Diverse

Leef 100%

Ek baklei elke dag met die Kritikus in my, die een wat probeer om my van innerlike vrede te beroof, skryf Kobus Burger. Ses dinge help op pad na daardie vrede.

Dit is Saterdagoggend en ek eet ontbyt in ’n koffiewinkel.
Die kelnerin, wat ook soos die assistentbestuurder lyk, vra of ek souse by die warm ontbyt wil hê. Ek vra vir HP-sous. ’n Paar minute nadat die spek en eiers opgedaag het, is daar nog geen teken van die sous nie. My kos is besig om koud te word en ek beduie later in haar rigting. Halfpad tussen waar sy gestaan het en my tafel begin sy al hardop om verskoning vra.

“Ek is verskriklik! Ek is sooooo verskriklik!”

Ek glimlag vriendelik en probeer wys dat ek besef sy’t bloot vergeet. Wanneer sy later die rekening bring, is dit steeds asof sy op haar knieë voor my wil neerval. “Ek is so jammer. Ek is regtig aaklig!” herhaal sy.

Woorde wat my dae, weke later nog bybly. Nie omdat ek haar jammer gekry het nie, maar omdat ek myself so duidelik in haar skoene kon sien staan.

Haar verskoning was ’n herinnering aan my eie Innerlike Kritikus of Regter, wat met dieselfde woorde (of erger) vorendag kan kom. Die Kritikus wat soos ’n rooi-in-die-gesig weer magkorporaal bevele blaf en in jou ore skreeu hoe sleg jy is, is ’n alledaagse verskynsel. En dan wonder ’n mens: wie het vyande nodig as jy so krities teenoor jouself is?

Ek is bly ek het daardie kelnerin ontmoet, want sy het my daardie dag deeglik wakker geskud. Skielik kon ek konkreet sien in hoe ’n groot mate ek self in die pad van my innerlike vrede staan.

Om innerlike vrede te bereik klink na ’n reusagtige taak. Eerstens is dit so ’n wollerige begrip dat ’n mens dikwels nie eens mooi seker is wat dit is waarna jy streef nie. Is dit ’n gevoel van geluk en vervulling wat nie van uiterlike prestasie, besittings of ander mense se goedkeuring afhang nie? Is dit stilte, selfliefde en self-aanvaarding? Of is dit die klein bietjie rus en genoegdoening wat ’n mens ná ’n lang gesukkel kan smaak, maar dan ook gou besef dit gaan nie lank hou nie?

Ek weet baie goed wanneer ek nie oor enige innerlike vrede beskik nie. Ek ervaar stres en spanning, sukkel om te fokus en te ontspan, soek fout met alles en almal, bekommer my oor die toekoms en hoor hoe my Innerlike Kritikus soos ’n boerboel in my ore grom.

Só besluit ek op ’n naweek van beginner-meditasie. Ek eet blare en bolle wat ek nog nooit voorheen gesien het nie, en te bang is om die naam van te vra. Ons praat so min moontlik, staan douvoordag op, strek, mediteer en draal rond.

Ek neem ’n paar foto’s en beloof myself om een keer per maand terug te keer om ontslae te raak van al die struikel blokke wat tussen my en innerlike vrede staan. Dit is broodnodige salf vir die siel. Prysloos!

Die Sondagmiddag ná middagete verdaag die meditasie-studente. Terug op die hoofweg, deur die tolhek en skielik slaan iemand voor my remme aan. My hart sit in my keel en ek swets behoorlik. Ek dink sommer die ergste: ek kon dood gewees het!

Vergete is die vredesvrugte en die stilte. Soos ’n duiweltjie wat op my skouer kom sit het om my in die “ware wêreld” terug te verwelkom. En ek onthou die vrou wat gesê het as ’n mens aldag ’n stralekrans dra, sal jy later hoofpyn kry …

Wat help dit om met die een voet in die vredeswêreld en die ander in die streswêreld te staan? Om innerlike vrede na te streef as dit so kortstondig en vervlietend is?
Ek besluit toe – aangesien ek soos TV se Nutsman daarvan hou om dinge te doen – om die bul by die horings te pak.

Haal asem!
My eerste projek was om weer te begin asemhaal. Dit klink simpel en voor die hand liggend, maar as ’n mens in gedagte hou dat ons 70% van die liggaam se gifstowwe deur asemteue afskei, is dit genoeg rede om diep en bewustelik asem te haal. Ook, weens vrees en angs, is ons geneig om al hoe vlakker en hoër in die longe asem te haal, wat mettertyd tot allerhande psigosomatiese siektes kan lei.
Sodra ’n mens behoorlik asemhaal, besef jy skielik jy het nuwe energie. Energie om dinge te verander.

Droom ’n droom
Ek het my drome gaan opdiep, afgestof en ’n lys gemaak van al die dinge wat ek myself misgun het omdat ek geglo het ek het te min tyd, geld en energie.

Elke keer as ek voel ek is in ’n doodloopstraat, my werk is nie meer vervullend nie of sake is besig om te ontspoor, het ek ’n lysie gaan maak van my drome. Die geheim is om babatreetjies te gee en stap vir stap iets te doen wat uiteindelik tot die verwesenliking van die droom sal lei. Die alles-of-niksbenadering van die verlede maak dat ’n mens later nie eens die telefoongids wil optel om ’n kontaknommer vir die naaste kunsklas te kry nie.

Skoon van binne
Ewe belangrik is om goed huis skoon te maak – veral daardie huis waar die Innerlike Kritikus en sy makkers woon. Dikwels is die sienswyses van ons geliefdes en ander mense, saam met ons eie negatiewe sienings van onsself en ons vaardighede, genoeg om ons in ’n hoekie te laat kruip en wonde lek. “Jy kan niks doen sonder geld nie”, “Almal is maar ongelukkig in hul werk” en “Jy kan net ’n salarisverhoging kry as jy harder werk” is almal uitgediende sienswyses wat ek met moeite moes uitroei. Ek moes vir ’n verandering op my voorwaardes begin wen. Ons gryp so maklik na grashalms. ’n Loterykaartjie sal jou drome bewaarheid, hoor ons oor die radio en op TV. Eintlik weet ons alte goed die kaartjie waarborg nie ewigdurende geluk en innerlike vrede nie, maar ons glo dit nogtans.

Aanvaar, aanvaar
Die moeilikste was seker om aanvaarding aan te leer. Aanvaarding kom van ’n baie aktiewe plek en dis allermins om voor te gee jy word deur niks geraak nie.

Aanvaarding fokus jou energie. Daardeur vermors jy minder energie omdat jy jou oor onnodige goed bekommer. Jy aanvaar jy is in ’n doodloopstraat, draai jou motor om en ry in die teenoorgestelde rigting. Jy ry nie in sirkels rond en vra jouself oor en oor “kan dit regtig ’n doodloopstraat wees?” nie.

Vergewe, vergewe
Saam met aanvaarding kom vergifnis. Selfs al is jy kwaad. Woede is brandstof, sê Julia Cameron in The artist’s way. Dit help ’n mens van die plek waar jy nie wil wees nie, na waar jy wel wil wees.

‘Ek weet nie’
Een van die lekkerste goed wat ek geleer het, is die drie woorde: “Ek weet nie.”

Niks laat my so ontspan nie. Die soektog na antwoorde en die verwagting dat iemand vir jou sal sê hoe om dinge reg te doen raak minder belangrik. In ’n jap trap luister jy na binne en vind later jou eie antwoorde.

“Ek weet nie” help ’n mens om foute te maak, laf te wees, te speel en dinge verkeerd te doen. Want, besef jy later, so leer jy die lekkerste. Perfeksie is nie die mikpunt nie. As ek na perfeksie mik, mis ek al die afdraaipaadjies wat nie in die kaartboek aangegee word nie.

Kitsoplossings maak die lewe vervelig en smaakloos. Alles word voorspelbaar. Weg is die spontaneïteit en verrassings.

As ek ’n stralende motiveringspreker was, sou ek my ervaring seker kon verpak in vyf, sewe of tien stappe wat wonderbaarlike innerlike vrede waarborg.
Maar ek sit met ’n kwaai Innerlike Kritikus, nes die kelnerin.

Hoekom is dit so moeilik om te verander? Waarom sukkel ek so om iets goeds vir myself te doen wat vir my inner like vrede kan gee?

Dis omdat ons tweedehandse lewens leef. Ons sal eerder dinge doen wat ander gelukkig maak of wat hulle dink is reg om te doen. So word dit al hoe moeiliker om te weet wat vervulling en vreugde sal bied.

Al ken ek ook die resep vir innerlike vrede, sal die Innerlike Kritikus soveel vrees aanblaas dat ek eerder die onbeken de sal vermy. Die stemmetjie wat sê: Jy sal dit nie regkry nie. Dit is te moeilik. Jy is nie goed genoeg nie. Dit gaan in elk geval nie werk nie …

Ons almal weet hoe kan ’n CD wat vashaak ’n mens irriteer. Dieselfde geld ’n stemmetjie in jou kop.

Ek ken nie die Innerlike Kritikus lank genoeg om te weet of hy wel eendag ’n ewige slaap sal binnegaan nie.

Wat ek wel weet, is dat ek genoeg het om my aandag af te lei en van sy bangmaakstories te vergeet. Al druk die vrou dan voor my in die poskantoor in en dit voel ek wil ’n aar in my kop bars, kan ek daar en dan bewustelik begin asem haal. ’n Rukkie lank die vrede oor my voel spoel en vir die Kritikus glimlag: “Jy sou seker nooit kon raai dit gaan so maklik wees nie?”

BRONNE VIR INNERLIKE VREDE

  • Loving what is, Byron Katie, Rider, 2002
  • The 3 minute meditator: 30 simple ways to relax and unwind, David Harp saam met Nina Feldman, Piatkus, 1997
  • Change your thinking change your life, Clive Simpkins, CSSC Publications, 2003
  • Working on yourself doesn’t work, Ariel en Shya Kane, ASK Productions Inc., 1999
  • The artist’s way, Julia Cameron, Pan Books, 1995
  • Die webblad Inner Peace bevat gratis sagteware wat ’n mens help om innerlike vrede te verken. www.innerpeace.org

 

 

 

n Asemteug vir vrede

Sit gemaklik met jou rug, nek en agterkop in ’n reguit lyn. Plaas jou hande gemaklik in jou skoot, voete plat op die vloer.

 

Raak bewus van jou asemhaling en begin gemaklik deur die neus asemhaal, sonder om die asemhaling te verander.

 

Begin dan elke uitasem tel deur die volgende saggies in jou gedagtes te herhaal:

“Inasem … Een … Inasem … Twee … Inasem … Drie … Inasem … Vier …” tot by tien. Begin dan weer voor, by een.

 

Probeer om dit nie meganies te doen nie. Sê die “inasem” stadig en in pas soos jy inasem. Doen dieselfde met die nommer. As jy klaar die nommer gesê het en nog besig is om uit te asem, voltooi dit.
Gemaklik en in jou eie tyd.

 

Indien jy iewers tred verloor met die tellery, begin net weer by een. Daar is geen nut om hier perfeksie na te streef nie.

 

As daar enige gedagtes of gevoelens opkom – wat die meeste van die tyd gebeur – fokus net op die fisieke sensasie van die asemhaling en hou aan tel.

 

Dié oefening kan ewe maklik agter die rekenaar, die stuurwiel, in ’n lang ry in die bank of op enige ander stresvolle plek toegepas word.
Dis nie eens nodig om die oë toe te maak nie. Terwyl ’n mens bestuur, behoort tien tellings genoeg te wees.

 

Onthou: Aanvanklik vereis dit heelwat inspanning en geduld om die tegniek te bemeester en vir sowat vyf tot tien minute vol te hou. Maar gereelde oefening verseker dat dit ’n vaardigheid is waarsonder ’n mens later nie kan klaarkom nie.