Diverse

Leef 100%

Jou drome hét betekenis – al voel hulle soms deurmekaar. Gee sin daaraan met dié maklike gids.

Jy droom – elke nag.
Jy onthou dalk niks daarvan nie, of jy kan nie kop of stert uitmaak van wat jy wel die volgende oggend onthou nie.
Die droom-ontleder prof. Kobus Maree van die fakulteit opvoedkunde aan die Universiteit van Pretoria, voel sterk ’n mens kan gerus die ou Rabbynse spreukwoord onthou: “’n Droom wat nie verklaar is nie, is soos ’n brief wat nie gelees is nie.”

Dis ’n skatkis van inligting, eintlik klein toneeltjies met wenke oor jou lewe, wat jou kan help om besluite te neem, jouself beter te leer ken en jou selfs kan waarsku as jy siek gaan word. Dit kan ook die oorsprong van skeppende gedagtes wees: Volledige gedigte, die begin van ’n roman, selfs deurbrake op die gebied van die natuurwetenskap is al só gebore.

Cas van Rensburg, skrywer van Jou drome: Die onbewuste het ál die antwoorde (J.L. van Schaik-uitgewers, 2000, uit druk), sê: “Drome help ons nie net om ou wonde te genees, verkeerde opvattings reg te stel en ons verhoudings met ons geliefdes en ander te verstaan en te verbeter nie. Dikwels wys ons drome ook hoe ons vorentoe moet leef en wat ons kan verwag.”

Die antieke mense het verstaan dat hulle dikwels spesiale boodskappe bevat: Dink aan Josef, wat rykdom en status verwerf het nadat hy die Farao se drome uitgelê het.

Maar dis nou nie asof drome jou al dié dinge op ’n skinkbord aanbied nie. Drome praat in ’n taal van hul eie – jy moet dié taal leer verstaan om die verskuilde boodskap te ontdek.

Kan ek besluit waaroor ek wil droom?
Kobus Maree, skrywer van onder meer Nuwe droomboek: Verklaar jou drome (Lapa, 1997) en Praat God nog deur drome? (Lux Verbi, word herdruk), sê as jy ’n probleem het waarvoor jy net nie ’n oplossing het nie, konsentreer ’n kwartier voor jy gaan slaap hard daarop. Terwyl jy slaap, sal jou kop met moontlike oplossings “speel” – en dalk met een vorendag kom. Jy kan die probleem dalk selfs op ’n stukkie papier neerskryf. As daar enige visuele beelde by jou opkom, teken dit. Sit dit onder jou kussing. (Dis ’n manier om jou kop te fokus.)
Cas waarsku jy moenie dink ’n droom is Tarot-kaarte wat voorspellings maak nie. As jy ’n probleem het, help dit nie jy sit op ’n hopie en wag op uitkoms nie. Net so met drome. Dink diep oor die probleem na. Oorweeg al die oplossings. Span jouself in en die droom sal dalk vir jou die pad wys. Maar moenie verwag dat dit soos manna uit die hemel antwoorde gaan verskaf nie.

Hoe onthou ek hulle?
Drome is soos mis voor die son: Dit verdwyn in ’n oogwink. As jy dus wakker geskud word deur die kinders of ’n wekker se skril gelui, gaan jou drome wegskarrel. Probeer sagkens ontwaak. Lê ’n paar oomblikke voor jy jou oë oopmaak en probeer onthou wat jy gedroom het. Kobus sê as jy glad nie kan onthou nie, help dit soms om sowat tien minute te lê en dink. Soms skiet dit jou dan tog te binne. Hy voel sterk oor die byhou van ’n droom-dagboek, maar dis nie iets wat jy soos ander dagboeke gou-gou voor jy gaan slaap op datum bring nie: Jy moet te alle tye ’n stukkie papier byderhand hê vir wanneer jy daardie droom onverwags onthou. Skryf ook die konteks daarvan neer (in ’n eetplek, wanneer jy iemand bekends sien, in die dokter se spreekkamer, waar en wanneer die detail ook al na jou terugkom).
Dit kan ’n sleutel verskaf oor wat jou onbewuste aan jou wil sê. (Ons drome kom uit die onbewuste. Dis alles waarvan ons nie weet nie en maak die grootste deel van ons psigiese wêreld uit.)

  • Stel jou wekker (een met ’n sagte luitoon) twintig minute vroeër en jy gaan heel waarskynlik in die middel van ’n droom wakker skrik.
  • Nog ’n wenk is dat jy jou wekker stel sodat dit elke twee uur in die nag lui. (Hoe jy die volgende dag gaan funksioneer, is ’n ander vraag.)
  • Onthou, sit ’n notaboek en pen, of ’n bandopnemer, langs jou bed neer. Wanneer jy wakker word, skryf dadelik neer wat jy van ’n droom onthou – of neem dit op band op.

Wat skryf ek neer?
Alles! Waar was jy? Wat het jy gedoen? Wie was saam met jou? Is dit vriende of vreemdelinge? Hoe het die landskap en geboue gelyk? Hoe het jy gevoel? Wat was die stemming van die droom? Probeer die tema bepaal. Was dit ’n rolprent, wat sou die titel gewees het?

Cas sê as jy die droom glad nie kan onthou nie, probeer die stemming daar rondom herroep. Het jy wakker geword met ’n gevoel van bedreiging, of voel jy vertroos? Voel dit of ’n groot gewig van jou skouers af is?
Lê stil en baai so dertig sekondes in daardie atmosfeer. Net die feit dat jy die droom gehad het, kan deel van ’n genesingsproses wees. Dit kan ’n stresvolle situasie ontlaai, al onthou jy niks nie.

Hoe interpreteer ek dit?

  • ’n Droomdagboek is die beste manier om te leer om met jou drome te werk, wat jou persoonlike droomsimbole beteken en watter simbole en temas hulself herhaal. Cas beveel aan dat jy ná ’n paar maande die temas merk wat aanmekaar voorkom. Jy droom bv. altyd oor kos. In een droom is jy by ’n geselligheid met kos; in ’n ander een op reis, honger en jy besef jy het nie padkos nie. Vra jouself af wat kos vir jou beteken: Is jy innerlik honger? Is kosmaak vir jou sleurwerk? Soek antwoorde wat met kos verband hou. Of as jy dikwels van aggressie droom: Verwag jy altyd die negatiewe? Het daar iets negatiefs met jou gebeur?
  • Cas sê as jy jou drome ernstig opneem, sal jou onbewuste dit mettertyd vir jou duideliker maak. Hoe meer aandag jy daaraan gee, hoe makliker sal jy dit later kan “lees“.
  • As jy meer as een keer dieselfde droom het, kan jy maar weet dis belangrik. Skryf dit neer en dink daaroor. Drome wat herhaal word (sleuteldrome), is duidelike boodskappe van die onbewuste.
  • Kobus beveel aan dat jy maak of jou droom ’n toneelstuk is waarin jy die hoofrol speel. Vertolk die droom. Jy gaan verseker gou agterkom wat dit beteken.
  • Of sit gemaklik en verbeel jou jy is terug in die droom. Gaan voort daarmee en stuur dit in ’n bepaalde rigting. Gebruik dié dagdroom vir meer inligting om die droom se boodskap te bepaal. Iemand in jou droom trek bv. Jou aandag, maar jy praat nie met hom/haar nie. Verbeel jou nou jy praat met hulle. Wat sê hy/sy? Of het jy wakker geskrik voor die droom se einde? Wat sou volgende gebeur het?
  • Bespreek die droom met iemand wat jy vertrou, sê Kobus. Byvoorbeeld: Annie, ’n getroude vrou, droom ’n paar keer sy eet in ’n eksotiese restaurant. Die kos is egter vlymskerp glasstukke. ’n Vriendin sê later sy is bekommerd oor Annie se “onskuldige” etery saam met ’n ou skoolvriend. Dit blyk toe dat Annie ’n verhouding met dié man het …

Hoe verstaan ek die ‘taal’?

  • Jou drome word in jou eie private taal “geskryf”. Dis hoekom hul betekenis dikwels onduidelik is – en hoekom “droomgidse” ’n beperkte waarde het. Drome se taal is boonop sensories en visueel, en nie verbaal nie. Daar is universele simbole in drome, soos die see. Ons assosieer die see met emosies en huil sout trane as ons emosioneel geroer word. Boonop bestaan die mens self uit 88% water. Maar jy moet ook weet wat die see vir jou persoonlik beteken. Slaan dit met geweld teen die rotse, of is dit kalm en rustig? Is dit helder of troebel? Vlak of diep? As jy ’n slagoffer was van die tsoenami einde verlede jaar, gaan die see waarskynlik vir jou heeltemal ’n ander betekenis hê as wanneer jy dit met vakansie, seesand en son vereenselwig. Werk met ’n simbool totdat dit vir jóú sin maak.
  • “O, ek het gedroom jy trou!“ Klink dit bekend? Maar volgens Cas droom jy meestal van jouself, al is die mens in jou droom dan ook iemand anders. (Veral as dit iemand van jou eie geslag is.) Dus: Al droom jy van sus Hanna, is die droom se betekenis steeds op jóú van toepassing. Jy is dalk ’n babbelkous en sy stil en beskeie. Nou droom jy van haar by ’n partytjie. Sus Hanna het waarskynlik eienskappe wat jy in jouself moet ontwikkel. Droom jy van ’n baba of jong mense (veral van jou eie geslag), kan dit dui op ’n aspek van jouself wat jy nie ontwikkel het nie of ontken. Wat is dit in jouself waaraan jy aandag moet gee? ’n Vrou droom bv. twee babas sit alleen op ’n bank. Daar is geen oppasser in sig nie. Sy het met die beeld begin werk en uiteindelik insig gekry: Haar ouers het haar kleintyd emosioneel afgeskeep
  • Droom jy van ’n dier, bv. ’n hondjie wat seerkry, droom jy waarskynlik óók van jouself.
  • As jy van die dood droom, is dit waarskynlik ’n aspek van jou waaraan jy nie aandag gee nie en wat besig is om te “sterf”, sê Cas.
  • Hy waarsku dat jy nie in die droom moet “lees“ wat jy wíl hoor nie. Só het ’n kankerlyer die nag voor haar mediese uitslae ’n droom gehad. Die boodskap was dat sy geestelik moet groei. Sy het dit geïnterpreteer dat die uitslag van die toetse positief gaan wees. Dit wás positief, maar dit was nie wat die droom gesê het nie.

Kan dit die toekoms voorspel?
Beslis, sê Kobus. Ons neem voortdurend dinge waar, maar net ’n fraksie dring tot die bewussyn deur. Die onbewuste bêre dit egter en kan “wenke“ oor ’n situasie saamvoeg om ’n uitkoms te “voorspel”. Jy droom bv. jy is in ’n motorongeluk – en dit gebeur dan. Jy het waarskynlik lankal onbewustelik opgelet dat iets met jou motor skort (die remme werk bv. nie lekker nie).

Volgens Cas kan die onbewuste jou deur drome waarsku dat iets met jou liggaam skort. Luister dus as jy droom daar is fout met jou lyf. Besoek ’n dokter en gaan oor ses maande weer vir ’n ondersoek.

Kobus illustreer dit met ’n verhaal van ’n vrou wat kanker gehad het. Die dokter het haar net drie maande gegee om te leef. Sy droom toe sy kom tot op die rand van die graf, maar klim weer uit. Drie maande later was daar geen teken van die kanker nie.

’n Swanger vrou het gedroom haar baba word met ’n byl in die kop gebore. Die baba het toe inderdaad ’n breindefek gehad.

Wat is helder (lucid) drome?
Jy droom, maar is heeltyd bewus dat dit net ’n droom is. Jy kan ook die droom manipuleer. Kobus sê dis die onbewuste se manier om te sê: “Ag, ontspan!“ As jy deur mure wil beweeg, doen dit! Dis amper soos ’n psigiese vakansie.

Jy kan ook só van pynlike situasies wegkom. (Jou man is verlief op ’n ander vrou, maar in die droom hou hy jou weer vas.) Wees versigtig om dit nie te gebruik om probleme te ontken nie. As jy die realiteit omkeer, kan dit ’n aanduiding van ’n probleemgebied in jou lewe wees. Geniet dit, maar kyk die werklikheid in die oë as jy wakker word. Jy kan ook soms na jou lewe kyk asof dit ’n droom is. Jy kan selfs ’n droomgids gebruik om die simbole te ontleed. Jy sal dalk verbaas wees om te sien dat jy, besige sakevrou, eintlik desperaat op soek is na liefde, iets wat jy moeilik teenoor jouself sal erken.
Droom dus voort!