Diverse

Leef 100%

Leef 100%

is ’n raadgee-rubriek spesiaal vir jou. Ons praat seks Ons paneel kenners sluit van ’n dokter en sielkundige berader tot ’n hipnoterapeut en SARIE-leser in. Hulle sal jou kwelvraag vanuit hul eie perspektief beantwoord. Daarby bekyk ’n bekende seksuoloog intieme sake.

VRAAG
‘Ek het in ’n huis grootgeword waar my ma en pa albei gedrink het. Daar was nooit geld vir enigiets anders as drank nie. Kos, klere en ander lewensnoodsaaklikhede het tweede gekom. Dis vir my baie traumaties as my man sy tweede of derde glas wyn by ’n partytjie skink. Ek word deur paniek oorweldig, maar is terselfdertyd ook woedend. Sê nou hy raak ook verslaaf? Hy sê dat ek oorreageer en dit veroorsaak konflik. Hy is ’n goeie man, maar ek sou verkies het dat hy glad nie drink nie.’

Dr. James de Villiers

Voorligtingsielkundige en hipnoterapeut van Kaapstad met ’n belangstelling in emosionele volwassenheid


ANTWOORD: As jou man gereeld meer as drie glasies wyn by ’n partytjie drink, kan hy sogenaamde funksionele alkoholmisbruik ontwikkel. Dit beteken dat hy sulke tye emosioneel “beter” voel en funksioneer. Jy sal dan by ’n sielkundige moet gaan aanklop. Maar ek wil op jóú fokus. Jy het in ’n disfunksionele huis grootgeword, wat gekenmerk is deur innerlike konflik, magteloosheid en manipulerende gedrag. Jy sukkel ook om grense te stel en oorreageer van die een uiterste tot die ander: Byvoorbeeld van selfbejammering, blamering, skuldgevoelens, onttrekking of konflikvermyding tot aggressie. Jy vertrou naderhand nie meer die vrede nie, verwag die ergste en bevraagteken geluk en plesier.
Jou man se alkoholgebruik is die sneller vir dieselfde emosies (onder meer vrees en woede), wat jy as kind ervaar het, behalwe dat jy nou volwasse is en makliker vir jouself kan opstaan.
Belê in jou eie, huweliks- en gesinsgeluk: Besoek ’n sielkundige om die ervarings van jou kinderjare deur te werk, jou emosies beter te hanteer en jou eiewaarde en innerlike krag terug te eis. Vra jou man se begrip en betrek hom by die terapie indien nodig.

 

 

 

 

 

 

Truida Heymann

Kaapstadse sielkundige berader en skrywer van boeke oor selfkennis

 

ANTWOORD: Aggressie is ’n verdedigingsmeganisme om jouself teen seerkry te beskerm. Maar jy kan dié “branders“ nie net oor jou man laat breek nie – die heftigheid daarvan gaan skade aanrig.
Praat met die weerlose kind in jou. Vertel haar dat sy nie meer soos destyds aan gevaar uitgelewer is nie, dat jy nou daar is om haar te beskerm. Jou sterk emosies wys dat daar nog traumatiese herinneringe is wat ontsluit moet word. Die ideaal is om dit deur te praat in die veilige ruimte wat terapie skep. Die terapeut word ’n getuie van en gee erkenning aan jou kleintydse lyding en die omvang van jou verlies. Dit kan beteken dat jy tydelik baie woedend vir jou ouers is. Maar as jy die trauma eers deurgewerk het, sal dit jou daaglikse lewe minder knaend ontwrig. As daar nie ’n terapeut beskikbaar is nie, kies ’n betroubare en empatiese sielsgenoot. Verduidelik jou weerloosheid aan jou man. Onthou: Enige vorm van blaam kan kommunikasie saboteer. Maak seker hy verstaan met watter gevoelens jy worstel. Luister ook na sý gevoelens. Die kans is goed dat dit tog gevoelens van deernis en bedagsaamheid by hom sal wakker maak.

 

 

Dr. Linda Friedland

Johannesburgse geneesheer met ’n holistiese perspektief, openbare spreker en skrywer van die boek, Self – die essensiële gesondheids en lewensgids vir vandag se vrou (Tafelberg, Julie 2005)


ANTWOORD: Dis heeltemal toepaslik dat jy só oor die gebruik van alkohol voel. En as iemand na aan jou, veral jou man, dit drink, wakker dit al jou vrese en angste uit die verlede aan. Jy projekteer al die probleme uit die verlede op jou realiteit nóú – en is bekommerd dat daar nie geld vir noodsaaklikhede gaan wees nie. Dat die lewe inderdaad na daardie aaklige verlede sal terugbeweeg.
Maar jy kan hom nie dwing om op te hou drink nie, selfs al sal dit jou beter laat voel. ’n Paar sessies in terapie sal julle albei help om jou vrese beter te verstaan. En vir jou om die verlede van die hede te skei.
Dis jou man se reg om twee of drie glase wyn op ’n partytjie te drink. Daar is ook niks mee verkeerd nie. Dit gaan oor veel meer as dit en jy moet dit ook in terapie deurwerk.

 

 

Hantie Olivier

SARIE-leser van Roodepoort

 

ANTWOORD: Ek voel jammer vir jou. Omdat jy as kind met so min sekuriteit moes leer oorleef, het jy waarskynlik baie onsekerhede. Hierdie is maar net die oortjies van die seekoei.
Die goeie nuus is dat jy nie die res van jou lewe dié vreeslike erfenis hoef saam te sleep nie. Jy het klaar die grootste slaggat oorkom waarin kinders uit so ’n huis maklik val – jy het ’n man gekies wat nie soos jou pa is nie. En jy is nie soos jou ma nie. Sê dit daagliks vir jouself totdat jy dit glo. “Ek kies anders as my ouers. My lewe is nie soos hulle s’n nie.“
Het jou man hom al ooit soos jou pa gedra? Onthou, hy ís nie jou pa nie. Hy gaan ook nie soos jou pa word nie. Jy hoef nie meer bang te wees nie. Jy het ’n ander lewe gekies. Laat jou man in vrede nou en dan wyn drink, want hy is ’n goeie man. Hy is nie jou pa nie. Onthou dit elke keer as jy bang raak.

 

 

Ons praat seks

VRAAG: Ek het op verskeie vreemde telefoonnommers op my man se selfoonrekening afgekom. Ek het dit geskakel en by gesellinklubs uitgekom. Ek het voorheen nie gedink daar skort iets met ons sekslewe nie, maar twyfel nou. Hoekom sal hy anders ’n behoefte aan dié soort vrou hê?

 

Dr. Elna McIntosh

Seksuoloog en radio- en TVpersoonlikheid

 

ANTWOORD: Dink goed wat jy wil hê voor jy met jou man hieroor praat. Wil jy hê dat hy te alle tye getrou aan jou moet wees? Wil jy energie insit om jul intieme verhouding weer op dreef te kry? Wil jy hê julle moet vir berading gaan oor sy ontrouheid? Verstaan jy wat veroorsaak dat jou man jou kul? Wil jy daarmee saamleef, of nie? Want dit lyk asof dit presies is wat jy tot dusver gedoen het.
As jy besluit het waar jy staan en hoe jy voel, sal jy duidelikheid kry oor wanneer jy met hom daaroor moet praat. Verduidelik dat jou lae seksdrang en onwilligheid om seks te hê regstreeks met sy rondlopery verband hou. Vertel hom hoe dit jou laat voel. Verduidelik die negatiewe uitwerking wat dit op jul huwelik het. As hy steeds met sy rondlopery aanhou, moet jy jou keuses oorweeg. Berading om die huwelik te red en ruimte vir ’n kompromie, ’n egskeiding, of ’n huwelik sonder seks? Hy moet jou gesondheid, gevoelens en jul huwelik respekteer. Praat daaroor en trap dit deeglik deur. As julle nie doeltreffend kan kommunikeer nie, besoek ’n berader as tussenganger.