Diverse

Leef 100%

 

Leef 100%

is ’n raadgee-rubriek spesiaal vir jou. Ons paneel kenners sluit van ’n predikant, dokter, sielkundige tot ’n SARIE-leser in, en hulle sal jou kwelvraag elk vanuit hul eie perspektief beantwoord. Daarby bekyk ’n bekende motiveringspreker intieme sake.

VRAAG
My man het my vir iemand anders gelos en my selfbeeld het ’n lelike knou gekry. Ek is ná vier jaar weer getroud, maar nou klim die ou spoke uit die kas.
Ek is onseker en bang – gaan dit dié keer werk? Wat as hy my ook los? Ek probeer oorkompenseer deur perfek te wees. Ek moet ook nuwe maniere ontwikkel om te kommunikeer. My eerste man kon ek subtiel manipuleer, dié keer werk dit glad nie. Dis my tweede kans en ek wil dit nie verspeel nie.

Dr. James de Villiers

Voorligtingsielkundige en hipnoterapeut van Kaapstad met ’n belangstelling in emosionele volwassenheid:

 

ANTWOORD: Jy het reeds die belangrikste stap gedoen deur jou onsekerheid en vrees vir verwerping te erken. Jou eerste huwelik het gefaal, nie jy nie. Jou eerste man se ontrouheid sê nie iets van jou nie, maar eerder dat hy nie in staat was om in jou behoeftes te voorsien nie. Maar die feit dat jy hom gemanipuleer het, sê iets van jou.
Dit klink asof jy jouself teen verwerping beskerm en liefde probeer verdien het deur jou man te beheer, óf deur konflik te vermy óf om op praktiese maniere in sy behoeftes te voorsien.
Dit raak ’n patroon en werk later nie meer nie. Dan kom die werklike (onderdrukte) emosies terug. Dikwels haal emosionele seerkry uit die verlede (van voor geboorte af) jou vanaf sowat 35 jaar in. Jy raak onseker van jouself en oor ander dinge in jou lewe – en soek die oorsaak onnodig by jouself of ander mense.
Jy verwag onbewustelik van jouself of ander mense om vir al jou seerkry op te maak. Hou op om na oorsake vir jou emosies te soek. Breek eerder die patroon van hoe jy dié emosies hanteer. Sê reguit vir jou man wat jy voel en wil hê, sonder om verskonend of verwytend te wees.

 

Dr. Linda Friedland

Johannesburgse geneesheer met ’n holistiese perspektief, openbare spreker en skrywer van die boek, Self – die essensiële gesondheids en lewenstylgids vir vandag se vrou (Tafelberg):

 

ANTWOORD: Hou op om skuldig oor die verlede te voel en fokus daarop om ’n sukses van jou huidige verhouding te maak. Manipulasie werk nie. Ook nie deur die perfekte vrou te wil wees nie. Jy soek liefde, warmte en die gevoel dat daar ’n ware verbintenis met jou man is. Wees getrou aan jouself en hanteer hom met eerlikheid en integriteit. Egtheid is waarskynlik een van die sleutel bestanddele vir ’n gesonde huwelik (en het ook ’n invloed op jou fisieke en spirituele gesondheid).
Eerlikheid en integriteit vorm ook die hoekstene van persoonlike sterkte.
As daar ’n verskil is tussen dít wat jy dink en voel, en wat jy aan jou man weergee, mislei jy jou ware self en jou liggaam. Nie net bestaan die gevaar dat jy jou man kan verloor nie, jy kan letterlik siek word.
Leer om ’n goeie luisteraar, liefderyke eggenoot en bemagtigde vrou te wees. Leer verstaan wat jy regtig nodig het. Onthou om dieselfde tyd wat jy jou maat nurture, ook na jou eie emosionele en spirituele behoeftes om te sien. Wees deernisvol met jouself – en moenie vergeet om soms pret te hê nie!

 

Truida Heymann

Kaapstadse sielkundige berader en skrywer van boeke oor selfkennis:

 

ANTWOORD: Jy besef tereg dat die probleem by jou gebrekkige selfbeeld lê, ’n gevoel van “ek is nie goed genoeg” nie.
As jy kleintyd hard moes werk vir erkenning, kom dieselfde patroon dikwels in jou huwelik voor. Jou maat moet jou dan konstant positiewe terugvoer gee. As dit om die een of ander rede negatief is, spat jou selfwaarde aan skerwe. En dalk het hy bloot met die verkeerde voet uit die bed opgestaan!
Jy moet dringend na binne kyk en die wortels van die probleem hanteer.
Jou intense vrees vir verwerping, en die gepaardgaande afhanklikheid van ’n ander mens, kan hom vasgekeer laat voel en inderdaad van jou af wegdryf.
Daar is nie ’n kortpad nie. Jy moet rou oor die verliese en emosies wat jy weens jou egskeiding moes beleef, maar ook oor die negatiewe patrone en verdedigingsmeganismes waaraan jy onwetend van kleins af blootgestel is. En uit die rouproses sal heling kom.
Die moeilikste deel is om ’n nuwe selfbeeld op te bou. Dit kan net gebeur as jy konstant positiewe terugvoer binne ’n veilige verhouding kry. Ek stel voor dat jy vir professionele hulp aanklop: Die terapeut word tydelik die objektiewe spieël wat jy kleintyd moes ontbeer. Hoe minder mens vrees, hoe minder wapens het jy nodig.

 

Marieke Brand

SARIE-leser:

 

ANTWOORD: Ek wil nog die huwelik sien wat werklik gelukkig is (en bly) omdat die een net mooi enigiets sal doen om die ander tevrede te hou!
Daar is ’n magswanbalans hier. Jy is só desperaat dat dit moet werk, jy is selfs bereid om jou identiteit op te offer. Dis goed dat jy hom nie kan manipuleer nie. Maar jy nooi hom behoorlik uit om jóú te manipuleer en te oorheers: Jy sien hom as die een met die mag om jou lewe weer te vernietig. Jy plaas hom waarskynlik in ’n posisie waarin hy glad nie wil wees nie. Boonop is dit dalk nou vir jou aanvaarbaar, maar magteloosheid word mettertyd wrokkigheid, wat in woede, selfbejammering of depressie kan ontaard. Jy dobbel met jul geluk. Want geluk vra meer as ’n huwelik wat hou. Geluk lê in die vryheid om jouself te aanvaar en uit te leef. Waag dit eerder om hom te oorrompel met die sterk en talentvolle vrou wat jy is. As jy sukkel om haar tussen die seerkry en vrees op te spoor, kry professionele hulp. Probeer om baie saam te lag, ook vir jouself en jou vrese – dit maak alles lekkerder, ligter en makliker!

 

Ons praat seks

VRAAG: Ek is onlangs vir die tweede keer getroud ná my man my vir ’n ander vrou verlaat het. Ons was tien jaar getroud en het twee kinders. Hy het jare lank ’n verhouding met iemand anders gehad. Ek voel kwesbaar. My eerste man se lyf was só bekend, nou moet ek ’n nuwe een leer ken. En my lyf is nie meer so jonk nie. Sê nou ek is (weer) nie goed genoeg nie?

Heading here

Ivy Sutton

Pretoriase motiveringspreker en aanbieder van “Geniet jou man“-praatjies:

 

ANTWOORD: Moenie die bagasie van jou eerste huwelik saamsleep nie. Leer uit jou foute en kyk vorentoe. Enige man wat sy sout werd is, wéét dat ’n vrou se lyf ná twee kinders en ’n paar winters nie meer soos ’n jong bokkie s’n lyk nie.
Onthou ook dat huweliksgeluk van meer as net fisieke aangetrokkenheid afhang. Beskou die verkenning van sy lyf as ’n avontuur. Jy sal verbaas wees hoe opwindend dit kan wees! Dis egter belangrik dat jy tevrede met jou eie liggaam moet wees.
Kies klere, onderklere en nagklere waarin jy goed voel. As jy iets aan jou gewig en voorkoms moet doen, is dit nóú die tyd. Maak jou kop oop en klim uit jou gemaksone!