Diverse

Leef 100%

Leef 100%

is ’n raadgee-rubriek spesiaal vir jou. Ons paneel kenners sluit van ’n dokter en predikant tot ’n voorligtingsielkundige en SARIE-leser in. Hulle sal jou kwelvraag vanuit hul eie perspektief beantwoord. Daarby bekyk ’n bekende seksuoloog intieme sake.

VRAAG
Ek is 21 en het ’n paar maande gelede, ná ’n vreeslike ervaring, ’n einde aan my lewe probeer maak. Die Here het egter ’n “engel” gestuur om my te red. Daarna het ek soos ’n lafaard gevoel en ek haat myself nou nog. Ek is nie lus vir die lewe nie en die toekoms lyk hopeloos. Ek neem anti-depressante, maar dit help nie. Ek wil nie meer so voel nie. Ek wil weer gelukkig wees, respek vir myself hê, ’n loopbaan volg. En 100% lewe!

James de Villiers

Voorligtingsielkundige en hipnoterapeut van Kaapstad met ’n belangstelling in emosionele volwassenheid

 

ANTWOORD: Bewustelik wil jy 100% lewe, maar onbewustelik leef jy 50/50 – ’n “lewende dooie”. Die verlede, hede en toekoms is donker. Al die emosies, gedagtes en liggaamlike reaksies van die ervaring is nog in jou onderbewuste gebêre. Om daarmee saam te leef was vir jou erger as die dood. Dis menslik om so te voel. Die Here het jou gehelp en jy het dit herken as ’n “engel” – ’n bewys dat jy eintlik wíl lewe. Maar nou leef jy met selfhaat. Ek dink jy is diep binne-in jou skaam. Jy dink jy is nie goed genoeg om 100% te lewe nie. Nou is jy vasgevang tussen al jou onderdrukte emosies en jou selfverwerping.
Die depressie en selfhaat kan ’n onbewustelike beskermingsmeganisme van die onderbewuste wees – wat jou teen die seerkry beskerm, maar ook van ’n beter lewe weerhou. Die pad na ’n 100%-lewe loop déúr die pyn heen. Dis tog wat die kruisdood van Jesus beteken. Daarom beveel ek sterk aan dat jy ’n sielkundige gaan spreek (oorweeg ’n kliniese hipnoterapeut) om hierdie ervaring te konfronteer. Kontak die Suid-Afrikaanse Instituut vir Kliniese Hipnose by 012 997 7173, of vra jou dokter vir ’n verwysing. Jy kán beter lewe.

 

Marieke Brand

SARIE-leser


ANTWOORD: Vergewe jouself eerstens omdat jy nie meer die lig kan sien nie. Dié trauma het jou tydelik oorweldig: Ons is broos en dis juis wat ons méns maak. Wees eerder dankbaar dat die engel daar was. En voel goed omdat jy klaar ’n ent op die pad na ’n gelukkige, sinvolle lewe gevorder het.
Dis ’n moeilike pad en daar sal donker dae wees. Gebruik al die hulp wat jy kan kry – sommige ervarings is te erg om alleen te bowe te kom. Vat een dag, en een uitdaging, op ’n slag. Moenie met jou seer baklei en dit gesond probeer dwing nie, gun jouself die tyd en troos wat jy nodig het. Hou aan met die antidepressante totdat jy die regte medikasie en dosis neem en sterker voel. Begin dan om die ervaring te verwerk.
Dis swaar, maar as jy dit onverwerk wegbêre, gaan dit altyd op loer lê vir ’n weerlose oomblik waarin dit kan toeslaan. Kry berading, praat met jou vriende, sluit by ’n ondersteuningsgroep aan. Jy was die magtelose slagoffer van ’n negatiewe ervaring. Maar net jy kan besluit of jy ’n slagoffer gaan bly – of gaan terugbaklei. En dalk kan jy eendag vir iemand anders ’n “engel” in haar/sy donker uur wees.

 

Dr. Linda Friedland

Johannesburgse geneesheer met ’n holistiese perspektief, openbare spreker en skrywer van die boek, Self – die essensiële gesondheids- en lewensgids vir vandag se vrou (Tafelberg, 2005)

 

ANTWOORD: Jy beleef een van die lewe se moeilikste tye: Die gevoel dat jy liefs sou wou doodgaan. Daar ís hulp en dit kán beter met jou gaan. Jy kán gelukkiger voel, selfrespek hê en met ’n loopbaan afskop.
Die eerste ding wat jy moet doen, is om dadelik jou dokter te besoek. Soms, as jy selfmoordneigings het, voel jy so magteloos oor jou besluite dat jy nie meer helder kan dink nie. Maak dus seker dat jy so gou as moontlik hulp kry. As die antidepressante nie help nie, kan dit wees dat jy dit nog nie lank genoeg neem nie – dit kan tot ses weke duur voor jy die uitwerking voel. Of jou dokter moet dalk vir jou ’n ander soort voorskryf, of iets by jou bestaande voorskrif voeg.
Ek stel voor dat jy gereeld ’n sielkundige of maatskaplike werker besoek om jou deur dié moeilike tyd te help. Jy moet bly hoop en ook die ondersteuning van liefdevolle mense om jou – jou gesin, vriende of selfs kerkgroep – gebruik.

 

Dr. Johan Pienaar

Predikant, NG gemeente Riviera, Pretoria, en moderator: sinode van Noord-Transvaal

 

ANTWOORD: Jy sê nie in watter gedaante die “engel” na jou toe gekom het nie, maar dis nie belangrik nie. Die Here kom op verskillende maniere (’n mens, boek, besondere gebeurtenis, getuienis, erediens, ens.) na mense toe. Hy sê egter vir almal dieselfde: Jy is vir Hom kosbaar en Hy het ’n besondere plan met jou lewe.
Almal wat met jou praat, alles wat jy lees en wat met jou gebeur, sê een van twee dinge. Aan die een kant is daar die bose, die leuenaar wat prentjies van jou foute, mislukkings en onvervulde drome aan jou lewensmuur ophang, en wat wil hê jy moet glo dis hoe jy regtig is. Vir geluk en groei moet jy met jou hele menswees op die ander Stem begin fokus. Die Een wat sê: Jy is uniek, jy is spesiaal, daar is ’n môre vol beloftes wat op jou wag, Ek is aan jou kant.
Ongelukkig raak die Stem dikwels in die geruis van ons lewe weg. Maar as jy jouself inspan om dit te hoor, gaan dit jou lewe verander. Ek lees nou die dag agter op iemand se leerbaadjie: God made no Junk. Dit geld vir jou ook!

 

Ons praat seks

VRAAG: Ek het ’n sterk libido – my man s’n bestaan egter feitlik nie. Hy weier om te aanvaar dat die fout dalk by hom kan lê en sê dis abnormaal om elke dag seks te wil hê. Een keer per maand is vir hom genoeg, en dan soms ook nog onder protes. My morele waardes weerhou my daarvan om rond te slaap. Ek oorweeg dit nou ernstig om te skei.

 

Dr. Elna McIntosh

Seksuoloog en radio- en TVpersoonlikheid

 

ANTWOORD: Die vraag is: Wat is normaal? Maar in julle geval is dit belangrik om te erken dat die situasie julle albei ongelukkig maak. Jy voel jy moet altyd smeek, en hy is moeg vir jou gekla. Julle moet verstaan dat daar baie mediese redes vir ’n verlaagde seksdrang is. Hy moet dus deeglik ondersoek word deur ’n uroloog of algemene praktisyn met ’n belangstelling in seksuele gesondheid. Sy dokter kan die nodige bloedtoetse doen. Daar kan ook verskeie ander redes wees hoekom hy so voel, soos ’n basiese ongelukkigheid met die huwelik. Julle het dalk van mekaar af weggedryf, of hy voel hy word as vanselfsprekend aanvaar. Julle baklei dalk gereeld en kraak mekaar met lelike woorde af. Daar kan probleme wees met geld, familie of stres by die werk. Of hy het dalk ’n buite-egtelike verhouding. Lees gerus die volgende selfhelpboeke: The relate guide to sex in loving relationships deur Sarah Litvinoff (Vermilion, 2001), en Seven weeks to better sex deur prof. Domeena Renshaw (Westcom Press, 2003).

 

Hulplyne:
SA Sexual Health Association 0860 10 02 62, Bayer Hulplyn 011 921 5042 of www.sex4life.co.za
Seksklinieke: Disa-kliniek in Sandton: 011 787 1222, Men’s Clinic International in Pretoria: 0860 36 28 67