebruik eerder die geleenthede tydens die vakansie om weer gehaltetyd saam met jou man deur te bring. Gaan stap langs die see en hou hande vas. Onthou: Jou grootste seksorgaan sit tussen jou ore – jou brein. Dis só ’n negatiewe benadering as jou houding al klaar is: “O, nee, tog nie weer seks nie.” Sien jou skoonouers as ’n plesier eerder as ’n las, want hulle kan die kinders een aand oppas terwyl julle soos ’n jong paartjie gaan rinkink.