Diverse

Leef 100%

Leef 100%

is ’n rubriek spesiaal vir jou. Ons paneel kenners – van ’n predikant en sielkundige tot ’n dokter en oopkop SARIE-leser – bekyk jou kwelvrae vanuit hul eie perspektief en gee raad.

VRAAG
‘My man ly aan kliniese depressie. Die een anti-depressant ná die ander word vir hom voorgeskryf, sonder sukses. Terapie help ook nie. Ek is 31 en wil met ’n gesin begin, maar hoe maak ’n mens ’n kind in dié omstandighede groot? Alles is vir hom ’n krisis: Van die grassnyer wat breek tot geringe probleme by die werk.
Ons sosiale en intieme lewe het tot stilstand gekom en ons baklei aanmekaar. My een helfte wil loop, maar ek voel so oneindig jammer vir hom. En dalk is ek ook nog lief vir hom.’

 

Dr. James de Villiers

Voorligtingsielkundige en hipnoterapeut van Kaapstad met ’n belangstelling in emosionele volwassenheid

 

ANTWOORD: Ek kan hoor jy beleef ’n sterk innerlike konflik tussen jou emosies en behoeftes. Jý is verantwoordelik vir hoe jy jou emosies en behoeftes hanteer. Maar jou man is medeverantwoordelik vir jul huwelik, ongeag sy depressie. Hoe jy jouself nóú handhaaf, is bepalend hoe jy dit in die toekoms gaan doen, ongeag of dit met of sonder jou man en ’n kind is. Vertel hom kalm en eerlik hoe jy voel en wat jy begeer, ook van jou onsekerheid en bekommernisse oor jul huwelik. As jy daarmee sukkel, besoek ’n sielkundige of berader alleen of saam met hom.
Het hy al ’n ander soort psigoterapie oorweeg? Soos hipnoterapie, want dit kan wees dat die depressie ’n be skermingsfunksie begin kry het, wat hy nog nie bewustelik kan herken en erken nie. Hoe meer gereeld en eerlik jy jou emosies en behoeftes aan hom oordra, hoe duideliker sal dit word of hy in ’n bevredigende mate daarin sal kan voorsien. As hy nie kan nie, moet jy besluit of jy gaan bly of skei. Onthou, daar sal altyd hartseer in die lewe wees. Die vraag is met watter tipe hartseer jy kan saamleef: As jy voel jou lewe word deur sy emosies beheer, of as jy getrou is aan jouself en sélf jou lewe leef.

 

Dr. Linda Friedland

Johannesburgse geneesheer met ’n holistiese perspektief, openbare spreker en skrywer van die boek, Self – die essensiële gesondheidsen lewenstylgids vir vandag se vrou (Tafelberg)

 

ANTWOORD: Ek verstaan hoeveel jou man se depressie jou seermaak. Maar jy moet dinge hier van mekaar skei. Die eerste: Die weerstandige aard van sy depressie. Die tweede: Is jy steeds lief vir hom en bereid om hard te werk om die huwelik te red? Depressie is soms moeilik om te behandel en daar word dikwels baie terapieë probeer voordat een gevind word wat werk. As dokter beveel ek mense aan om vir ’n tweede en derde mening te gaan. Maar dit neem tyd vir elke soort medikasie en terapie om sy werk te doen. Of jy moet loop, gaan baie selfondersoek verg. As jy bly net omdat jy jammer vir hom is, gaan jy uiteindelik baie bitter en gegrief voel. Dit sal help om na ’n goeie berader te gaan, sowel as om baie eerlik met jouself te wees. Jy is geregtig op ’n bevredigende seks- en sosiale lewe, asook ’n huis sonder konflik. Dit klink of jy inderdaad nog lief vir hom is en jouself deur dik en dun aan die verhouding verbind het. Dit het baie deernis en deursettingsvermoë van jou kant geverg. Maar wees getrou aan jouself en baie eerlik en duidelik oor jou gevoelens en toekoms.

 

Dr. Johan Pienaar

Predikant, NG gemeente Riviera, Pretoria, en moderator: sinode van Noord-Transvaal

 

ANTWOORD: Dis belangrik dat jy jou begeertes en vrese met jou man deurpraat. Iemand beskryf depressie as ’n “kommunikasie-dief”. Die depressiewe mens is dikwels nie in staat om sy/haar werklike gevoelens te verbaliseer nie. Jy is dalk bang dat dit sy depressie sal vererger as jy eerlik en openlik praat, maar dis juis wat jy móét doen.
Dis natuurlik ’n spesifi eke soort waarheid wat hier ter sprake is. Paulus beskryf dit in Efesiërs 4:15 as waarheid wat met liefde omhul word: “Omdat ek jou liefhet, kan ek nie anders as om die waarheid te praat nie.”
Kahlil Gibran, die bekende Oosterse filosoof, beskryf dit só: “Jou lewe is ’n rivier van ys en my woorde die vlam van liefde. Wanneer ek jou rivier nie gesmelt kry nie, is dit omdat my vlam nog nie warm genoeg is nie!”
Dié spesifieke liefdeswoorde onthou die goeie tye: “Daar was in die verlede tye waarin ons dit reggekry het.” Dit bring hoop: “Ons kan dit weer regkry.”
En moedig hoop by die ander een aan: “Wat dink jy kan ons doen om dit reg te kry?”

 

Marieke Brand

SARIE-leser

 

ANTWOORD: Die vroom antwoord is: Aanvaar hom en ondersteun hom. Maar wat vra dié huwelik van jou? Jy gaan altyd sterk moet wees. Jou man prakties, emosioneel en sosiaal moet dra (en dalk geldelik ook, as hy medies ongeskik verklaar word).
As julle ’n kind het, sal jy hom moet beskerm teen die eise wat kinders stel. Dit alles sonder om woedend of vol selfbejammering te wees. Jy voel half lus om te loop. Maar jy moet ook besef hoe moeilik dit gaan wees. Jy gáán skuldig voel, jy gáán deur sommige mense veroordeel word. En jy gaan alleen wees. Jy moet besef jou man is nie net van jou afhanklik nie, jy is ook van hom afhanklik: Hy maak jou nodig en nuttig. Jammerte is nie ’n grondslag vir ’n huwelik nie. Dit vat ook nie die woede weg nie – julle baklei reeds gedurig.
Maar jy is dalk nog lief vir hom. Natuurlik weet jy nie watter kant toe nie. Daarom móét jy hulp kry. ’n Berader kan nie vir jou sê wat om te doen nie, maar jou wel ondersteun, help om jou emosies beter te verstaan, jul situasie te evalueer en positiewe veranderinge in jou lewe voor te stel – ongeag wat jy besluit. Iets wat jy nou dadelik kan doen: Bel ’n paar ou vriende en reik na ander mense uit.

 

Ons praat seks

VRAAG: My man (38) het ses maande gelede twee weke lank anti-depressante geneem en is sedertdien impotent. Voor dit was ons slaapkamerlewe warm. Maar die impotensie verdwyn sporadies en dan is ons intiem. Hy wil nie daaroor praat nie. Ek vermoed daar is ’n ander vrou in sy lewe.

Ivy Sutton

Pretoriase motiveringspreker en aanbieder van “Geniet jou man“-praatjies

 

ANTWOORD: Anti-depressante kan jou libido ondermyn, maar ses maande gelede? Moedig hom aan om ’n dokter te gaan spreek, want dalk skeel daar iets fisieks.
Gaan saam: Só wys jy hom julle is saam in die ding en spaar jy hom die verleentheid om jou later te vertel wat die dokter gesê het. Moedig hom aan om te oefen. Dit help met die bloedsomloop en dus om ’n ereksie te kry en te behou. Hoekom dink jy daar is ’n ander vrou in sy lewe? Gee hy skielik baie aandag aan sy voorkoms, gaan hy eensklaps dikwels op sakereise? Wat is die kans dat dit net jou verbeelding is?
Sê vir jouself jý is die vrou in sy lewe en gee aandag aan sy seksuele behoeftes. Begin by die klein dingetjies. Hoe lyk jou onderklere-laai? Vol vervelige, beige nommers, groot bloomers en ander passion killers? Het jul sekslewe ook in vaalheid verval? Wees meer kreatief in die slaapkamer. Lees die boek A celebration of sex deur dr. Douglas E. Rosenau (Thomas Nelsonuitgewers, 1994).